loading
Artikels
13 uur gelede
wat-beteken-die-bela-riglyne-nou-eintlik

Foto Krediet: Solidariteit

Wat beteken die Bela-riglyne nou eintlik?

Deur Kyla-Ann du Toit

Daar is goeie nuus vir Afrikaanssprekende ouers, onderwysers en skole. Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, het onlangs riglyne oor die omstrede Bela-wet (Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys) gepubliseer – ʼn belangrike deurbraak vir Afrikaanse skole! Hoewel hierdie riglyne nie die wet self verander nie, bied dit tog ʼn mate van beskerming vir Afrikaanse skole, wat tot dusver ontbreek het.

Wat beteken die riglyne?

Die riglyne bepaal duidelik dat skole nie eenvoudig beveel mag word om hul taalbeleid te verander nie – veral nie as genoeg ouers skriftelik aandui dat hulle die bestaande taalbeleid ondersteun nie. Dit beteken dat Afrikaanse skole nie sommer net gedwing kan word om Engels of enige ander taal in hul aanbod in te sluit as daar reeds ʼn sterk aanvraag na Afrikaans is nie.

Verder stel die riglyne ʼn meer ordelike proses voor:

  • • Skole se bestaande taalbeleid moet in ag geneem word.
  • • Die gemeenskap (met ander woorde die groter onderwysdistrik) se behoeftes moet deeglik oorweeg word.
  • • Die beskikbaarheid van noodsaaklike hulpbronne moet in ag geneem word voordat daar van ʼn skool verwag kan word om hul taalbeleid te verander.
  • • Daar moet eers bevestig word of ander skole in die groter onderwysdistrik reeds in die taalbehoeftes van die onmiddellike omgewing en voedingsgebied voorsien.
  • • Die reg op moedertaalonderrig móét in ag geneem word.

Waarom is dit belangrik?

Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) beskou die riglyne as ʼn taktiese deurbraak. Volgens hierdie instellings kry Afrikaanse skole, waarvan baie reeds oorvol is, nou ʼn mate van beskerming teen onregverdige staatsinmenging. Die riglyne is die gevolg van insette wat hierdie drie instellings tydens die openbaredeelnameproses gelewer het. Dit wys dat volgehoue druk vrugte afwerp en dat jóú stem werklik ʼn verskil maak.

Hoewel riglyne nie dieselfde regskrag as regulasies het nie, is dit wel ʼn belangrike rigtingwyser. As amptenare hierdie riglyne ignoreer, kan dit sterker gronde vir regstappe skep. Dit is ook ʼn bousteen vir toekomstige regulasies, wat binne die volgende twee maande vir openbare kommentaar verwag word.

Die stryd duur voort

Solidariteit waarsku egter dat die stryd teen die Bela-wet nog lank nie verby is nie. Dié wet verteenwoordig steeds ʼn ernstige vertrouensbreuk en aanval op onderwysvryheid – veral Afrikaanse moedertaalonderrig. Solidariteit sal nie ophou veg nie!

Solidariteit beplan om binnekort praktiese riglyne en hulpbronne vir skole, ouers en onderwysers beskikbaar te stel om te verseker dat almal goed toegerus is om hierdie stryd teen sentralisering voort te sit en moedertaalonderrig te ondersteun.

Wat nou?

Die riglyne is ʼn stap in die regte rigting, maar dit is net die begin. Dit is belangrik dat skole, ouers en gemeenskappe ingelig bly en voortgaan om saam te veg vir hul taal en hul kinders se toekoms. Afrikaanse onderwys is nie onderhandelbaar nie!

Bela-riglyne gee Afrikaanse skole nuwe hoop, maar die stryd is nie verby nie! Word deel van die stryd teen die Bela-wet – jóú stem is waardevol!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel