
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Vroue soek veral buigsaamheid in werkplek
Deur Nico Strydom
Vroue in Suid-Afrikaanse werkplekke soek werkgewers wat buigsaamheid bevorder, loopbaanvooruitsigte bied en finansiële sekuriteit verseker.
Volgens ʼn verslag van die werwingsagentskap RecruitMyMom is buigsaamheid in die werkplek vir vroue ononderhandelbaar en word dit ʼn kritieke instrument vir die behoud van werknemers.
Met baie organisasies wat terugkeer van afstandswerk en hibriede werkomgewings na voltydse kantoorwerk, het 84% van vroue wat aan die opname deelgeneem het aangedui dat hulle aktief nuwe werk soek wanneer buigsaamheid verwyder word. Vroue in senior rolle prioritiseer dikwels buigsaamheid bo groeipotensiaal of ander voordele – 57% verkies hibriede werkomgewings, terwyl 37% ten gunste is van volledige afstandswerk. Vir jonger vroue (tussen 25 en 34 jaar oud) is afstandswerk veral belangrik gedurende die tydperk waarin hulle gewoonlik kinders kry.
Ten spyte daarvan dat 85,7% van vroue ʼn begeerte vir loopbaanbevordering uitgespreek het, het die verslag aan die lig gebring dat hulle steeds verskeie volgehoue hindernisse tot loopbaanbevordering in die gesig staar. Hierdie bevindinge stem ooreen met nasionale tendense wat toon dat minder as 5,8% van werkende vroue bestuursposisies beklee, in vergelyking met 9,8% van werkende mans.
Die verslag het ook bevind dat die meeste vroue vir een tot vyf jaar in ʼn rol bly voordat hulle bevorder word; 19% wag vyf jaar, terwyl 23% nog nooit bevorder is nie. Hindernisse tot loopbaanbevordering sluit in beperkte interne geleenthede, ʼn gebrek aan mentorskap en netwerkvorming, en onbuigsame werkbeleide.
Gevolglik soek ʼn beduidende deel van vroue nuwe werksgeleenthede. Gegewe vroue se sterk ambisie vir groei, moet organisasies moontlikhede vir loopbaanbevordering skep en loopbaanoorgange binne die werkplek ondersteun. Vir die meeste werkende vroue is finansiële sekuriteit die primêre dryfveer om te werk, met 74% wat finansiële stabiliteit as hul hoofrede vir werk noem.
Alhoewel salaris die aantreklikste faktor is, is voordele soos mediese fonds, pensioenbydraes en bonusse as bykomende faktore geïdentifiseer wat vroue soek, tesame met geleenthede vir opleiding en ontwikkeling.
Die verslag beveel hibriede- en afstandswerkreëlings as sleutelbehoudinstrumente aan en spoor maatskappye aan om buigsame werkmodelle aan te neem wat produktiwiteit bo fisieke teenwoordigheid prioritiseer.
Solidariteit beskerm jou teen diskriminasie en uitbuiting in die werkplek. Solidariteit-lede ontvang gratis regsadvies, insluitend telefoniese bystand oor siviele en arbeidsverwante sake.