Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Begrotingsrede: Laat Suid-Afrika vry!
Suid-Afrika kan nie deur belasting ryk word nie en daar kan nie nóg meer swaarverdiende geld uit oorbelaste Suid-Afrikaanse burgers getap word nie.
Solidariteit hoop hierdie waarheid sal op die minister van finansies neerdaal voordat hy vanjaar se begrotingsrede lewer sodat selfgeskepte krisisse nie verder op die skouers van gewone mense in die land moet rus nie.
Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die staat het immers nie ʼn probleem met inkomste nie, maar eerder ʼn probleem met sy uitgawes.
“Tans word omtrent ʼn kwart van alle geld in omloop in Suid-Afrika aan belasting spandeer. Dit kan eenvoudig nie so aangaan nie. Minister Enoch Godongwana moet besef dat belasting nie ʼn land ryk kan maak nie. Groei is nodig en hier by ons is dit dringend nodig,” sê Du Buisson.
Volgens Du Buisson sal een dryfveer vir groei wees om die wurggreep van hoë belasting op die ekonomie te verslap.
“Daarom moet die persoonlike inkomstebelastingkerwe vanjaar met meer as inflasie aangepas word. Landsburgers, insluitend ons lede, is onder groot finansiële druk. Hulle kan beslis nie bekostig dat hulle verhogings swaarder belas word as wat reeds die geval is nie.”
Solidariteit hoop verder dat gesonde verstand en goeie oordeel sal seëvier sodat die minister planne kan aankondig wat tot beter resultate vir die geld wat bestee word sal lei.
“Hoe gebeur dit byvoorbeeld dat Suid-Afrika aansienlik meer aan onderwys as meeste ander lande spandeer, maar ons uitkomste is doodeenvoudig pateties? Dieselfde kan gesê word van gesondheidsorg, polisiëring en allerlei ander departemente. Die insette en die uitkomste klop nie.
“Elke jaar praat die minister oor hoe oormatige uitgawes reggeruk gaan word, maar ons sien nie dat iets gebeur nie. Die staat se salarisrekening is die beste voorbeeld daarvan. Die rekening self is nie noodwendig so ʼn groot probleem soos die feit dat die opbrengs, in terme van produktiewe uitkomste, net die daar is nie.
“Suid-Afrika het ʼn land van projekte sonder planne geword. Hoe spandeer ʼn regering amper R400 miljard aan maatskaplike toelaes in ʼn jaar, sonder enige plan om daardie mense se afhanklikheid van toelaes te verbreek, en hulle aan die werk te kry?” sê Du Buisson.
Volgens Solidariteit moet hierdie vrae nóú beantwoord word en is daadwerklike aksie nodig om die land se probleme aan te spreek. Daarom stel Solidariteit ʼn spesiale prioriteitsfonds van ongeveer R5 miljard voor, wat jaarliks toegeken word om een probleem, nie net aan te spreek nie, maar werklik op te los.
“As die prioriteitsfonds bloot aan die betrokke departement toegeken word, vorm dit deel van die algemene begroting van daardie departement en skep dit ʼn verwagting dat daardie geld volgende jaar weer beskikbaar sal wees. Dit is daarom belangrik dat dit apart hanteer moet word.
“Ons voorstel is om eerstens wet en orde te herstel deur toe te sien dat die polisie se toerusting en voertuie behoorlik aangevul word. Volgende jaar kan die vervoerkrisis die prioriteit wees, en die jaar daarna kan infrastruktuur by skole aandag geniet. Hoe verwag ons van leerders om in die moderne era te werk, as die meeste skole nog in ʼn vergane era voortploeter sonder rekenaars of internettoegang?” vra Du Buisson.
Verder hoop hy die minister sal ook dringende optrede aankondig wat bevorderlik is om beleggings na Suid-Afrika te lok. Du Buisson sê dit raak duidelik dat selfs plaaslike beleggers toenemend verkies om hul geld landuit te neem.
“Die Nasionale Ontwikkelingsplan stel teikens vir ekonomiese groei, byvoorbeeld dat 30% van die bruto binnelandse produk (BBP) vaste kapitaalvorming moet wees. Ons sien egter niks in die regering se beleid wat hierdie groei sal aanwakker nie.
“Ons wil daarom voorstel dat alle beleggings in infrastruktuur, geboue of masjinerie onmiddellik belastingaftrekbaar moet wees in die jaar van kapitaaluitleg. Die plaaslike staalbedryf het dringend ʼn herlewing in nuwe konstruksieprojekte nodig.
“Vir werknemers om te floreer, moet hul werkgewers ook floreer. Die tesourie moet dringende stappe neem om ʼn meer sakevriendelike beleid daar te stel. Om korporatiewe inkomstebelasting in 2023 te verlaag was ʼn stap in die regte rigting, maar dit was beslis nie genoeg nie.”
Du Buisson glo die staat se gebrek aan beplanning word weerspieël in staatskuld wat jaarliks vererger. Volgens hom is daar nog geen aanduiding van hoe die staat beoog om die begrotingstekort aan te spreek nie.
Laastens glo Solidariteit dat regulasies verslap moet word om die privaat sektor toe te laat, en selfs aan te moedig, om die probleme by staatsondernemings op te los.
Du Buisson sê dit is onaanvaarbaar dat die belastingbetaler jaarliks miljarde aan reddingsboeie opdok sonder om enige oplossings te sien.
“Privatiseer van ons hawens en privatiseer ons treinspore. Laat die privaat sektor toe om nuwes te bou. Die land verloor miljarde rande aan voorraad wat ophoop en nie uitgevoer kan word nie. Daar is oplossings beskikbaar, maar dan moet die minister gehoor gee.
“Daar is geen rede hoekom Suid-Afrika hoef te verarm nie. Met die regte leiding en genoeg vryheid kan Suid-Afrika oor ʼn dekade ʼn vooruitstrewende paradys wees. Dis net die regering wat ons vooruitgang inperk en voorkom dat die land sy potensiaal bereik,” sê Du Buisson.