loading
Mediaverklarings
9 uur gelede
vsa-verslag-oor-menseregte-solidariteit-vergader-eersdaags-in-washington

Foto Krediet: Solidariteit

VSA-verslag oor menseregte: Solidariteit vergader eersdaags in Washington

Solidariteit vertrek in September na die VSA waar gesprekke met die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake, invloedryke Amerikaanse politici, diplomate en ander belanghebbendes gevoer gaan word.
Die besoek volg ná die bekendmaking van ʼn verslag deur die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake waarin ernstige kommer uitgespreek word oor die agteruitgang van menseregte in Suid-Afrika die afgelope jaar.
In die verslag word onder andere verwys na die aanhitsing van aanvalle op Afrikanerboere deur die sing van die lied “Kill the Boer” deur lede van die EFF, asook na ’n breër patroon waarin minderheidsgroepe, en spesifiek Afrikaners, in Suid-Afrika geteiken word. Hierdie bevindinge, tesame met ander menseregtekwessies, sal op die agenda wees wanneer Solidariteit in Washington D.C. met besluitnemers en belangegroepe vergader.
Volgens Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, beoog Solidariteit om ’n omvattende lys van kwessies aan te pak. Dit sluit die volgende punte in:
Die afskaffing van rasgebaseerde wetgewing en beleide in Suid-Afrika, aangesien sulke maatreëls nie net ekonomiese uitsluiting en diskriminasie vererger nie, maar ook tot toenemende sosiale verdeeldheid bydra.
Die herstel en versterking van diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA, wat in die jare onder die ANC se bewind aansienlik verswak het. Hierdie agteruitgang word toegeskryf aan beleidsverskille, toenemende geopolitieke spanning en ’n merkbare gebrek aan konstruktiewe gesprekke tussen dié twee lande.
Die totstandkoming van ’n billike en wedersyds voordelige handelsooreenkoms tussen die VSA en Suid-Afrika is van kardinale belang om werklike voordele aan alle Suid-Afrikaners te bied – ongeag ras of politieke verbintenis.
Kleynhans wys egter daarop dat die heersende spanning in die verhouding tussen die lande grootliks spruit uit die ANC en die regering se onwilligheid om op konstruktiewe wyse met die VSA oor hierdie aangeleenthede te onderhandel. Hierdie gesindheid het bygedra tot die verbrokkeling van betrekkinge tussen hierdie twee lande.
“Ons besoek aan Washington het ten doel om nie slegs hierdie uitdagings onder die aandag van Amerikaanse beleidsmakers te bring nie, maar ook om praktiese en uitvoerbare oplossings voor te lê,” verduidelik Kleynhans.
“Solidariteit en ander belanghebbendes beoog om voorstelle te gee oor hoe die VSA en ander internasionale vennote ’n rol kan speel om die menseregteklimaat in Suid-Afrika te verbeter en die ekonomiese geleenthede vir alle burgers te verbreed.
“Die regering se voortdurende onwilligheid om selfondersoek te doen, vererger armoede, laat rasseverhoudinge verbrokkel en ondermyn internasionale verhoudinge sowel as steun vir die land.”
Solidariteit staan skepties oor die bereidwilligheid tot selfondersoek, aangesien die Suid-Afrikaanse regering reeds die Amerikaanse verslag verwerp het en dit afgemaak het as “onakkuraat, met ernstige gebreke en nie verteenwoordigend van die werklikheid van die land se grondwetlike demokrasie nie”.
Kleynhans hoop dat die gesprekke met die VSA later vanjaar ’n grondslag kan lê vir meer robuuste bilaterale betrekkinge en vir konkrete stappe om die regte en veiligheid van minderhede in Suid-Afrika te beskerm.

Klik hier vir ‘n Afrikaanse en ‘n Engelse klankgreep.
 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel