
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Bela-wetgewing sal bestaande probleme net vererger
Deur Nico Strydom
Die basiese onderwyssektor gaan onder ʼn magdom probleme gebuk en die uitdagings met skoolplasings wat aan die begin van die akademiese jaar ervaar is, toon duidelik die moontlike gevolge wat die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wysigingswetsontwerp) kan hê.
Die spertyd vir openbare skriftelike kommentaar op die Bela-wysigingswetsontwerp is vroeër die maand tot 31 Januarie vanjaar verleng. Dié omstrede wetsontwerp is verlede jaar deur die Nasionale Vergadering aanvaar nadat die ANC sy meerderheid gebruik het om dit deurgevoer te kry.
Die ANC sal wil poog om die Bela-wysigingswetsontwerp voor die verkiesing deur die president te laat onderteken. Die Wysigingswetsontwerp dien tans voor die Nasionale Raad van Provinsies vir oorweging, waarna pres. Cyril Ramaphosa dit finaal as wet sal bekragtig deur dit te onderteken, of hy sal dit vir verdere oorweging terugverwys.
Intussen het Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, opnuut ʼn beroep op Ramaphosa gedoen om die wet so gou as moontlik te onderteken. Lesufi is die voormalige LUR vir onderwys in Gauteng en was gedurende sy ampstermyn as LUR gereeld kontroversieel weens sy aanvalle op Afrikaans en sy talle mislukkings, waaronder die probleme wat jaarliks met die aanlyn toelatingstelsel ondervind is.
Die land se openbare skoolstelsel het in talle opsigte misluk en word gekenmerk deur oorvol klasse omdat daar nie genoeg skole is nie, skole wat nie elektrisiteit het nie, skole wat steeds van puttoilette moet gebruik maak, en swak onderwysstandaarde.
Die probleme met skoolplasings aan die begin van vanjaar se skooljaar getuig van roekelose wanbestuur en ʼn ernstige gebrek aan beplanning, en skep net verdere kommer oor wat die implementering van die Bela-wetgewing vir die onderwyssektor kan inhou. Onder die wysigings tel veranderings in toelatings- en taalbeleid wat die magte van besluitneming van nagenoeg 23 000 skole se beheerliggame na onderwysdepartemente toe sal oordra.
“Dit is duidelik dat die aanlyn plasingstelsel van die Gautengse onderwysdepartement, wat reeds die verantwoordelikheid van skole af wegneem, gebruik gaan word om Afrikaanse skole se taaldemografie te probeer verander en die Bela-wetgewing sodoende te implementeer,” sê Johnell Prinsloo, beleidsontleder en navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).
Die departement toon ook ʼn gebrek aan insig oor die impak wat hierdie skoolplasings op skoolinfrastruktuur, algemene hulpbronne en die bestaande leerders sal hê.
Indien dit van krag word, gaan die voorgestelde Bela-wetgewing die reeds bestaande probleme net vererger. Dit sal aan owerhede, wat nie eers die vermoë het om leerderplasings te bestuur nie, selfs groter magte ten opsigte van die bestuur van skole gee.
Solidariteit doen ʼn beroep op ouers en skoolgemeenskappe om saam te staan en om Solidariteit se aksies teen die nalatigheid en vergrype van regeringsamptenare te steun.