loading
Mediaverklarings
1 week gelede
bela-aksie-nou-nodig-groepe-byeen-oor-wet-wat-skole-wil-verengels

Foto Krediet: Okay Deer

Bela-aksie nóú nodig: Groepe byeen oor wet wat skole wil verengels

Aksieplanne rakende die Wet op Basiese Onderwys (Bela) word môre (10 Oktober) in die teenwoordigheid van nagenoeg 50 organisasies, minstens 71 skole én ander groepe met belange in Afrikaanse onderwys beraam en aangekondig.
Hierdie aksieberaad word deur Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) aangebied en is spesifiek op skoolbeheerliggame, skoolbesture en Afrikaanse instellings gemik.
Dié byeenkoms vind plaas binne die tydperk van drie maande wat pres. Cyril Ramaphosa toegelaat het om verdere gesprekke oor artikels 4 en 5 van die Bela-wet te voer, voordat die wet geïmplementeer word. 
Hierdie artikels sal finale besluitneming oor skoolbeleid rakende taal en toelating van beheerliggame wegvat en dit aan regeringsamptenare oordra. Die tydperk van drie maande vir gesprekvoering sedert die Bela-wet op 13 September deur pres. Ramaphosa onderteken is, sal einde vanjaar verstryk. Tot dusver is geen nuwe ooreenkoms bereik nie.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, kan Bela inderdaad as ’n krisis vir die toekoms van Afrikaans, die Afrikanerkultuur én moedertaalonderrig beskryf word, derhalwe is dringende aksieplanne nodig.
“Al is hierdie stryd een van die belangrikstes nóg, is die stryd om Afrikaans se bestaansreg niks nuuts nie. Hierdie keer is dit ’n aanval onder ’n ANC-vaandel.
“Die ANC is nou die ‘koloniste van ’n spesiale soort’! Soos koloniale magte van ouds slaan hulle glad nie ag op goeie onderwysbeginsels, plegtige grondwetlike ooreenkomste oor moedertaalonderwys en ouers óf beheerliggame se demokratiese regte nie.
“Geen respek word getoon vir die grondliggende belange van kultuurgemeenskappe nie,” sê Buys.
Volgens Buys gaan die Bela-aksieberaad die geleentheid gebruik om ’n beroep te doen op organisasies en belangegroepe om hulle steun vír Afrikaans en afkeer van Bela ook prakties en sigbaar te demonstreer.
Onder die sprekers wat aangedui het hulle gaan die beraad bywoon, is die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube.
Verteenwoordigers van Solidariteit, AfriForum en die SOS gaan oor die kritieke belang van vennootskap in die stryd teen Bela praat en aandui watter spesifieke aksies die stryd vorentoe gaan kenmerk.
Solidariteit, AfriForum en die SOS beplan regsaksie indien die klousules in die wet onveranderd geïmplementeer word.
Die Bela-aksieberaad begin môre om 09:00 op die Sol-Tech-kampus in Monumentpark, Pretoria.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel