Afrikaans

English

loading
Mediaverklarings
1 dag gelede
solidariteit-eis-ingryping-in-krisis-by-kantore-van-die-meester-van-die-hooggeregshof

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit eis ingryping in krisis by kantore van die meester van die hooggeregshof

Die Solidariteit Regsnetwerk eis dringende ingryping by kantore van die meester van die hooggeregshof om die toenemende uitdagings wat met administrasie en dienslewering verband hou, en die slegte toestand waarin administratiewe stelsels en infrastruktuur verkeer by kantore oor die land heen te takel.

In ʼn skrywe gerig aan die minister van justisie en staatkundige ontwikkeling, asook die minister van handel, nywerheid en mededinging, die meester van die hooggeregshof én die hoofregter, Mandisa Maya, word die uitdagings wat regspraktisyns in hul interaksie met meesterskantore ervaar, duidelik beklemtoon.

Hierdie reeks ernstige uitdagings sluit in:
•    Uitgerekte en onverklaarbare vertragings in die hantering van boedelprosesse en ander sake wat meesterskantore moet bestuur. Hierdie vertragings veroorsaak groot frustrasie asook finansiële verlies vir kliënte en regspraktisyns.
•    Swak kommunikasie en gebrekkige samewerking van meesterskantore met regspraktisyns, wat tot misverstande, koördinasieprobleme en ʼn gebrek aan deursigtigheid in die hantering van sake lei.
•    ʼn Tekort aan voldoende en goed opgeleide personeel, wat meebring dat die ingewikkelde aard en volume van sake nie na behore hanteer word nie, wat die gehalte van dienslewering verder ondermyn.
•    ʼn Algemene gebrek aan moderne tegnologiese ondersteuning- en digitale stelsels, wat die proses onnodig vertraag en administratief bemoeilik.

Ook die toestand van infrastruktuur by geboue van meesterskantore is kommerwekkend, soos wat onder meer die geval by die Johannesburgse meesterskantoor is.

In sy brief stel Solidariteit  se Regsnetwerk ʼn reeks eise en maak aanbevelings aan die betrokke owerhede om die situasie te verbeter, onder meer:
•    die onmiddellike aanstelling van voldoende gekwalifiseerde personeel by meesterskantore om die huidige agterstande en werkslading effektief te bestuur;
•    die implementering van duidelike en sinvolle prosedures en kommunikasieprotokolle om samewerking met regspraktisyns te verbeter;
•    die gebruik van digitale tegnologie en outomatisering om prosesse te versnel, deursigtigheid te verhoog en administratiewe foute te verminder; en
•    ʼn verbintenis aan gereelde monitering van en verslagdoening oor die verbetering van dienslewering by meesterskantore.

Volgens Emil Glas, organiseerder van die Solidariteit Regsnetwerk, is die huidige situasie by meesterskantore ʼn bron van nasionale kommer wat al hoe meer gevolge inhou.

“Die huidige situasie by meesterskantore belemmer nie net die werk van regspraktisyns nie, maar dit raak ook die regte en belange van gewone Suid-Afrikaners wat op ʼn regverdige en tydige hantering van hul sake staatmaak. 
“Solidariteit verwag van die owerhede om hierdie kwessies met die nodige dringendheid te hanteer en die vereiste strukturele verbeterings aan te bring,” sê Glas.

Die Solidariteit Regsnetwerk beskou dit as sy plig om toe te sien dat die regte van sy lede beskerm word, en daarvoor word ʼn regstelsel geëis wat doeltreffend, deursigtig en regverdig in die belang van alle Suid-Afrikaners funksioneer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel