Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Belangrike wenke vir jong entrepreneurs
Deur Essie Bester
Om as jong entrepreneur jou eie besigheid te begin, is ʼn groot stap wat baie aandag, toewyding en ʼn aansienlike belegging verg. Die fout wat jong entrepreneurs dikwels maak, is om sekere beginsels te ignoreer wanneer hulle met hul besigheid begin. Gevolglik word daar dikwels probleme ondervind na gelang die maatskappy se ontwikkeling dan vorder.
Belangrike stappe waaraan elke jong entrepreneur aandag moet gee voordat ʼn onderneming begin word, sluit die volgende in:
· Stel ʼn sakeplan op
Om ʼn sakeplan op te stel, is soos om jou besigheid ʼn platform te gee. Dis ʼn bestuursinstrument waarmee jy resultate kan ontleed, strategiese besluite kan neem en kan wys hoe jou besigheid sal funksioneer en groei. Kortom, as jy daaraan dink om met ʼn onderneming te begin of om jou besigheid aan beleggers voor te stel, kan jy jou kans op sukses verbeter deur ʼn sakeplan op te stel.
Beleggers word makliker oorreed om in ʼn besigheid te belê wat ʼn duidelike stel doelwitte het asook ʼn plan wat aandui hoe dit bereik kan word. Hierdie plan kan ook vir jou werknemers van nut wees en hulle help om jou visie vir die besigheid te verstaan. Daar is duidelike bewyse dat entrepreneurs met ʼn sakeplan meer dikwels suksesvol is as diegene daarsonder. Vir wenke oor hoe om so ʼn plan op te stel, kan jy kliek op: Riglyne vir die opstel van ’n slim sakeplan − Solidariteit Wêreld Loopbaan
· Wees bereid om risiko’s te loop
Geen besigheid waarborg sukses nie, selfs al doen jy alles reg. Veral nuwe ondernemings kan riskant wees. Wanneer jy met ʼn besigheid begin, moet jy bereid wees om opofferings te maak en risiko’s te aanvaar terwyl jy deurgaans bewus bly van die feit dat jy jou of jou beleggers se geld en/of beleggings op die spel plaas. Hou ook in gedagte dat jy baie toegewyd sal moet wees en heel moontlik al jou vrye tyd in jou besigheid sal moet belê.
· Ken jou mark
Gebrek aan kennis van die mark is een van die algemeenste redes waarom jong entrepreneurs misluk. Gedetailleerde marknavorsing is nodig voordat jy jou besigheid begin. Dit sal jou help om jou teikengehoor en prysstrategie te bepaal en om jou mededingers te leer ken. Hoe beter jy jou mark en produk verstaan, hoe groter is jou kanse op sukses. Sorg dat jy ʼn unieke verkoopspunt het en weet wie jou mededingers is.
· Soek mentorskap
Om met ʼn onderneming te begin, vereis baie vaardighede waarmee jy as nuweling moontlik nie vertroud is nie. Dit is waar ʼn mentor van groot waarde kan wees. ʼn Mentor sal jou nie net met raad kan bystaan nie, maar sal ook met finansiële aspekte soos belasting behulpsaam kan wees. ʼn Mentor sal jou ook van netwerkgeleenthede en wenke voorsien wat jy kan gebruik om jou besigheid te laat groei.
Kies vandag nog vir jou ʼn mentor om jou op jou loopbaanpad te vergesel deur aan te sluit by Solidariteit se eksklusiewe mentorskapprogram, wat gratis mentorskap van vier tot ses maande bied, asook ʼn professionele verhouding met ʼn kenner in jou veld, gratis toegang tot beroepsnetwerke en raad oor jou loopbaanpad. Kliek hier https://mentorskap.co.za/
· Wees voorbereid
Die oprigting en onwikkelling van jou onderneming is ʼn reis wat jou met verloop van tyd baie lesse sal leer. Hou in gedagte dat alles nie altyd glad gaan verloop nie – daar is baie op- en afdraandes.
Leer uit die foute en pas aan. Vasbeslotenheid is een van die eienskappe wat elke jong entrepreneur móét hê.
Jy moet bereid wees om altyd aan te hou om jouself te verbeter. Luister na die raad wat ander gee en brei jou kennis uit deur baie te lees. Probeer om elke dag iets nuuts te leer. Uiteindelik sal jy beloon word met ʼn fyn waarnemingsvermoë wanneer dit kom by die sienings van ander. As leier moet jy deernis kan toon. Nederigheid moet ook een van jou kenmerke wees (selfs, of veral, as dit goed gaan met jou besigheid) aangesien mense na jou sal opsien.
Alhoewel dit harde werk is om ʼn nuwe besigheid te begin en jy baie ambisie nodig het, moet jy egter ook weet wanneer om te ontspan. Om gesondheidsfaktore te ignoreer en jouself te oorwerk, is ʼn gevaarlike langtermynbenadering wat spesifieke gesondheidskwessies kan veroorsaak. Dis belangrik om tyd in te ruim om te ontspan en die ure wat jy werk te beperk tot wat redelik is.
Dis noodsaaklik dat #OnsBou werk aan ʼn toekoms waar die jeug vry, veilig en voorspoedig die toekoms kan aanpak. Slim entrepreneurs is bereid om na kenners se insette te luister en deur hul kundigheid gelei te word. Suid-Afrika is vol briljante entrepreneurs en ervare sakelui.
Solidariteit Jongwerkende is hier om jou op jou loopbaanreis te ondersteun en saam met jou die pad te stap. Ons is jou gemeenskap, jou raadgewers, en jou ondersteuningsnetwerk. Solidariteit Jongwerkende help jou om op die voorpunt van nuwe tendense in jou beroep te bly en bied jou gratis toegang tot skaduwerk, mentorskappe, opleiding en veel meer. Welkom by jou aanlyn werkgemeenskap! Registreer jou GRATIS profiel hier: www.solidariteit.co.za