
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Baaise maatskaplike werker vereer met toekenning – Solidariteit
Die Maatskaplikewerkersnetwerk, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, laat jaarliks die kollig val op die hoopdraers in ons midde deur die Hoopdraer-toekenning. Elf streekswenners word elke jaar aangewys. Lees meer hieronder.
Dié gesogte Hoopdraer-toekenning gee erkenning aan maatskaplike werkers wat ʼn beduidende verskil in hul gemeenskappe maak.
Een van hierdie inspirerende streekswenners is Sanet Viljoen van Port Elizabeth. Haar toewyding aan maatskaplike werk, opleiding en kinderwelsyn maak van haar ʼn ware ligdraer in haar veld.

Sanet put haar daaglikse inspirasie uit die opleiding van maatskaplike werkers oor die land heen. “Ek sien elke keer daarna uit om nuwe maatskaplike werkers te ontmoet en hulle op te lei. Dit is verblydend wanneer hulle die verskillende aspekte van maatskaplike werk begin integreer en nie meer in afsonderlike boksies plaas nie.
“Die positiewe terugvoering oor werkwinkels laat my net meer wil doen,” verduidelik sy.
Sanet het haar roeping in maatskaplike werk as jong dogter in standerd 4 (deesdae graad 6) ontdek toe haar Sondagskoolonderwyseres haar inspireer het.
“Ek het geweet ek wil mense help, veral kinders,” vertel sy, en in 1987 het sy, op 21-jarige ouderdom, by die Christelike Maatskaplike Raad in Uitenhage begin werk.
“My streng maar regverdige opsiener het my geslyp tot die maatskaplike werker wat ek vandag is. Die meeste van my ervaring is met kinders, en die opleiding wat ek aanbied, fokus op kindersorg.”
Sanet het vir 14 jaar in ʼn kindersorgsentrum gewerk waar sy voltyds met 50 kinders op ʼn slag gewerk het.
“Ek het spelterapie met sommige kinders gedoen en dit was wonderlik om te sien hoe hulle beheer oor hul lewens teruggekry het. Ek het steeds geskenke wat kinders vir my gemaak het – dit bly kosbare herinneringe.”
Sanet was verras toe sy genomineer is, nog méér toe sy as die wenner aangewys is.
“Ek besef daar is baie maatskaplike werkers wat dit ook verdien – mense wat elke dag hul bes doen. Dit is dus ʼn groot eer om erken te word.”
“Ek word daagliks deur maatskaplike werkers van oor die land om raad genader en ek help waar ek kan. Ek het ʼn Facebook-blad waar ek werkwinkels adverteer, terugvoer deel en vrae beantwoord. ʼn Onlangs gestigte WhatsApp-groep help om belangrike inligting vinnig te deel. My webtuiste bied ʼn inligtingsentrum vir maatskaplike werkers om hul werk meer doeltreffend te doen.”
Ná 38 jaar in die beroep het Sanet talle belangrike lewenslesse geleer.
“Ek het geleer hoe belangrik dit is om na jouself te kyk om uitbranding te voorkom. Dit is een van die redes hoekom ek my nou by opleiding betrokke is waar ek my eie roosters kan bestuur.”
Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, sê dit is ʼn groot voorreg om staatmakers in hierdie beroepsveld op dié manier te kan beloon.
“Die Hoopdraer-toekenning is ʼn spesiale toekenning wat die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk en Solidariteit Helpende Hand jaarliks toeken om uitmuntende werk in die maatskaplike professie te vereer.
Dit gee erkenning aan individue wat met passie, empatie en toewyding in hul gemeenskappe werksaam is, en wat ʼn bron van hoop en inspirasie vir diegene rondom hulle is. Die toekenning sluit streekwenners, topdriewenners en uiteindelik ʼn algehele wenner in,” sê Erasmus.