loading
Blogs
3 maande gelede
bela-die-mens-se-wet-of-god-sn

Foto Krediet: Solidariteit

Bela: Die mens se wet, of God s’n?

Deur Anlia Archer – Bedryfspesialis & Netwerk Organiseerder: Onderwysernetwerk

VRYWARING: Ons moet vir mekaar kan sê dat geloof ʼn emosioneel belaaide kwessie is waaroor min van ons ooit gaan saamstem. Die bedoeling met hierdie blog is geensins om vinger te wys, of om myself as woordvoerder van ʼn spesifieke groepering aan te stel nie. Dit spruit bloot uit my ervaring daarvan dat my diepe geloofsoortuigings my, as foutvatbare individu, menige male geanker het en dat ek graag dieselfde saligheid vir my kind toewens.

My dogter is vanjaar in graad een. Ek voel dit is ʼn nuwe hoofstuk in ons ouerskapreis en nou is ons ook uiteindelik deel van die skool se volwaardige ouerkorps. Ek neem deel aan elke insamelingsgeleentheid, en woon elke vergadering en inligtingsaand by, want in ʼn mate kan ek steeds nie glo ons is al hier nie! Soos enige ander ouer wil ek net die beste vir ons kind hê en ek staan stom van dankbaarheid en verwondering oor die voorreg wat ons het om ons kind na ʼn besonderse en uitnemende skool toe te kan stuur – ʼn openbare skool, moet ek byvoeg.

Ek is dankbaar vir die klein outjie wat skaars kan lees, maar wat met selfvertroue ʼn Bybelversie tydens ʼn ouervergadering se opening voorlees. Ek is opgewonde oor die dierbare klein dogtertjie wat so mooi, en eintlik baie diep, bid vir ons Vader se hand van beskerming oor elkeen van die kinders en hul gesinne. Ek wonder of sy verstaan wat sy bid maar ek besef, selfs al het iemand haar voorgesê en is hierdie gebedjie getrou ingeoefen soos ʼn gediggie vir die eisteddfod, dat die saadjie geplant is en dat hierdie kind in alle waarskynlikheid die gebedjie gaan onthou.

Die aard van my werk laat my toe om byna op ʼn daaglikse basis tyd in personeelkamers en in skoolhoofde se kantore deur te bring. Dit is ook tipies dat enige skoolhoof vir ʼn buitestander gaan vertel van die suksesse wat hulle as skool bereik het. Sonder uitsondering, sê elke skoolhoof en onderwyser dan op sy of haar beurt: Dit is net deur God se genade.

Ons kan baie regstegnies raak oor die gevare van die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela). Ons besef skole se taalbeleid is in gedrang en die voortbestaan van ons top- Afrikaanse skole, wat met ouers se geld befonds word, is op die spel. Verder weet ons ook dat moedertaalonderrig, in enige fase van leer, ongeëwenaar is en dat die waarde daarvan nie genoeg beklemtoon kan word nie en dat dit nou ook in gedrang is. Dit is egter die kwessie van ʼn neutrale geloofsbeleid wat my teen die bors stuit. Beoefening van geloof in skole is al vir ʼn geruime tyd in gedrang. Ons lees gereeld van aktivistiese groepe wat geloof heeltemal uit ons skole wil verwyder. Daarmee saam stipuleer die voorgestelde wysigings dat individue kan aansoek doen vir vrystelling van ʼn skool se gedragskode indien dit nie met hulle eie geloofsoortuigings strook nie. Hoewel hierdie beleid reeds toegepas word, sal die voorgestelde wetswysiging dit afdwing en sal die staat die finale seggenskap hê oor die geloofsbeleid wat ʼn skool moet volg. Ek sidder om te dink watter katastrofiese gevolge dit gaan bring.

