
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Aptekerswese deur die oë van ʼn jong werkende
Deur Maryna Eksteen
As jong mens kan dit soms voel of die wêreld jou insluk wanneer jy voor een van die belangrikste keuses staan wat jy in jou lewe sal moet maak. Dit was egter nie die geval vir Jana Myburg, ‘n intern-apteker by Zuid Afrikaans Hospitaal nie. Sy het vanuit die staanspoor geweet dat haar passie by mense lê.
Jana het in Komatipoort grootgeword waar haar pa die plaaslike apteker op die dorp was. Volgens Jana het sy van kindsbeen af ‘n apteker gesien as ‘n persoon wat ander help en sodoende ‘n gemeenskap sterker maak. Jana se pa het vir ‘n geruime tyd in Nieu-Seeland gewerk en met sy terugkeer het Jana besluit om haar pa se skaduwee te wees, wat daartoe gelei het dat sy op die ouderdom van vyf jaar al rakke gepak en gewas het in die apteek. Jana vertel dat sy jare later in ‘n salon gewerk het en altyd stories gehoor het oor hoe haar pa mense in die gemeenskap bygestaan het. Jana het net daar besef dat mense, mense nodig het waarmee hulle kan gesels. “Mens kan nie alles met medikasie regmaak nie. Soms het pasiënte net iemand nodig om na hulle te luister.”
Volgens Jana is die beste deel van haar werk om die klein kindertjies in die apteek te sien wie amper oor hulle voetjies val om haar te groet. “Jy weet die antibiotika wat jy vir hulle moet gee is hond sleg, maar dat dit hulle gaan help.” Die beroep kom natuurlik met talle uitdagings, maar ‘n borrelende Jana sien die lewe as ‘n glas halfvol en is van mening dat sy in haar tyd as intern geleer het dat daar meer in haar steek as wat sy besef het.
Jana se raad aan voornemende studente wie in aptekerswese belangstel is om Wetenskap en Wiskunde op skool te neem. Volgens Jana is Biologie nie ‘n vereiste nie, maar sy beveel jong mense aan om die vak op skool te kies. Jana het haar studie aan die PUK voltooi en is van mening dat voornemende studente gereed moet maak vir baie leerwerk veral omdat aptekerswese ‘n keuringsrigting is. Die studie vir aptekerswese bestaan uit ‘n teoretiese en praktiese aspek. Volgens Jana is die teorie baie leerwerk en die beste manier om te slaag is apply bottom to chair. Jana is verder van mening dat die praktiese komponent baie uitdagend is, maar sonder twyfel die moeite werd is.
Aptekerswese is meer as net pille aan die publiek verkoop. Dit kan wissel van die maak van tablette tot navorsing. Daar is ook ‘n kliniese komponent waar studente leer hoe om bloeddruk en suiker te neem en hoe om inspuitings te administreer.
Voornemende studente kan gereedmaak vir ‘n studietydperk van vier jaar plus ‘n jaar internskap gevolg deur ‘n gemeenskapsjaar waarvoor studente by die Suid-Afrikaanse Aptekersraad (SAPC) moet registreer. Volgens Jana is selfdissipline baie belangrik. “Elke dag is my verantwoordelikheid.” Studente kan hulleself voorberei op ‘n groot sprong van universiteit na die werkplek, en volgens Jana leer ‘n mens werklik eers hoe alles werk wanneer ‘n mens in die praktyk is.
Jana se raad aan studente is om in hulleself te glo. “Jy het dit tot hier gemaak, jy kan verder gaan en jy is tot enige iets in staat,” het Jana gesê. Volgens Jana word ‘n mens se vermoëns baie getoets, maar so ontdek jy ook nuwe dele van jouself. “Geniet elke oomblik van jou reis. Dit is baie lekker om te móét leer swem soos Ryk Neethling. Moenie bang wees vir geleenthede en lewensvaardighede nie. Haal asem en weet jy is nie alleen nie,” sluit Jana af.
Jy staan aan die begin daarvan om jou toekomsdrome te bewaarheid en jy het hard gewerk om te kom waar jy vandag is. Jou toekoms is nou in jou hande. Klik hier om as ‘n Jongwerkende lid by Solidariteit aan te sluit en raak deel van Solidariteit.
Wees as ‘n uitskieter in jou beroep as jong werkende!