loading
Blogs
1 jaar gelede
bela-verbreek-94-skikking-oor-skole-en-taal

Foto Krediet: Solidariteit

Bela verbreek 94-skikking oor skole en taal

Bela is nie ʼn klein gebeurtenis nie. Dis ʼn verbreking van die skikking van 1994 en dit gaan lei tot ʼn vertrouensbreuk tussen die Afrikaanse gemeenskap en die regering. As jy aan ons kinders raak, raak jy aan ons. 

In 1995 trek Nelson Mandela ʼn rugbytrui tydens die wêreldbekereindstryd aan – ʼn simbool van ’n kompromie wat aangegaan is. 

Ook in 1995 interpreteer die Konstitusionele Hof, in die saak rakende die grondwetlikheid van die Gauteng Education Bill van 1995, hierdie kompromie of skikking – die rugbytrui van onderwys.

Hoofregter Mahomed skryf in die uitspraak: 

“….Those who controlled model C schools would continue to enjoy the right for every person to be instructed in such schools in the language of their choice.”

Regter Kriegler skryf in die uitspraak soos volg: Die Grondwet bly ʼn skans teen verswelging van enige minderheid se gemeenskaplike kultuur, taal of godsdiens. Betekenisvolle getalle taalsprekers het gevolglik ʼn afdwingbare reg teenoor die owerheid op onderrig in hul gemeenskaplike taal solank dit redelikerwys uitvoerbaar is. Hy sê wel die Grondwet verbied diskriminasie op grond van ras, maar beskerm verskeidenheid.

Regter Sachs skryf in dieselfde uitspraak dat die Afrikaanse taal, soos alle tale, nie bloot ʼn kommunikasie- en onderrigmiddel is nie, maar ʼn sentrale element van gemeenskapsamehorigheid en identifikasie vir ‘n eiesoortige gemeenskap in Suid-Afrika. Ons het dus nie net te doen met praktiese kwessies van pedagogie nie, maar met moeilik omskryfbare faktore wat ‘n belangrike deel van die opvoedkundige strewe uitmaak. Boonop kan wat in skole aangaan, direkte implikasies hê vir die kulturele persoonlikheid en ontwikkeling van groepe wat ver buite die grensdrade van die skole self verspreid is, aldus Sachs.

Hy skryf ook dat die Afrikaanse taal een van die kulturele skatte van die Suid-Afrikaanse lewe is, dat dit wyd gepraat en diep ingeplant is, en dat dit die voertuig van uitsonderlike letterkunde, die draer van ʼn ryk wetenskaplike en regswoordeskat, en moontlik die mees kreoolse of “reënboogtaal”, van alle Suid-Afrikaanse tale is.

Die hof se gevolgtrekking is dat ons Grondwet heeltemal in ooreenstemming met die beginsels van internasionale menseregte is indien dit:

  • die staat verhinder om programme aan te pak wat daarop gemik of wat bereken is om die fisiese of kulturele bestaan van bepaalde groepe te vernietig of uit te skakel.

Dit was die grondwetlike skikking oor onderwys en is finaal in die Grondwet vervat.

Dieselfde regering van Mandela trek egter ʼn streep deur hul eie rugbytrui-oomblik. 

Bela trek ʼn streep deur die skikking van 1994. Die finale besluit van ouers oor toelating en taal word in die hande van ʼn staatsamptenaar geplaas. Dit is die mes teen ons keel. Paaiwoorde dat die mes (ten minste vir nou – “at least for now”) nie gebruik gaan word nie, is net nie goed genoeg nie. Vat die mes weg. Dit wat goed is in Bela regverdig nie die mes nie. As jou keel afgesny word, is die nuwe borslappie wat keer dat ek nie mors as ek eet nie, nutteloos.

Die mes teen die keel neem skool en kinders uit die hand van die gemeenskap. Dit is niks anders as skoolkaping nie. 

Bela staan in die regering se gallery van staatsentralisering. Dit sluit in die NGV, onteiening sonder vergoeding, dreigende nasionalisering van die Reserwebank en meer. 

Hoe swakker die staat, hoe meer wil hul sentraliseer. 

Die gevolge is vernietigend. Ons land is donker, ons treine is ontspoor, ons hawens het gesink en ons lugredery het geval. 

Nou wil hulle volle beheer van ons skole kry. 

Die stryd teen Bela is nie oor regsnuanses en bloot die magte van beheerliggame nie.

Dis ʼn groter stryd om idees: staatsentralisering teenoor gemeenskapsverantwoordelikheid. 

Dit gaan oor die totale verandering van ʼn onderwysbedeling, weg van die ouers na die staat. Dit gaan oor kinders wat staatsobjekte word. 

Terug na die 1994-skikking wat nou verbreek word. 

Voortvloeiend uit die 1994-skikking is daar doelbewus besluit op openbare skole en nie staatskole nie. Die verskil tussen die twee is ook nie gering nie.

’n Staatskool sou beteken dat die skool die saak van die staat is. So ʼn skool se kenmerk sou wees dat hy totaal afhanklik van die staat is. Daar is nie verantwoordbaarheid nie en dit is ver verwyderd van die gemeenskap.

Dit is nie waarop daar ooreengekom is nie. Daar is besluit op openbare skole, wat beteken die skool is ʼn openbare saak. Verantwoordbaarheid is in die gemeenskap gesetel, en die skool is uit die gemeenskap. Dit beteken dat dit ʼn ruimte en plek is waar dit almal saam se plig is om saam dit dink, saam planne te maak en saam te bestuur oor iets wat almal raak. 

Die staat se taak is ondersteunend tot die openbare gemeenskap – hoogstens ʼn instaatsteller. Die staat se finansiële bydrae gee nie aan die staat besit en beheer oor skole nie, maar is deel van die staat se verantwoordelikheid om die gemeenskap in staat te stel om húlle openbare verantwoordelikheid na te kom. 

Die staat se betrokkenheid by die bestuur van ʼn skool moet tot die minimum van wetlike aanspreeklikheid beperk word. Met die Bela-wetsontwerp oortree hulle ʼn belangrike grondwetlike beginsel en eien hulself bevoegdheid en funksies toe wat nie ingevolge die Grondwet aan hulle opgedra is nie.

Volgens die Witskrif oor Onderwys is die beheer en bestuur van openbare skole deel van Suid-Afrika se nuwe demokratiese bedeling, en dit moet dus nie gesentraliseerd plaasvind nie. 

Ironies genoeg kon die staat nie eers sy minimum verantwoordelikhede teenoor onderwys nakom nie. Terloops, deel van hulle verantwoordelikhede is om skole te bou. Deels is die aanslag op Afrikaanse funksionerende skole weens die mislukking van die staat se funksie en verantwoordelikheid. 

Die Suid-Afrikaanse skoolstelsel is grootliks disfunksioneel en nou wil die regering meer sentraliseer. 

Die balans tussen die staat as instaatsteller en die skool as openbare instelling is in die Skolewet deur ʼn regsraamwerk uiteengesit. 

Die ooreenkoms van 1994 het veral neerslag gevind in die feit dat openbare skole, ingevolge die Skolewet, elk ʼn eie regspersoonlikheid het. Nie staatspersoonlikhede nie, maar persoonlikhede in eie reg. 

Die Skolewet bepaal dat daar ʼn mooi vertrouensverhouding tussen die skool en die beheerliggaam moet wees. Die Wet beskryf dit ook as ʼn vennootskapverhouding. Dit is ʼn ooreenkoms tussen die burgerlike samelewing en die regering.

Beheerliggame is vir die bestuur van die skool verantwoordelik en moet die belanghebbendes verteenwoordig. Heel korrek is departementele amptenare van buite die skool dus nie deel van die beheerliggaam nie. 

Hierdie vennootskap maak dus voorsiening vir aktiewe, selfstandige bestuur van die skool deur die beheerliggaam wat die ouers van die leerders van die skool verteenwoordig, en dus in die beste belang van hul kinders se opvoeding en die skool se vooruitgang besluite neem en verantwoordelikheid vir die bestuur van die skool aanvaar. Die ouergemeenskap neem dus eienaarskap.

Die voormalige model C-skole se ouers, en spesifiek Afrikaanse ouers, het hierdie taak wat aan hulle opgelê is, ernstig opgeneem en uitnemende skole gebou. 

Afrikaanse skole tel onder die bestes ter wêreld. Indien Afrikaanse skole as land gegroepeer sou word, sal hulle in sommige vakke onder die top-10-lande ter wêreld tel – bó die lande waarheen Afrikaanse mense emigreer. 

As jy ter wille van jou kind wil emigreer, is die slimste plan dus om na ʼn Afrikaanse skool te emigreer. 

Ouers het geld ingesamel, pannekoeke by skoolbyeenkomste verkoop, en aangemeld om as beamptes op te tree. Hulle was betrokke, want hulle weet dit is hulle plig en hulle skool. 

Die staat se betrokkenheid is maar klein. Die bydrae tot die gemiddelde enkelmedium- Afrikaanse skool in Gauteng se bedryfsbegroting, salarisse uitgesluit, is slegs tussen 10% en 5%, met enkele skole waar dié bydrae selfs minder as 5% van die begroting uitmaak. Die standaard by Afrikaanse skole is dat tussen 45% en 75% van onderwysers deur beheerliggame aangestel word. 

Die regering moet dankiesê-briefies vir hierdie skole stuur. Die ouers wat verantwoordelikheid neem, skep vermoë vir die staat om op areas te fokus waar ouers nie so betrokke kan wees nie. 

Die regering wil egter hierdie verantwoordelikheid van die ouers sentraliseer, en dit skep die gevaar dat die ouers hierdie verantwoordelikheid gaan abdikeer. 

Die staat dra die kleinste deel van ʼn skool se begroting, maar die regering wil nou volle beheer hê. 

Seggenskap oor taal- en toelatingsvereistes is aan beheerliggame toegeken.  Soos regter Sachs dit gestel het, nie net omdat dit ʼn onderwyssaak is nie, maar omdat dit ook gaan oor gemeenskapsbinding, identiteit en oordrag wat baie verder gaan as net onderwys, alhoewel alles deel is van die onderwyspoging. 

Dit is deel van die mooi diversiteit van die land wat deur almal beskerm moet word. 

As ons skole dus gevat word, is dit ʼn stuk van ons gemeenskap wat gevat word. Dit is iets van Suid-Afrika wat gevat word. 

Bela is ʼn bykans gewelddadige poging om ons skole te kaap. Dit erodeer nie net die magte van beheerliggame nie, maar absorbeer dit. Dit verbreek die vertrouens-, vennootskap- en samewerkingsverhouding.

Beheerliggame word bloot staatsagente wat die regering in staat moet stel om die gemeenskap te beheer. 

Die hart van ons skole word gesentraliseer. Ons kinders word gestandaardiseer. Diversiteit word uniformiteit. Skole word worsmasjiene met een resep, en daardie resep is ʼn regerende party se ideologie wat reeds vernietiging gesaai het. 

Ek wil nie hê my kinders moet produkte word van ʼn staatskool met ʼn staatsideologie wat ons ligte afsit nie. 

Bela is die volgende vlak van die regerende party se onderwysrewolusie. Dit is egter nie die einde nie. Dit is ʼn instaatstellerwet waardeur totale beheer bereik wil word. Hierdie wetsontwerp is nie ʼn blote wetswysiging nie, maar die verandering van ʼn onderwysbedeling. 

Die gemeenskap moet hierdie erfgoed bewaar. Ouers, grootouers, onderwysers en ander gemeenskapslede moet saamstaan. Dit is nie die eerste groot geveg wat ons veg nie en dit is nie die eerste een wat ons gaan wen nie. Ek voorsien ʼn mooi toekoms vir Afrikaanse onderwys. Ons gaan ʼn ander Afrikaanse onderwysbedeling ook sien. Dit gaan ʼn kombinasie wees van openbare en onafhanklike onderwys, mooi in ritme met en komplimenterend tot mekaar. Ons gaan veg, beskerm en bou. Afrikaans as onderwystaal is ouer as Afrikaans as amptelike taal. Ons gemeenskap het nog altyd verstaan dat moedertaalonderwys die beste manier van onderwys is. Taal is ook nie net taal nie, maar ook oordrag. Afrikaanse skole is in moeilike tye gevestig, en dit is vir meer as 100 jaar deur die gemeenskap bewaar – nie  sonder ʼn stryd nie, maar dit gaan weer gebeur.

Dit gaan oor ons kinders, en daarom het elkeen van ons ʼn plig om die Bela-wetsontwerp te beveg en op te staan vir ons kinders se onderwys en vorming. 

Solidariteit kan dus formeel aankondig dat ons die wetgewing, ter willle van ons kinders, in die hof sal beveg.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel