loading
Artikels
4 dae gelede
bela-dr-dirk-hermann-se-nuwe-boek-sielstryd-nou-gratis-beskikbaar

Foto Krediet: Solidariteit

Bela: Dr. Dirk Hermann se nuwe boek, Sielstryd, nou gratis beskikbaar

Deur Leré Nel

Die Bela-wet is nie net nog ʼn wet wat moedertaalonderrig bedreig nie – dit is ʼn nuwe hoofstuk in Suid-Afrika se geskiedenis. Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, was die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) ʼn proses van “gebroke ooreenkomste”. Dit is ʼn baie ernstige kwessie wat ons kinders se lewens en toekoms raak – en dit is dus noodsaaklik vir elkeen om ingelig te wees daaroor!

In sy nuutste boek, Sielstryd, gee dr. Dirk Hermann ʼn in-diepte blik van alles wat tot dusver agter die skerms gebeur het met een van die mees betekenisvolle veldtogte wat Solidariteit al geloods het – die stryd teen die omstrede Bela-wet.

Na die 2024-verkiesing het Suid-Afrika by ’n kruispad gestaan. Die politieke orde het opnuut verskuif, en daarmee saam kom die vraag: wie is ons en waarheen is ons op pad? Die Bela-kwessie het ʼn simbool geword vir hierdie tyd van stryd en herontdekking. Daar was ʼn massiewe gemeenskapsreaksie teen die Bela-wet, en dit is nou duideliker as ooit dat Afrikaners nie net gaan lê nie.

En dit is presies die storie wat Sielstryd vertel.

Sielstryd is ʼn eerlike weergawe van al die Solidariteit Beweging se onderhandelinge met die Presidensie rondom hierdie kwessie. Dit is ʼn verhaal van saamstaan en handevat in die aangesig van uitermatige regeringsteenstand; van ʼn gemeenskap wat opstaan teen ʼn meerderheidsregering se poging om onregverdige beleide op minderhede af te dwing.

“Dis bykans onmoontlik om met ʼn party te onderhandel wat aan meervoudige-persoonlikheid-steuring ly. Vandag sluit jy ʼn ooreenkoms met een persoonlikheid en more verbreek ʼn ander persoonlikheid dit,” verduidelik dr. Hermann.

Alhoewel die kwessie baie nuusdekking gekry het, is daar steeds talle dinge wat agter die skerms gebeur het waarvan die publiek kennis behoort te dra – ʼn bindende skikkingsooreenkoms wat weens belaglike redes verontagsaam is; gesprekke agter geslote deure; WhatsApp-boodskappe aan pres. Ramaphosa en Helen Zille; intense onderhandelinge met die Presidensie en die regering van nasionale eenheid (RNE).

“Die ANC en Presidensie het ʼn meesterverhaal geskep wat op sy beste mank aan die waarheid was. Hulle het agter die vertroulikheid van die mediasieproses geskuil. As dit net gelos word, sal hul verdraaide waarheid die geskiedenis word,” sê Hermann.

Sielstryd wys hoe die Bela-wet meer geword het as net ’n onderwyskwessie – dit het die simbool geword van ’n gemeenskap wat weier om stilgemaak te word. ’n Gemeenskap wat weier om te buig voor beleid wat minderhede onderdruk – veral as hierdie beleide op oneerlike en onetiese wyse ingestel word.

Hierdie boek sal jou inlig en jou bemagtig met die waarheid. En dit sal jou wys dat ons bloed oranje sal bly. Dit is ’n storie van moed, gemeenskapsamehorigheid en volharding – ’n getuienis van hoe ons saam kan keer dat onreg geskied.

Dr. Hermann en Solidariteit is opgewonde om hierdie ongelooflike boek uiteindelik gratis met julle te kan deel. Klik hier om ʼn gratis PDF-weergawe af te laai, of skandeer hierdie kode.

‘n Opwindende geleentheid om ‘n getekende boek te wen!

VRAAG: Die Solidariteit Beweging het gebruik gemaak van ’n belangrike druk-meganisme tydens die Bela-optog om sodoende mag te balanseer. Wat was hierdie druk-meganisme?

In die week se episode van die Solidariteit Wêreld met Dirk Hermann word die antwoord tot die vraag gegee. Indien jy die regte antwoord in die kommentaar afdeling van die episode laat, staan jy ’n kans om een van vyf getekende Sielstryd-boeke te wen.

Die stryd is nie verby nie

Ons hoop dat hierdie boek mense sal inlig, inspireer en weer hoop sal bring. En ons hoop dat mense dit sal deel om ook hoop vir ander te bring.

Daar is al groot vordering gemaak in die Bela-stryd, maar die geveg is nog vêr van verby. Registreer jou gratis profiel en bly ingeskakel by Solidariteit om op hoogte te bly van kwessies soos dié wat jou raak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel