
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Generasies van kantoorpraktisyns: Die stil krag agter elke suksesverhaal
Gedurende Internasionale Administratiewe Week bring Solidariteit hulde aan kantoorpraktisyns – die steunpilare wat stil-stil in die agtergrond organisasies daagliks vlot laat funksioneer. Hierdie blog werp lig op die waarde en betekenis van dié beroep. Dit deel inspirasie uit die stories van toegewyde individue wat hul rol met trots en passie vervul. Lees hier meer oor die krag van hierdie onmisbare rolspelers.
Deur Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk
In die week van 21 tot 25 April het die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk trots saam met die wêreld Internasionale AdministratieweWeek gevier. Hierdie viering is meer as net ʼn geleentheid – dit is ʼn huldeblyk aan die kantoorpraktisyns wat regoor Suid-Afrika daagliks hulle rol met grasie, presisie en ʼn onwrikbare pligsbesef vervul.
Kantoorpraktisyns is nie bloot administratiewe ondersteuners nie. Hulle is die stil en dikwels onsigbare dryfkrag wat maatskappye aan die gang hou. Hulle antwoord oproepe terwyl hulle gelyktydig e-posse stuur, gaste verwelkom en seker maak dat elke rat in die organisasie sonder haakplek draai. Dis hulle wat tien balle in die lug hou én sorg dat nie één val nie.
Tydens ʼn besoek aan ʼn Pretoria-laerskool het ek iets besonders beleef. Ek het twee inspirerende vroue ontmoet – ʼn ma en dogter, beide toegewy aan administrasie, wat reeds vir jare saam by dié skool werk. Twee generasies van kantoorpraktisyns wat nie net ’n beroep deel nie, maar ʼn passie – ʼn liefde vir orde, diens en mense. Dit het my geraak, geïnspireer en ook laat wonder: Wat veroorsaak dat iemand jare lank in dié beroep bly? Wat dryf hulle om elke dag met dieselfde toewyding op te daag?
Ek het ʼn bietjie gaan nadink en tot die volgende besef gekom:
“Groot dinge gebeur nie oornag nie – dit is die resultaat van toewyding, harde werk en volgehoue passie.”
Hierdie woorde vang na my mening perfek vas wat dit beteken om ʼn kantoorpraktisyn te wees. Dié beroep speel agter die skerms af, sonder applous of kolligte, maar dit is juis hier – in daardie stil ruimtes – waar die ware krag van ʼn organisasie lê. Dít is hoekom dit nie net die moeite werd is om jare lank in hierdie veld te bly nie – dit is ʼn voorreg.
Die hartklop van elke onderneming
ʼn Kantoorpraktisyn is die spilpunt waarom elke suksesvolle organisasie draai. Jy sien hulle nie altyd eerste raak nie, maar sonder hulle stop dinge eenvoudig. Hulle is die argitekte van orde – die meesterbeplanners van skedules, hulle hou wag oor inligting, is die brug tussen departemente en die gesig van professionaliteit aan kliënte. Elke e-pos wat gestuur word, lêer wat nie wegraak nie en vergadering wat vlot verloop, is dikwels die resultaat van hul waaksaamheid en toewyding. Wanneer jy as kantoorpraktisyn dit besef, besef jy ook dat jy nie net ʼn werk verrig nie – jy bring vloei mee, jy bou vertroue en jy skep ruimte vir ander om ook te floreer.
Werkstevredenheid: Die ware beloning
In administrasie leer ʼn mens vinnig dat ware werkstevredenheid nie net lê in wat jy ontvang nie, maar in wat jy beteken. Dit is die dankie van ʼn kollega, die glimlag van ʼn kliënt, die wete dat alles vandag vlot verloop het omdat jý dit moontlik gemaak het. Daar is iets kragtig daaraan om orde uit chaos te bring. Om te weet jy het met jou sistematiese denke, jou oog vir detail en jou vermoë om oplossings te vind, die dag gered – sonder om ooit ʼn voet op ʼn verhoog te sit. Dit is trots wat nie gekoop kan word nie. Dit is vervulling wat diep wortel skiet.
ʼn Loopbaan van konstante groei
Wat administrasie so besonders maak, is dat dit nooit stilstaan nie. Jy groei voortdurend – jy leer nuwe tegnologie, jy verbeter prosesse, jy slyp jou kommunikasie en jy ontwikkel leierskap. En as jy jare lank aanhou, word jy ʼn spilpunt van wysheid en ervaring. Jy raak die een na wie almal kyk vir antwoorde, rigting en stabiliteit. Jy word ʼn baken van kennis – en daar is min dinge so bevredigend soos om te weet dat jy gegroei het van iemand wat vrae vra, tot iemand wat antwoorde bied.
Solidariteit bied die ideale geleentheid vir jou om jou kennis en vaardighede voortdurend te slyp. Klik hier om sommer vandag nog met ʼn kursus te begin.
Die liefde vir die beroep
Nie almal verstaan dit nie, maar dié wat in administrasie floreer, weet: Daar is vreugde in struktuur; trots in orde. Daar lê vreugde daarin om ander se pad makliker te maak – nie omdat jy minder belangrik is nie, maar omdat jy weet dat ondersteuning krag is. Jy word die regterhand, die beplanner en die lig in ander se lewe. Jy is die een wat onthou, bewaar en moontlik maak. En soos wat die jare aanstap, groei die liefde – die diep, volwasse liefde vir ’n beroep wat betekenis dra.
Die nalatenskap wat jy bou
Wanneer jy jare lank in hierdie veld werk, laat jy nie net dokumente en lêers agter nie – jy laat ʼn nalatenskap van integriteit, betroubaarheid en uitnemendheid agter. Jou naam word gekoppel aan kwaliteit. Jy raak onontbeerlik. En dit is nie iets wat oornag gebeur nie – dit is die vrug van jare se konstante, lojale diens.
Jy kan jou jare se ervaring met die volgende generasie kantoorpraktisyns deel danksy Solidariteit se mentorskapprogram. Klik hier om vandag nog betrokke te raak.
ʼn Beroep van betekenis
Om jare lank in die administratiewe beroep te bly, is nie ʼn teken van stilstaan nie. Inteendeel, dit is ʼn getuienis van karakter, volharding en van ʼn diep besef dat jou werk saak maak. Jy is nie net daar om iets af te handel nie, jy is daar om ʼn verskil te maak.
“Jy hoef nie die lig te wees om te skyn nie – jy kan die hand wees wat die lig aanskakel.”
En soms is dit juis daardie hand wat die grootste impak maak.
Aan elke kantoorpraktisyn wat dag na dag hul rol met trots, ywer en liefde vervul – weet dit: Jy bou iets groter as wat jy sien. Jy is deel van iets betekenisvol. Jy is, en bly, onmisbaar!
Word vandag nog deel van jou beroepsgemeenskap en ervaar ʼn gevoel van verbondenheid in jou eie gemeenskap met die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk!