loading
Artikels
2 weke gelede
bela-memorandum

Foto Krediet: Reint Dykema

Bela Memorandum

MEMORANDUM

Aan: Die Regering van Nasionale Eenheid

Van: Verteenwoordigers van die Afrikaanse gemeenskap en ondersteuners van moedertaalonderwys
5 NOVEMBER 2024

Ons, die sprekers van Afrikaans en ondersteuners van moedertaalonderwys, uit alle bevolkingsgroepe:

  • • beklemtoon die belangrikheid van hoëgehalte-onderwys vir ons land;
  • • glo aan die krag van moedertaalonderrig as metode om gehalte-onderwys te voorsien en te beskerm;
  • • gun gehalte-moedertaalonderrig aan alle taalgemeenskappe;
  • • glo dat Suid-Afrika nie net ‘n onderwysprobleem het nie, maar veral ‘n taalprobleem;
  • • is teleurgesteld met die staat se stadige vordering met moedertaalonderrig vir ander taalgemeenskappe, wat tot gevolg het dat bykans 90% van Suid-Afrikaanse kinders nie in hulle eie taal kan skoolgaan nie;
  • • gee erkenning aan die geslagte voor ons se stryd om Afrikaans as onderwystaal te vestig te midde van moeilike omstandighede;
  • • glo dat onderwys in eie taal ook waardes en kultuur oordra;
  • • spreek ons waardering uit vir die Afrikaanse skoolgemeenskap wat ‘n uitnemende skoolstelsel gevestig het;
  • • glo aan die gesag van beheerliggame wat ouers die reg en verantwoordelikheid gee om te besluit oor hulle kinders se opvoeding;
  • • verwerp die idee van staatskole waar sentraal oor skole besluit word;
  • • is diep teleurgesteld in die staat se onvermoë om gedurende die afgelope 30 jaar nuwe skole te bou en dan kapasiteituitdagings voor die deur van reeds oorvol Afrikaanse skole plaas; en
  • • glo nie net in Afrikaans of selfs moedertaalonderrig nie, maar in goeie onderwys, demokratiese besluitneming en kultuuroordrag.
    Daarom verwerp ons:
  • • enige aanval op of verskraling van moedertaalonderrig in die algemeen en Afrikaans spesifiek;
  • • die Bela-wetgewing wat oor die algemeen neig om die staat meer mag oor ons skole te gee en daardeur ouers se gesag ernstig ondermyn en vernietig;
  • • spesifiek artikels 4 en 5 van die Bela-wet wat aan die onderwyshoof die reg gee om aan skole voor te skryf oor taal en toelating; en
  • • die Gautengse Onderwysdepartement se vyandige houding teenoor Afrikaanse skole.
    Daarom besluit ons op die volgende aksiestappe:
  • • om alles in ons vermoë te doen om die uitnemendheid van Afrikaanse skole te beskerm;
  • • om moedertaalonderrig in die algemeen te bevorder, om sodoende uitnemende onderrig in alle taalgemeenskappe te bevorder;
  • • om pogings te ondersteun wat kinders, minstens op funksionele vlak, ‘n derde taal laat aanleer;
  • • om met alles wat ons het Afrikaanse skole en Afrikaans in skole te beskerm;
  • • om die sentralistiese aard van die Bela-wet en spesifiek artikels 4 en 5 te beveg;
  • • om aktief deel te neem aan bedinging met die regering en partye in die Regering van Nasionale Eenheid om die Bela-wet te wysig;
  • • om spesifiek die DA en VF+ te vra om hul deelname aan die Regering van Nasionale Eenheid te heroorweeg indien die Bela-wet in sy huidige formaat in werking gestel word;
  • • om voort te gaan met hofaksie indien die Bela-wet in sy huidige formaat geimplementeer word; en
  • • om die ontwikkeling van onafhanklike skole as aanvullend tot die Afrikaanse openbare skoolstelsel te ondersteun.
    In die lig van bogenoemde eis ons dat:
  • • meer gedoen moet word om moedertaalonderrig in die algemeen, en spesifiek binne die wetlike raamwerk, te bevorder;
  • • beheerliggame en dus ouers se reg om oor hulle kinders se skole te besluit, herstel word;
  • • die samewerkende model wat vir bykans 30 jaar die kernpilaar van basiese onderwys was, beskerm word;
  • • artikels 5 en 6 van die Suid-Afrikaanse Skolewet herstel word en dat artikels 4 en 5 van die Bela-wet geskrap word; artikels 4 en 5 van die Bela-wet nie in werking gestel word nie, hangende bogenoemde prosesse; en dat
  • • gekyk word na hoe norme en standaarde, regulasies en wetswysigings aan bogenoemde beslag kan gee.

Vir ons taalgemeenskap is moedertaalonderrig in ons skole en vir ons kinders ‘n rooilyn.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel