Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Bek-en-klouseer: Boere betaal die prys vir staat se vertraagde ingryping
Deur Kyla-Ann du Toit
Die bek-en-klouseerkrisis in Suid-Afrika is nie net ʼn gesondheidsbedreiging vir vee nie, maar ook ʼn toets van die staat se bestuursvermoë. Vir boere en rolspelers in die landbousektor is die huidige krisis die direkte gevolg van vertraagde regeringsingryping, gebrekkige toepassing van bestaande maatreëls en ʼn stelsel wat nie meer by die werklikheid op grondvlak aansluit nie.
Volgens dr. Livio Heath, ʼn navorser met uitgebreide kennis oor bek-en-klouseer, was die huidige situasie geensins onverwags nie.
“Dit was eintlik al in 2021 baie duidelik dat ons op ʼn ramp afstuur,” sê hy. “Ons sou nie in hierdie situasie gewees het as alles in plek was soos dit moes wees nie – soos beheer oor die beweging van vee, die beskikbaarheid van entstowwe en die konsekwente toepassing daarvan.”
Heath wys daarop dat bek-en-klouseer oor jare heen binne ʼn beperkte beheersone bestuur is, maar dat die siekte vanaf 2015 buite daardie gebiede begin versprei het. Vandag is daar gevalle in agt van die nege provinsies.
“Die grootste bydraende faktor tot die huidige situasie is dat die beweging van diere nie regtig beheer word nie. Diere beweeg in Suid-Afrika redelik vry van een plek na ʼn ander, al bestaan daar wetlike riglyne wat gevolg moet word.”
Hoewel staat- én privaat veeartse ʼn rol speel, beklemtoon Heath dat die toepassing van wetgewing nie slegs by veeartsenydienste berus nie. “ʼn Staatsveearts het nie die wetlike reg om, byvoorbeeld, beeste te stop of te verwyder nie. Dié verantwoordelikheid lê by die staat se sekuriteitsportefeuljes. Die samewerking tussen hierdie strukture is ook eenvoudig nie op die vlak wat dit moet wees nie.”
Volgens Heath is een van die grootste struikelblokke dat Suid-Afrika se huidige regulasies geskryf is vir ʼn land wat grotendeels bek-en-klouseervry was.
“Ons nasionale riglyne verwys steeds na ʼn ingeënte dier as ʼn besmette dier. Dit strook nie met internasionale riglyne nie. Die gevolg is dat boere wie se diere ingeënt word, onder dieselfde beperkings geplaas word as boere met besmette diere, al is die risiko nie dieselfde nie. In ons huidige situasie maak dit nie sin nie. ʼn Boer vra tereg hoekom hy sy diere sal laat ent as dit hom onder kwarantyn plaas, terwyl die siekte nie eens daar is nie.”
Hoewel die Landbounavorsingsraad (LNR) wetlik verantwoordelik is vir entstofvoorsiening, produseer Suid-Afrika sedert 2006 nie meer sy eie bek-en-klouseer-entstowwe nie.
“Suid Afrika voer entstowwe in met die doel om produksiekapasiteit weer op te bou, maar dit het nog nie gerealiseer nie,” sê Heath.
Daar is egter hoop. Heath sê twee internasionale vervaardigers uit Turkye en Argentinië is naby daaraan om entstowwe aan Suid-Afrika te verskaf. “Ons praat van ongeveer 2,5 miljoen dosisse met die eerste invoere. As hierdie entstowwe beskikbaar raak, spreek dit tot ʼn groot mate die beskikbaarheidsprobleem aan.”
Die impak van hierdie krisis op boere is reeds verwoestend. “Die druk wat boere tans ervaar is fenomenaal,” sê Heath. “Baie boere staan op die punt waar hulle moet besluit of hulle gaan aanhou boer of nie.”
Hy waarsku dat veral die melkbedryf onder geweldige druk is. “Melkprodusente werk met klein marges. Enige ekstra koste of beperking kan die verskil beteken tussen oorlewing en bankrotskap. Beperkings op melkverskuiwing en dubbele pasteurisasie veroorsaak reeds tekorte in verwerkingskettings.”
In die rooivleisbedryf is die prentjie ewe somber. “Voerkrale verloor miljoene rande. Die grootste risiko is dat ons op ʼn stadium uit nuwe diere gaan hardloop, wat die hele stelsel sal ontwrig.”
Volgens Heath is die grootste gevaar nou dat verouderde benaderings steeds voortgesit word. “Ons moet aanvaar dat die ou oplossings nie meer werk nie. Dit gaan vereis dat regulasies verander en dat daar werklik tussen die regering en die privaat sektor saamgewerk word.”
Wat nou gedoen – of nié gedoen – word, sal bepaal of bek-en-klouseer ʼn hanteerbare krisis bly, of ʼn permanente krisis vir die Suid-Afrikaanse landbousektor word.