loading
Artikels
2 dae gelede
openbare-kommentaar-oor-bela-regulasies-verleng

Foto Krediet: OkayDeer

Openbare kommentaar oor Bela-regulasies verleng

Deur Leré Nel

Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) het die tydperk vir openbare kommentaar oor twee belangrike konsepregulasies wat skole direk raak, met ʼn maand verleng. Dit het betrekking op die minimum eenvormige norme en standaarde vir die kapasiteit van gewone staatskole, sowel as die toelating van leerders tot staatskole. Volgens die amptelike kennisgewing in die Staatskoerant moet alle insette en kommentaar nou teen 5 Oktober 2025 ingedien word.

Die regulasies raak sleutelaspekte van die skoolstelsel – onder meer hoe klasgroottes en kapasiteit bepaal word en die reëls waarvolgens leerders tot skole toegelaat word.

Johnell Prinsloo, onderwysnavorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die verlenging is goeie nuus.

“Ons verwelkom die verlenging aangesien dit instellings, skole en ander organisasies en belanghebbendes kans gee om hierdie regulasies deeglik te ondersoek en kommentaar te lewer.”

Volgens Prinsloo kan die impak van hierdie regulasies verreikend wees vir almal wat by die skoolgemeenskap betrokke is. ʼn Langer kommentaartydperk gee aan ouers, onderwysers en beheerliggaamlede die kans om behoorlike navorsing te doen en ʼn sê te hê in die proses en uitkoms van hierdie wet.

Die DBO het aangedui dat alle kommentaar aan die Direkteur: Regsdienste gerig moet word en dat dit spesifiek gemerk moet word vir die aandag van adv. Zukile Ntshwanti.

Kommentaar oor die regulasies oor skoolkapasiteit moet aan CapacityRegz@dbe.gov.za gestuur word.

Kommentaar oor die toelating van leerders moet aan AdmissionRegz@dbe.gov.za gestuur word.

Kommentaar wat ná 5 Oktober ingedien word, sal nie oorweeg word nie.

Solidariteit doen ʼn beroep op sy lede en alle rolspelers in die skoolgemeenskap om hierdie geleentheid te benut om die toekoms van skole in Suid-Afrika op ʼn konstruktiewe wyse te beïnvloed.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel