loading
Blogs
10 uur gelede
ope-brief-nasionale-dialoog

Foto Krediet: Reint Dykema

Ope brief | Nasionale Dialoog

Geagte president Ramaphosa,

Die mense van Suid-Afrika wil praat, maar hulle wil nie met u praat nie. U het die vertroue van Suid-Afrikaners verloor.

Hulle sien die nasionale dialoog in sy huidige formaat vir wat dit is: ’n staatsgeborgde ANC-herlewingsprojek.

Met alle respek, ons stel nie belang in die herlewing van die ANC nie.

Mense van Suid-Afrika het begin met ’n groot dialoog, maar dit is iets anders as die sogenaamde nasionale dialoog. Mense praat in werksplekke, om die braaivleisvuur, by sportbyeenkomste en in kerke oor ’n versugting na ’n ander bedeling.

Hulle wil nie mooi praatjies met die ANC-geleide regering hê nie, hulle wil hulle weg hê.

Die groot dialoog het reeds by die stembus begin toe die ANC gestraf is met 40%. Dit was die eerste stem van die mense.

Na die stem van die mense by die stembus gehoor is, het daar nog stemme opgegaan dat die gemeenskap met mekaar moet praat. Dit is onder andere deur van die Stigtings geïnisieer.

Die idee van die nasionale dialoog is juis gebore vanuit ’n ANC wat inplof.

Die ANC was beangs daaroor en het die spontane gemeenskapsdialoog gekaap.

Die nasionale dialoog het ’n staatsdialoog geword. Daar is in die Uniegebou deur u, as president, met ’n ANC-kleed, daaraan geboorte gegee. Die oomblik toe dit gebeur, is die nasionale dialoog doodgebore.

Die behoefte aan dialoog het uit die gemeenskap gekom. Dit is juis as gevolg van ’n diep breuk met die regering dat mense oor ’n ander soort bedeling wil praat.

Die regering voel bedreig deur dié tipe dialoog en het daarom besluit om die dialoog te kaap. Die regering wil nie oop dialoog voer nie, maar wil die agenda en uitkoms van dialoog, ten gunste van die ANC, bepaal. Hulle is, met baie goeie rede, bang vir ’n dialoog wat hulle verder gaan ontbloot.

Die stem van mense wat wil praat, kan nie stilgemaak word deur dit te probeer beheer nie. Solidariteit en die groter Solidariteit Beweging praat graag. Ons het ’n geskiedenis van praat en gaan steeds praat.

Ons glo egter nog meer aan doen. Ons praat nie net nie, ons bou alternatiewe. Kyk gerus na wat ons al gebou het.

Ons gaan met vakbonde, Stigtings, kultuurgemeenskappe en ander burgerlike organisasies praat. Ons gaan praat oor die frustrasie van die groter gemeenskap met die ANC-geleide regering.

Ons gaan praat oor hoe iets anders moet lyk en wat gedoen moet word.

Ons sal deelneem aan gemeenskapsdialoog, maar nie staatsdialoog nie.

Meneer die president, los ons gemeenskap uit. Ons wil praat oor ’n Suid-Afrika anderkant die huidige ANC. Ons sien só uit daarna.

Ons gaan praat en ons praat gaan nie gekaap word nie.

Met dank
Dr. Dirk Hermann
Bestuurshoof: Solidariteit

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel