loading
Artikels
4 dae gelede
bela-optog-gee-een-dag-vir-die-toekoms-van-ons-kinders

Foto Krediet: Solidariteit

Bela-optog: Gee één dag vir die toekoms van ons kinders

Die dag van protes teen die Wet op Basiese Onderwys (Bela) gaan op Dinsdag 5 November in Pretoria plaasvind. Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, word daar met hierdie dag gevra dat die publiek één dag opgee vir die toekoms van ons kinders.

Dié dag word deur die Solidariteit Beweging, waaronder Solidariteit,  AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) sorteer, georganiseer. ʼn Breë front van ander Afrikaanse organisasies asook ander onderwysorganisasies gaan ook deelneem. Tientalle beheerliggame het ook aangedui dat hulle ouers gaan mobiliseer vir die protes en ʼn groot aantal tradisionele leiers wat sterk voel oor moedertaalonderrig gaan saam protesteer.

Volgens Buys gaan die onderhandelinge met verskeie partye rakende Bela voluit voort. “Daar is ʼn magsbalans in onderhandeling nodig. Die protessaamtrek- en optog is noodsaaklik om ons protes in die openbaar te wys. Hierdie is nie ʼn klein politieke geskil nie. Dit gaan oor die oorlewing van ʼn taal- en kultuurgemeenskap,” sê Buys.

Die optog sal by die Voortrekkermonument begin, waarvandaan almal saam na Freedom Park sal beweeg.
Buys sê Freedom Park simboliseer eenheid en verskeidenheid vir die regering. President Ramaphosa het gesê die doel van die uitstel van die implementering van artikels 5 en 6 van die Bela-wet is ter wille van eenheid. Ons glo dat Bela eenheid bedreig en verskeidenheid vernietig. Dis hoekom ons die regering by Freedom Park wil ontmoet.

Deelnemers aan die optog word gevra om vanaf 08:00 die oggend by die Voortrekkermonument aan te meld en verrigtinge sal vanaf 10:00 posvat. Deelnemers word aangemoedig om te registreer en gemaklike skoene aan te trek.

Om aan die dag van protes deel te hê moet ʼn kort registrasievorm op www.belaprotes.co.za voltooi word.
Die Bela-wet se artikels 5 en 6 vat die finale sê oor die toelating- en taalbeleid by ʼn skool van die beheerliggaam en die ouer weg, en gee dit oor aan ʼn staatsamptenaar wat dan die mag het om dié beleide te verander.

Pres. Cyril Ramaphosa het in September vanjaar onderneem om vir drie maande lank dié artikels nie te implementeer nie, sodat gesprek daaroor gevoer kan word en onderhandelinge kan plaasvind.
Volgens Buys moet daar in dié tydperk soveel as moontlik druk op die regering geplaas word sodat daar ʼn skikking bereik kan word.

“Ons tyd is dus min. Ons doen ʼn beroep op beheerliggame en ouers om in groot getalle te mobiliseer om só te help om Bela te stop. Ons doen ʼn beroep op jou, asook jou vriende en familie om in groot getalle op te daag. Dit is een dag se stap vir die toekoms van ons kinders,” sê Buys.

Volledige besonderhede oor die Bela-protesoptog kan saam met die registrasievorm op www.belaprotes.co.za gekry word.
Bela-protesoptog:
Wanneer: Dinsdag 5 November 2024 vanaf 08:00
Waar: Voortrekkermonument (na Freedom Park)

#StopBela! Klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel