Fotokrediet: Pexels
Gekopieër
Onlangse hofoorwinning bring verligting vir lugvaartbedryf
Deur Leré Nel
Solidariteit se Lugvaartsektor verwelkom Sakeliga se onlangse hofoorwinning waarin die hooggeregshof in Pretoria beslis het dat rasgebaseerde kriteria, insluitend B-BBEE-vereistes, nie gebruik mag word om aansoeke vir internasionale lugdienslisensies te beoordeel nie.
Die uitspraak bevestig dat die Internasionale Lisensieraad vir Lugdienste (IASC) voortaan lisensie-aansoeke uitsluitlik op grond van die vereistes van die Wet op Internasionale Lugdienste en toepaslike regulasies moet beoordeel. Faktore soos operasionele vermoë, veiligheid en regulatoriese nakoming bly die bepalende maatstawwe, eerder as rasgebaseerde vereistes.
Solidariteit beskou dit as nóg ʼn belangrike oorwinning in die stryd teen rasgebaseerde wetgewing in Suid-Afrika en verwelkom die feit dat ander organisasies ook tot die stryd toetree. Die hofuitspraak bevestig dat regulatoriese besluite op wetlike maatstawwe eerder as ideologiese of rasgebaseerde vereistes gegrond moet wees.
Solidariteit voer reeds vir jare die stryd teen diskriminerende beleide wat meriete, groei en geleenthede in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark ondermyn.
Deur by Solidariteit se Lugvaartsektorgroep betrokke te raak, word jy deel van ʼn netwerk wat die belange van die bedryf bevorder, lede bystaan wanneer uitdagings ontstaan en saamwerk aan ʼn volhoubare toekoms vir die Suid-Afrikaanse lugvaartbedryf.
Hierdie hofoorwinning dien as nóg ʼn bewys dat volgehoue druk resultate oplewer en dat verandering moontlik is wanneer mense saamstaan en hul regte aktief beskerm.
Stap die pad saam met Solidariteit na ʼn rasvrye Suid-Afrika teen 2030. Klik hier.