
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Baas of boelie: Die koste van toksisiteit in die werkplek
Deur Nico Strydom
Toksisiteit in die werkplek is meer as net ʼn mensehulpbronkwessie – dit is ʼn direkte bedreiging vir organisatoriese prestasie en winsgewendheid.
Volgens Blessing Utete, besturende direkteur van Old Mutual Corporate Consultants, kos afwesigheid, wat aan depressie in die werkplek gekoppel is, die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks sowat R19 miljard.
“Werknemers verlaat nie net toksiese werkomgewings nie, maar onttrek ook terwyl hulle steeds fisies in die werkplek is. Dit laat produktiwiteit en innovasie afneem,” sê hy.
ʼn Studie wat in Oktober 2024 deur Remchannel gepubliseer is, het uitgelig dat permanente personeelomset in Suid-Afrika oor alle sektore 15,5% beloop het, waarvan 47% weens bedankings was. Volgens Utete is dit kommerwekkend dat 27% van dié werknemers verhoudingskonflikte met hul lynbestuurder, insluitend boeliery of teistering, as hul primêre rede vir bedanking aangedui het.
“Niemand kan hul beste self wees as hulle nie goed behandel word nie. Namate ondernemings toenemende druk ervaar om toptalent te behou, blyk sielkundige veiligheid ʼn kritieke onderskeidende faktor te wees.”
Die impak van ʼn disfunksionele werkplek strek veel verder as net ongelukkige werknemers – dit het ʼn direkte invloed op ʼn onderneming se winsgewendheid, sê Utete.
“Die kern van werkplektoksisiteit is dikwels ʼn direkte lynbestuurder wat boeliegedrag openbaar – iemand wat vrees, intimidasie of manipulasie gebruik om beheer te behou. Dié leiers skep ʼn omgewing waar werknemers onderwaardeer voel, huiwerig is om hul stem te laat hoor en uiteindelik van hul werk onttrek. Sonder ʼn gevoel van veiligheid stagneer innovasie, produktiwiteit daal en kliëntetevredenheid ly daaronder.”
ʼn Boelie is iemand wat werknemers ondermyn, verkleineer of oormatige beheer oor hulle uitoefen – dikwels deur vernedering, uitsluiting of onrealistiese eise. Die oplossing, volgens Utete, lê in leierskap wat respek, billikheid en oop kommunikasie prioritiseer.
Benewens die kulturele skade, hou toksisiteit in die werkplek ook beduidende finansiële implikasies in. Dit tas nie net huidige werknemers aan nie, maar beskadig ook die onderneming se reputasie.
Volgens Utete benodig werknemers meer as net ʼn salaris. “Hulle benodig outentieke ondersteuning vir hul welstand en ʼn volhoubare balans tussen werk en lewe. Die kern hiervan is ʼn werkomgewing waar mense gerespekteer en waardeer voel vir hul bydraes,” sê hy.
Die voordele van ʼn kultuur van sielkundige veiligheid, is onder meer hoër werknemerbetrokkenheid, beter samewerking, verbeterde kliëntetevredenheid en meer innovasie.
Met Solidariteit aan jou kant, beskerm jy nie net jou regte nie, maar verseker jy ook die beste moontlike diensvoorwaardes, voordele en werkplekbeskerming. Sluit aan en beskerm jouself in die werkplek met gratis arbeidshulp en regsadvies. Solidariteit beskerm jou teen diskriminasie en uitbuiting in die werkplek.