
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Die waarheid kom uiteindelik uit: Trump en Ramaphosa se ontmoeting
Die ontmoeting tussen Trump en Ramaphosa het plaasmoorde en die vervolging van wit Suid-Afrikaners in die kollig geplaas. Trump het gewys dat hy deeglik ingelig is oor die werklikhede, insluitend Malema se gevaarlike retoriek, terwyl Ramaphosa se pogings om die onderwerp te vermy, teleurstellend was. Hierdie ontmoeting het wêreldwyd aandag gevestig op onreg, en hoop vir geregtigheid aan wit Suid-Afrikaners gebied. Solidariteit en soortgelyke organisasies speel ʼn sleutelrol in die stryd om die waarheid rondom sulke kwessies uit te wys.
Deur Robin-Lee Maré
Die ontmoeting tussen president Cyril Ramaphosa en president Donald Trump het opslae gemaak, en met goeie rede. Vir wit Suid-Afrikaners, wat dikwels voel dat hul stemme gesmoor word en hul lyding oor die hoof gesien word, het hierdie gebeurtenis ʼn lig op onregverdighede geskyn wat te lank ontken is.
Trump het nie gehuiwer om kernkwessies aan te roer nie. Hy het duidelik bewys dat hy deeglik ingelig is oor die vervolging van wit Suid-Afrikaners, insluitend plaasmoorde en die haglike omstandighede wat sommige wit Suid-Afrikaners dwing om na lande soos Australië en Amerika te vlug.
Die speel van ʼn video van Julius Malema was ʼn treffende oomblik wat die werklikhede rondom sy gevaarlike retoriek aan die wêreld onthul het. Ramaphosa kon nie ʼn geloofwaardige verduideliking bied oor waarom Malema nie aanspreeklik gehou word vir sy oproepe tot geweld soos met “kill the farmer” nie. Selfs John Steenhuisen van die DA, wat deur Ramaphosa ingespan is om ʼn gebalanseerde “perspektief” te bied, kon nie ʼn oortuigende antwoord verskaf nie.
Hierdie ontmoeting het plaasmoorde skerp in die kollig geplaas, maar het ook die breër ekonomiese en maatskaplike uitdagings wat Suid-Afrika teister, uitgelig. Ramaphosa het weer probeer om die kwessie van plaasmoorde te vermy deur die gesprek na handelsaangeleenthede te verskuif. Alhoewel sy versoek vir Amerikaanse beleggings om werk te skep en misdaad te verminder in teorie dalk goed klink, laat dit ernstige vrae ontstaan – veral: Wat het van vorige befondsing, soos Covid-hulp, geword? Dit verdwyn eenvoudig en beland in korrupte sakke.
Steenhuisen, hoewel hy ʼn geldige punt gemaak het dat die DA se rol in die RNE is om ekstremiste soos die EFF en MK uit te hou, het gesukkel om ferm standpunt in te neem oor kwessies soos plaasmoorde en “kill the farmer”. Dit wil voorkom of die DA huiwerig is om hierdie kwessie direk aan te spreek, moontlik uit vrees dat dit swart Suid-Afrikaners kan vervreem. Hierdie huiwering kom egter teen ʼn prys. Baie boere is reeds kwaad oor die DA se versuim om hierdie kwessie by die naam te noem.
Die gesprek in die Ovaal Kantoor was ʼn broodnodige konfrontasie ná dekades van wanbestuur en korrupsie. Die feit dat die Withuis die ontmoeting op sosiale media gedeel het, het verseker dat die wêreld nou bewus is van die vervolging van wit Suid-Afrikaners. Trump het nie net deeglike navorsing gedoen nie, maar ook sy steun vir regverdige behandeling en geregtigheid uitgespreek.
Ramaphosa se vraag oor waar die wit kruise is, was nie net beledigend nie, maar ook ʼn verleentheid vir Suid-Afrika. Dit weerspieël sy onwilligheid om die werklikheid van plaasmoorde en die impak van Malema se retoriek te erken.
Vir wit Suid-Afrikaners bring hierdie ontmoeting ʼn gevoel van hoop en dankbaarheid. Uiteindelik word ons hulpkrete gehoor, en die waarheid kan nie langer ontken en geïgnoreer word nie.
Vandag, meer as ooit tevore, is ek dankbaar vir organisasies soos Solidariteit wat voortgaan om geregtigheid namens Afrikaners na te streef en om die waarheid oor hierdie onregverdighede bloot te lê. Hierdie ontmoeting was ʼn keerpunt wat ons nie moet laat verbygaan nie.