loading
Artikels
23 uur gelede
teistering-in-die-werkplek-3

Foto Krediet: OkayDeer

Teistering in die werkplek

Deur Nico Strydom

Studies toon dat minstens een uit elke drie werknemers direk of indirek deur teistering in die werkplek geraak word.

Volgens Talita Laubscher, ʼn vennoot by die regsfirma Bowmans, worstel organisasies steeds met die impak wat teistering op werknemers se waardigheid, gesondheid en algemene welstand het.

“Teistering is ʼn vorm van diskriminasie. Alle werkgewers word deur die Wet op Gelyke Indiensneming verplig om proaktiewe en remediërende stappe te neem om teistering in die werkplek te voorkom en uit te skakel.

“Suid-Afrika se Kode vir Goeie Praktyk vir die Voorkoming en Uitskakeling van Teistering in die Werkplek plaas verskeie verpligtinge op werkgewers,” sê Laubscher. Dit sluit in om ʼn risikobepaling te doen van die soorte teistering waaraan werknemers blootgestel kan word; deurlopende bewusmaking; die implementering van opleidingsinisiatiewe en ʼn teisteringsbeleid; sowel as die ontwikkeling van duidelike prosedures om teistering te hanteer.

“Versuim om hierdie verpligtinge na te kom, kan lei tot aantygings van onbillike diskriminasie en ander eise wat deur werknemers ingestel kan word, wat moontlik tot finansiële aanspreeklikheid en reputasieskade kan lei. Werkgewers speel ʼn kritieke rol in die bevordering van ʼn veilige en respekvolle werkplek,” gaan Laubscher voort.

Die Kode vir Goeie Praktyk vir die Voorkoming en Uitskakeling van Teistering in die Werkplek maak vir verskeie vorme van teistering voorsiening. Dit sluit onder meer in fisieke teistering en gebare, soos om ʼn vuis in die lig te hou of voorwerpe te gooi.

Teistering deur ʼn groep mense wat op een of meer individue gerig is en opsetlike gedrag wat ʼn persoon besering of skade sal laat vrees, word ook by die kode ingesluit. Ander vorme van teistering sluit in laster, die verspreiding van gerugte, gedrag wat iemand beledig of verneder, die weerhouding van werkverwante inligting of die verskaffing van valse inligting, die sabotasie of belemmering van ʼn individu se prestasie en die uitsluiting van iemand van werk of werkverwante aktiwiteite.

Boeliegedrag, hetsy in persoon of aanlyn, sowel as teistering wat onderlangs of agteraf plaasvind, word ook deur die kode gedek. Dit sluit onder meer in skinder, sarkasme, neerhalende gesigsuitdrukking of gebare, en doelbewuste sabotasie van ʼn ander persoon se sukses of loopbaanprestasie. Emosionele mishandeling en verbale boeliegedrag – soos beledigings en konstante kritiek – word ook as vorme van teistering in die werkplek beskou.

Werknemers wat aan hierdie soort behandeling onderwerp word, word aangeraai om ʼn noukeurige skriftelike rekord van alle voorvalle hou. Die werknemer kan ook die oortreder skriftelik konfronteer en versoek om onmiddellik die gedrag te staak. Daarbenewens moet die werknemer ʼn formele klag by die werkgewer indien en kan hulle vakbondbystand soek indien hulle ʼn lid van ʼn vakbond is.

Met Solidariteit aan jou kant is jy geregtig op die beste moontlike diensvoorwaardes, voordele en werkplekbeskerming. Beskerm jouself in die werkplek met gratis arbeidshulp en regsadvies. Solidariteit beskerm jou teen diskriminasie en uitbuiting in die werkplek.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel