loading
Artikels
3 weke gelede
van-die-sportveld-tot-die-werksvloer-wenresepte-vir-spanwerk-en-sukses

Foto Krediet: OKayDeer

Van die sportveld tot die werksvloer: Wenresepte vir spanwerk en sukses

Die wêreld van sport bied meer as net vermaak; dit is ʼn leerskool vir die werkplek. Daar is onskatbare wyshede wat kantoorwerkers by sportspanne kan leer oor spanwerk en sukses. Lees gerus meer hieroor en word wys!


Deur Karen Waldeck

Dit is die laaste paar sekondes van ʼn belangrike rugbywedstryd. Die telling is gelykop. Die bal is in jou span se besit. Die skare is op hul voete. Jou span moet ʼn strategie uitvoer wat ure se beplanning en oefening vereis het – en elke speler moet hul rol perfek speel. Dit is nie net opwindend nie; dis ʼn meesterklas in spanwerk, aanpasbaarheid en strategie.

Nou vra ons: wat as ons dieselfde beginsels in die werkplek begin toepas?

Sportspanne verstaan al lankal dat sukses nie slegs van individuele talent afhang nie, maar van hoe daardie talent in ʼn eenheid gekombineer word wat saamwerk tot ʼn gemeenskaplike doel. En dit is presies wat ons in ons spanne in die werkplek nodig het.

1. Spanwerk is nie ʼn luukse nie – dit is noodsaaklik

In ʼn sportspan is dit ondenkbaar dat elke speler net op hulself fokus. Die heelagter gee die bal aan die senter, die senter lees die veld en gee die bal uit na die vleuel. As een speler nie hul rol verstaan nie, kan die hele stelsel ineenstort.

Dieselfde geld in die werkplek. Volgens Harvard Business Review is doeltreffende samewerking in spanne een van die belangrikste faktore vir produktiwiteit. Wanneer werkers goed as ʼn span saamwerk, vloei idees vrylik, word konflik vinniger opgelos en bereik die span doelwitte vinniger – en met meer selfvertroue.

Maar spanwerk verg oefening. Net soos sportspanne ure aan afrigting bestee, moet werkspanne hul ook tot spanbou, kommunikasie-opleiding en gereelde terugvoer verbind. Dit begin bo, met leiers wat die voorbeeld moet stel vir die spanwerk wat hulle wil sien.

2. Aanpasbaarheid: Reageer op verandering soos ʼn kampioen

Geen wedstryd verloop ooit presies volgens plan nie. Selfs met ʼn briljante strategie, moet spanne by die spel se vloei aanpas. ʼn Beseerde speler? ʼn Skielike weersverandering? Die beste spanne pas vinnig hul benadering aan en bly gefokus.

Dieselfde geld in die werkplek. Die afgelope paar jaar het getoon hoe noodsaaklik aanpasbaarheid is – dink maar aan die skielike oorgang na afstandswerk tydens Covid-19.

Volgens McKinsey is spanne wat vinnig kan aanpas en herstrukturering aanvaar, meer suksesvol in komplekse en veranderende omgewings. Dit vereis ʼn ingesteldheid van leer, aanvaarding van onsekerheid en bereidwilligheid om te eksperimenteer – iets wat sportspanne al jare verstaan.

3. Wenstrategieë: Bou ʼn wedstrydplan vir sukses

Elke suksesvolle sportspan het ʼn wedstrydplan – ʼn gestruktureerde benadering tot wen. Dit sluit oefening, ontleding van teenstanders, strategiese beplanning en selfs sielkundige voorbereiding in. Almal in die span ken hul rol, die tydlyn en hoe om te reageer wanneer iets verkeerd loop.

Hoekom dan werk sonder ʼn strategie? Baie spanne in die werkplek het nie ʼn duidelike rigting nie. Maar deur ʼn kultuur van strategiese denke te ontwikkel – met duidelike doelwitte, planne en rolle – is die kans op sukses soveel groter.

Spanne presteer beter in ondernemings waar bestuurders strategies dink. Strategiese beplanning is egter nie net vir bestuurders is nie, maar is ʼn stap waarin elke spanlid betrokke moet wees. Soos in sport, moet elke spanlid weet waarheen die span op pad is en waarom.

4. Kultuur, ritueel en ritme: Die onsigbare boustene van sukses

Het jy al ooit gesien hoe ʼn span ʼn wedstryd met ʼn spesifieke ritueel begin – ʼn handdruk, ʼn kreet of ʼn gebed? Hierdie simbole bou identiteit en samehorigheid.

Net so help rituele en ʼn gesonde werkplekkultuur om werkers te verbind en vertroue te bou. Gereelde spanvergaderings, erkenningseremonies en selfs gesamentlike koffiepouses help om samehorigheid te skep. En dit is ʼn krag wat nie onderskat moet word nie.

5. Moenie net werk nie – vier die klein dingetjies saam

In sport word elke oorwinning gevier – maak nie saak hoe klein nie. Dieselfde moet in die werkplek gebeur. Deel suksesverhale. Erken individuele bydraes. Skep ʼn kultuur waar sukses gevoel en gedeel word.

Volgens Gallup verhoog gereelde erkenning werknemerbetrokkenheid en -prestasie aansienlik. Vier daardie prestasies – groot projekte, suksesvolle samewerking of selfs daaglikse mylpale – want sulke oomblikke bou moraal en motiveer spanne om aan te hou presteer.

Werk soos ʼn span, wen soos ʼn span

As jy wil hê jou werkspan moet floreer, begin soos ʼn sportspan dink. Kweek ʼn kultuur van samewerking, reageer met energie en entoesiasme, en hou jou oë op die wenstrategie. Solidariteit is jou vennoot in die werkplek. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en word deel van ʼn gemeenskap waar idees en praktiese wenke vir die werkplek uitgeruil word – alles in Afrikaans!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel