
Foto Krediet: Akademia
Gekopieër
Begin jou studiereis met Akademia se nuwe BA-program
Akademia se nuwe BA (Algemeen)-program is ideaal vir studente wat méér as net loopbaanvoorbereiding soek. Met modules wat klassieke vorming en praktiese vaardighede kombineer, rus hierdie driejaarprogram studente toe met die nodige kennis en vaardighede om ʼn beroep in rigtings soos sielkunde, filosofie en media uit te kerf. Lees hier meer oor hierdie graad en wat jy alles kan verwag.
Deur Kyla-Ann du Toit
Denkers, nuuskieriges en dromers – Akademia se splinternuwe graad is die perfekte geleentheid vir júlle!
Akademia bied vanaf 2026 ʼn driejaarprogram in BA (Algemeen) op sy Centurion-kampus aan. Dié graad is deel van die Fakulteit Geesteswetenskappe en is ideaal vir studente wat nuuskierig is oor groot idees, wat nie net op loopbaanvoorbereiding fokus nie maar ook op roeping, en wat die wêreld vanuit ʼn breër perspektief wil verstaan.
Volgens Alida Kok, koördineerder van hierdie nuwe BA-program, is die program ʼn versinnebeelding van passie en roeping. “ʼn Voornemende student moet ʼn begeerte hê om ʼn persoonlike – hetsy konkrete óf abstrakte – doelwit te bereik. Hierdie begeerte sal die student lei om mettertyd te spesialiseer danksy verskillende module-opsies, om ʼn loopbaanpad uit te kerf,” verduidelik sy.
ʼn Klassieke grondslag vir ʼn moderne wêreld
Die program word op NKR-vlak 7 aangebied en is doelbewus gestruktureer om ʼn breë basis in die eerste jaar te bied, gevolg deur toenemende geleenthede vir spesialisering in jaar twee en drie.
Hierdie benadering:
- • rus studente toe met ʼn stewige kennisgrondslag;
- • maak verdere studie op honneursvlak moontlik; en
- • berei studente voor vir verskeie beroepe in die wêreld van vandag én môre.
“Akademia plaas voorts die klem op klassieke vorming in sy BA (Algemeen)-program en in hierdie konteks verwys hierdie begronding na ʼn soeke na die ware, die goeie en die skone – deur ʼn studie van die vrye kunste én die groot denkers van die Westerse kanon,” sê Kok.
Die kennis en vaardighede wat jy sal opdoen
Studente wat hierdie program voltooi, ontwikkel ʼn stel vaardighede wat in enige beroep waardevol is. Studente sal meer oor die volgende leer:
- • verbeeldingryke én analitiese denke
- • die vermoë om patrone en tendense te ontleed
- • goeie oordeel en besluitneming
- • dapperheid om berekende risiko’s te neem
- • doeltreffende en inspirerende kommunikasie
- • implementering van praktiese wysheid
- • leierskap wat fokus op herstel, hervorming en herlewing
Beroepsrigtings en verdere studie
Die BA (Algemeen)-program bied toegang tot voorgraadse en honneursopleiding in dissiplines soos:
- • Sielkunde
- • Geskiedenis
- • Filosofie
- • Mediastudies
- • Visuele kultuurstudies
- • Politiek
Moontlike loopbaanrigtings sluit in:
- • Navorsing en ontleding
- • Letterkunde en die kunste
- • Politiek, diplomasie, politieke kommunikasie en politieke sielkunde
- • Geskiedenis in praktyk en erfenisbewaring
- • Konsultasiewerk
- • Joernalistiek, media, advertensiewese en skrywerswese
ʼn Waardevolle kwalifikasie
“Dit is ʼn versinsel van ons tyd dat ultra-spesialisasie nodig is vir ʼn student om van ʼn werk verseker te wees,” sê Kok. Sy glo eerder in ʼn breë begronding wat studente help om die wêreld beter te verstaan, goeie oordeel bevorder en hulle toelaat om met selfvertroue en betekenis die werkwêreld te betree.
“Studente wat hierdie program voltooi, sal waardevolle werknemers wees, veral in ʼn konteks waar dit belangrik is vir werknemers om inisiatief en eienaarskap van hul werk te kan neem,” sê sy.
Akademia se BA (Algemeen)-program bied vir studente die geleentheid om hul denke te slyp, hul stem te vind en die wêreld met selfvertroue aan te pak.
Bou jou toekoms saam met Akademia
Solidariteit glo in die waarde van hoëgehalte-onderrig – in jou moedertaal. Akademia vorm deel van ʼn groter droom: om ʼn selfstandige en sterk Afrikaanse gemeenskap te vestig waarin jong mense kan leer, groei en floreer. Hierdie instelling bied nie net ʼn plek om te studeer nie, maar ook ʼn ruimte waar jy met kennis en vaardighede toegerus word om met selfvertroue in ʼn meederheidsamelewing op te tree.
Aansoeke vir Akademia se 2026- akademiese jaar is reeds oop. Doen vandag nog aansoek! Besoek Akademia se webblad vir meer inligting en begin jou reis na ʼn betekenisvolle toekoms by jóú Afrikaanse studietuiste.