My bekommernis hieroor is tweeledig – ek is ʼn besorgde ouer én ʼn besorgde (voormalige) onderwyseres. My bekommernis as ouer lê in die feit dat my kind moontlik blootgestel kan word aan idees en waardes waarvoor sy eenvoudig nie volwasse genoeg is nie. Ek gun elkeen hul plekkie onder die son, maar wil graag hê dat dieselfde aan my en my nageslag gegun moet word. Ons as ouers het ʼn doelbewuste besluit geneem om ons dogter in ʼn skool te plaas waar Christelike beginsels die fondament vorm. Ek sukkel ook om te verstaan hoe jy ʼn kind op ʼn morele en etiese wyse onderrig sonder om Christen-waardes oor te dra. Dit is deel van my menswees en van my DNS. Dit is deel van die oorgrote meerderheid van die konserwatiewe Afrikanerbevolking. Nie net dit nie, maar ek word daarvan ontneem om ʼn direkte opdrag wat deur my God aan my gegee is, na te kom.

As onderwyseres is ek bekommerd omdat geloof ʼn belangrike rol speel in die dissiplinering van kinders. Ons leer hulle wat reg en verkeerd is en dat jy jou medemens moet liefhê soos jouself. Dit herinner kinders aan hulle eie moraliteit en dat jy eties moet omgaan in jou doen en late. Hierdie voorgestelde wetswysiging gaan onderwysers nog meer aan bande lê as dit kom by die handhawing van dissipline. Die geloofsbeleid by ʼn skool moedig ʼn behoort-gevoel aan, dit moedig gemeenskapsbetrokkenheid aan, dit moedig respek vir ander en ʼn karakter van nederigheid en integriteit aan – dié dinge wat in die hedendaagse samelewing vir seker meer benodig word. Dit dien inderdaad as morele kompas en vorm die stewige fondament wat ons as opvoedkundiges kan gebruik om te bepaal of ons besluite geregverdig is.

Hoewel dit nie deel is van die formele kurrikulum soos in die dae van ouds nie, word Bybelstories steeds by die formele skoolwerk ingewerk. Dit leer kinders reeds van kleins af dat dit nie altyd maklik is om die regte ding te doen nie. Ek is besonder trots daarop dat my sesjarige baie mooi kan verduidelik wat die betekenis van die kruis en Jesus se kruisiging is, al is die begrip daarvan abstrak. Hierdie begrip is vir seker in die skool verdiep en verder vasgelê. Ons sien ook die krag van opening in die vierkant, die opening met Skriflesing en gebed voor personeelvergaderings en diehartlike uitnodigings vir die gebedsgroepies vir mammas by hierdie skole. Die oorgrote meerderheid van die kinders in hierdie skole floreer en woeker met hul Godgegewe talente. Om kinders oor die Woord en God se genade te kan leer, is ʼn besonderse voorreg, maar ook een van die swaarste verantwoordelikhede wat ʼn onderwyser het. Daar is ʼn ewigheidselement hieraan gekoppel en ek glo ook dat ons eendag waarskynlik groter verantwoording hiervoor sal moet doen.

As ʼn Christen-vrou, -ma en -onderwyseres, maar die belangrikste as dogter van God, is dit vir my van kardinale belang dat my kind volgens Christen-beginsels onderrig word en daarin onderlê word.

Ek beskou hierdie dan as my openbare verklaring van my afhanklikheid van God die Vader en my opneem van my groot Bybelse taak om my kind in Sy weë te onderrig. Ek erken dat ek soms foute gaan maak, maar dat ek steeds alles in my vermoë sal doen om my plig na te kom. Hiermee besef ek natuurlik ook dat die tyd gekom het dat ek opstaan teen enigiets wat die uitvoering van hierdie belangrike taak bedreig. Daarom is dit belangrik dat ons as ouers opstaan vir ons kinders se regte, dat ons ʼn harde en duidelike NEE sê teen Bela, en dat ons ophou om louwarm te wees as dit kom by ons kinders se opvoeding. Ek doen ʼn beroep op alle Afrikaner-ouers om die erns van die saak te besef en saam met my te staan om ons kinders, hul toekoms en hul siele te beskerm. 

~2 Tim. 3:15 – 17: “… en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel