loading
Mediaverklarings
9 maande gelede
assmang-loonooreenkoms-n-oorwinning-vir-kollektiewe-bedinging

Foto Krediet: Okay Deer

Assmang-loonooreenkoms – ʼn oorwinning vir kollektiewe bedinging

Solidariteit het ná drie maande van onderhandelinge ʼn vyfjaar-loonooreenkoms vir werknemers met die Assmang-mynmaatskappy bereik. 
Hierdie ooreenkoms is in samewerking met die National Union of Mineworkers (NUM) gesluit.
Die ooreenkoms maak onder meer voorsiening vir loonverhogings oor die volgende vyf jaar wat werknemers soos volg per jaar sal ontvang: jaar 1: 6%; jaar 2: 5,7%; jaar 3: 5,7%; jaar 4: 5,7%; en jaar 5: 5,7%, óf ʼn verbruikersprysindeksverwante (VPI-verwante) verhoging indien die VPI hoër is as die voorgenoemde verhogings. 
As deel van die ooreenkoms ontvang werknemers ook ʼn eenmalige betaling van R12 000, terwyl die ondergrondse toelaag tot R840 verhoog.  
“ʼn Verdere uitkoms van die onderhandelinge is dat die vakbonde en die maatskappy verder met mekaar sal konsulteer rakende ʼn verbeterde behuisingskema waarby die werknemers kan baat,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.
Du Plessis wys daarop dat die fokus nou na Sibanye-Stillwater se goudsektoronderhandelinge gaan verskuif. 
“Sibanye sal moet leer uit die onderhandelinge wat nou by Assmang en onlangs by Harmony Gold afgehandel is. Daardie onderhandelinge het getoon hoe ʼn progressiewe benadering tot loononderhandelinge gebruik kan word om ʼn wen-wen-skikking te bereik.
“So ʼn benadering sal nie net tot langdurige arbeidsvrede en ʼn gemotiveerde werksmag aanleiding gee nie, maar kan ook aandeelhouers gelukkig hou en beleggers lok,” voer Du Plessis aan.
Solidariteit beskryf die Assmang-ooreenkoms as ʼn oorwinning vir kollektiewe bedinging. Dit is ook die eerste keer dat ʼn vyfjaarooreenkoms by Assmang bereik is. 
Du Plessis sê hierdie gebeure is merkwaardig en ook in ooreenstemming met onlangse politieke verwikkelinge soos aan die oprigting van ʼn regering van nasionale eenheid (RNE) gesien kan word.
“Hier het ons te make met twee mynbouvakbonde, Solidariteit en die NUM, wat gesamentlik onder die vaandel van ʼn formele alliansie onderhandel het. Dit is op sigself ʼn oorwinning vir vakbondeenheid en uiteindelik vir elke werknemer,” sluit Du Plessis af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel