loading
Artikels
1 week gelede
basaar-van-die-eeu

Foto Krediet: Verskaf

Basaar van die eeu!

In 1875 is die eerste organisasie wat hom vir die bevordering van Afrikaans beywer het – die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) – in die Paarl gestig. Nou, presies 150 jaar later, het ons steeds die voorreg om in Afrikaans te praat, skool te gaan, te werk, die Bybel te lees, te bid en te droom! Daarom hou die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ʼn fees om hierdie historiese oomblik in die geskiedenisboeke te verewig.

Die GRA-basaar skop om 08:00 op 9 Augustus by die Voortrekkermonument af en bied ʼn geleentheid om nie net ons liefde vir Afrikaans te vier nie, maar ook ons liefde vir mekaar, ons kultuur en ons tradisies.

Gemeentes, skole, entrepreneurs en ander gemeenskapsinstellings word uitgenooi om hul stalletjies op die markplein te kom opslaan en te wys wat ons as Afrikaners só uniek maak: ons liefde vir kos, kreatiewe uitvindsels en ons kunstenaarsvernuf. Geen stalletjiefooie sal gehef word nie, en stalletjiehouers kan 80% van die dag se inkomste behou. Slegs 20% van winste sal aan die organiseerders, vir basaarlogistiek, gaan. Dít is ʼn gulde geleentheid vir organisasies, gemeentes, skole en selfs ouetehuise om fondse in te samel!

Besprekings vir stalletjies sluit op 21 Julie. Bespreek vandag per e-pos by johanj@kultuurtuiste.org.za.

“Ons fokus vir die GRA-basaar is om die grondwerk, of die pionierswerk rondom Afrikaans se ontwikkeling as spreektaal en akademiese taal te vier. Afrikaans se wortels lê soveel dieperen ons wil hulde bring aan die stigters van die GRA, wat op 14 Augustus 1875 byeengekom het om Afrikaans meer as net ʼn kombuistaal te maak. Een van die prominentste uitvloeisels van die GRA se werk was die vertaling van die Bybel in Afrikaans.”

Só sê Dawid Brand, bedryfshoof van beeld en groei by die Kultuurtuiste (die FAK, Voortrekkermonument en Erfenisstigting).

Hierdie fees word deur die FAK aangebied, in samewerking met die Dameskring, Afrikanerbond, AP Akademie en die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO).

Vroue en kinders ontvang gratis toegang, aangesien die basaar op Vrouedag plaasvind. Kom geniet die dag en bring hulde aan die stigters wat die grondslag vir Afrikaans gelê het!

Hou die FAK se sosiale media dop vir meer inligting oor dié feestelike dag.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel