loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
atns-se-verlies-aan-kritieke-vaardighede-bedreig-lugvaartbedryf

Fotokrediet: Pexels

ATNS se verlies aan kritieke vaardighede bedreig lugvaartbedryf

Deur Kyla-Ann du Toit

Die toenemende verlies aan ervare lugverkeerbeheerders by die Lugverkeernavigasiediens (ATNS) is nie meer bloot ʼn personeelprobleem nie, maar ʼn ernstige bedreiging vir die kapasiteit en volhoubaarheid van Suid-Afrika se lugvaartbedryf.

Die ATNS verloor toenemend personeel met kritieke vaardighede aan lande soos die Verenigde Arabiese Emirate en Australië. Die entiteit het glo in die afgelope twee tot drie jaar tussen 20 en 30 lugverkeerbeheerders aan dié lande afgestaan.

Die ATNS het ook nie sy teiken vir ernstige veiligheidsvoorvalle gedurende die eerste kwartaal van die 2026-’27-boekjaar gehaal nie, en dié syfer het bo die organisasie se eie veiligheidsperk gestyg.

Daar is ook onlangs berig dat die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer ingelig is oor personeeltekorte en veiligheidsrisiko’s by die ATNS. Die personeelvlak by die naderingsbeheereenheid van die O.R. Tambo Internasionale Lughawe is glo tans slegs 57% van die teiken.

Derek Mans, koördineerder van Solidariteit se lugvaartsektor, meen die probleem kan nie langer as ʼn tydelike personeeltekort beskou word nie.

“Ons het hier te doen met ʼn verlies aan hoogs gespesialiseerde kennis en ervaring. Wanneer ʼn ervare lugverkeerbeheerder die land verlaat, verloor die ATNS nie net nog ʼn personeellid nie. Dit verloor kundigheid wat jare neem om op te bou en wat nie oornag vervang kan word nie.”

Die ATNS probeer intussen om die vaardigheidstekort deur verskeie ingrypings die hoof te bied. Die aantal beurse wat jaarliks beskikbaar gestel word, is volgens berigte van 40 tot 120 verhoog, terwyl voormalige werknemers en geskikte internasionale kandidate ook gewerf word. ʼn Retensieskema het glo daartoe bygedra dat die bedankingskoers van 6,3% tot 2,2% gedaal het.

Solidariteit meen dié stappe is nodig, maar waarsku dat werwing en opleiding alleen nie genoeg gaan wees indien ervare personeel steeds verlore gaan nie.

“Die opleiding van nuwe lugverkeerbeheerders is noodsaaklik, maar dit is ʼn lang proses. Die ATNS moet terselfdertyd ernstig kyk na waarom ervare personeel vertrek en wat gedoen moet word om hulle te behou. Personeelbehoud moet net so ʼn hoë prioriteit soos werwing wees.”

Solidariteit se lugvaartsektor het reeds vroeër vanjaar gewaarsku dat personeeltekorte en die verlies aan tegniese kundigheid toenemende druk op Suid-Afrika se lugverkeerbeheerstelsel plaas.

Mans sê die jongste syfers vereis nou ʼn duidelike en volhoubare plan om kritieke vaardighede te behou en personeelvlakke te herstel.

“Wanneer ʼn stelsel wat elke dag verantwoordelik is vir ʼn veilige lugruim met ernstige personeeltekorte en veiligheidsvoorvalle worstel, kan dit nie as gewone bedryfsprobleme afgemaak word nie. Daar moet ʼn meetbare herstelplan wees vir personeelvlakke, vaardigheidsbehoud en veiligheid.”

Die behoud van ervare en kundige personeel moet daarom sentraal staan tot enige geloofwaardige herstelplan vir die ATNS. Suid-Afrika kan nie bekostig dat nóg kritieke lugvaartvaardighede die land verlaat terwyl ʼn reeds kwesbare stelsel onder toenemende druk verkeer nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel