loading
Artikels
9 uur gelede
n-akademiese-tuiste-in-afrikaans

Foto Krediet: OkayDeer

ʼn Akademiese tuiste in Afrikaans

Om in jou moedertaal te kan skoolgaan is deesdae ʼn voorreg wat vir min beskore is! Daardie voorreg is op tersiêre vlak selfs meer betekenisvol, waar moedertaalonderrig toenemend gemarginaliseer word. Dit is ʼn besonderse voorreg wat jý ook kan kies. Lees Marisha Hermann se mening hieroor.


Deur Marisha Hermann, honneursstudent by Akademia

Sonder skaamte kan ek sê: Ek het nie net ʼn Afrikaanse universiteit gekies nie. Ek het ʼn akademiese tuiste gekies. Ek het die universiteit gekies waar woorde soos “afbreek”, “verwoes”, “verniel” en “verwaarloos” nie eers in hul woordeskat voorkom nie. Akademia het hierdie woorde vervang met “bou”, “uitbou”, “behou” en “bewaar”.

Ons lewe in ʼn samelewing waar “hoop” nie meer ʼn vae konsep kan wees nie. Dit moet tasbaar wees – iets wat gebou en onderhou kan word. Dis noodsaaklik vir ons oorlewing. Akademia is aktief betrokke by die bou, skuur en skaaf van hierdie tasbare hoop.

In my eerste jaar het ons begin om ʼn koshuisstelsel te bou. In my tweede jaar is nóg twee koshuise bekendgestel. Nou het Akademia vier koshuise – en dis steeds nie genoeg nie. In my eerste jaar was daar net-net genoeg parkering op kampus. In my tweede jaar is ʼn nabygeleë veld vir parkering beskikbaar gestel. Klasse het op ʼn tweede kampus begin. Twee jaar later het ek met my nagraadse studies in Kommunikasie begin. Die parkering op die tweede kampus was nie meer genoeg nie en nóg ʼn veld langs kampus is beskikbaar gestel. Hierdie is ʼn voorbeeld van wat ons by Akademia “goeie probleme” noem. “Goeie probleme” is deel van die proses om tasbare hoop te skep.

Een dag, terwyl ek klas toe gery het, het ek ʼn Akademia-student in sy koshuisklere, netjies geklee met ʼn das, sien fietsry. Ek het Akademia-studente in koffiewinkels sien lag en gesels. Ek het gesien hoe tasbare hoop oral oor rondloop. Tasbare hoop is aansteeklik. Dit versprei!

Akademia het sy kampus in die Paarl in Mei 2025 bekendgestel. Aansoeke vir 2026 is reeds oop – en die kampus gaan vol wees. Sommige personeellede het vertel hoe die dorp Akademia se koms gretig afgewag het. Hulle was opgewonde – nie net oor die koms van die Afrikaanse universiteit nie, maar oor die tasbare hoop wat hulle gaan kan sien: koshuise wat gaan groei, parkering wat te min is, studente op fietse en in koffiewinkels.

Ek het meer as net ʼn Afrikaanse universiteit as my tuiste gekies. Ek het tasbare hoop gekies. Ek kan dit weer sê, sonder skaamte: Ek het ʼn Afrikaanse universiteit gekies.


Solidariteit is daartoe verbind om ʼn vry, veilige en voorspoedige Suid-Afrika vir jou en jou kinders te bou. Akademia, Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding en die Helpende Hand Opleidingsinstituut is almal voorbeelde van die tasbare hoop wat ons in die toekoms indra.

Sluit aan by ʼn gemeenskap waar ons hoop, waar ons bou en waar ons veg vir wat reg is. Skep jou gratis profiel op Solidariteit vandag!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel