loading
Artikels
10 maande gelede
belasting-jou-lekker-ding

Foto Krediet: OkayDeer

Belasting, jou lekker ding!

Deur Ané Janse van Rensburg

Belasting het beslis ʼn taal van sy eie en behoort met ʼn handleiding, ʼn reeks videoleerhulpbronne en ʼn woordeboek te kom. Die eerste stap om jou belasting baas te raak, is om die taal te verstaan.

Ons as jong werkendes is nog nuut tot die belastingspeletjie, maar met die regte hulp en bystand is dit meer as moontlik om nie net saam te speel nie, maar om dit baas te raak !

Hier is ʼn paar belastingsterme wat jy vanjaar kan leer om jou belasting vir ʼn ses te slaan!

Oudit: ‘n Ondersoek na ‘n sakeonderneming of individu se belastingsake.

Kapitaalwinsbelasting: Belasting wat betaal moet word wanneer ʼn individu of ʼn sakeonderneming ‘n bate of eiendom verkoop of afskryf.

Aftrekbare uitgawes: Kapitaaluitgawes wat aangegaan word om inkomste te genereer, byvoorbeeld operasionele uitgawes (soos selfoonkoste of reisuitgawes) en aangeskafde bates (soos ʼn motorvoertuig wat jy vir jou werk moet gebruik).

Direkte belasting: Belasting op individue en regspersone (maatskappye, trusts, ens.) se inkomste.

Dividend: Winste wat aan aandeelhouers uitbetaal word aan die einde van ‘n maatskappy se finansiële jaar.

Dividendbelasting: ‘n Weerhoude belasting van 10% op dividenduitbetalings wat die maatskappy namens ‘n aandeelhouer betaal.

eFiling: SARS se aanlyn diens vir die indiening van belastingopgawes en betalings.

Vrygestelde lewering: Dienslewering waarop geen belasting op toegevoegde waarde (BTW) gehef of geëis kan word nie, soos finansiële dienste en onderwys.

Finansiële / belastingjaar: ‘n Tydperk van 12 opeenvolgende maande wat vir ʼn individu strek vanaf 1 Maart tot 28 Februarie.

Bruto inkomste: Totale inkomste voor enige aftrekkings of vrystellings.

Inkomstebelasting: Belasting op alle belastingbetalers se belasbare inkomste.

Indirekte belasting: Belasting op die aankoop van goedere of dienste, byvoorbeeld BTW in Suid-Afrika.

Invoerbelasting: Dit is ʼn belasting wat deur ʼn land se doane-owerhede ingevorder word op invoere en sommige uitvoere.

Netto inkomste: Inkomste wat oor is nadat kostes en uitgawes van die bruto inkomste afgetrek is.

Lopende Betaalstelsel (LBS): ‘n Belasting wat direk van ‘n werknemer se salaris afgetrek word.

Voorlopige belasting: Belasting wat twee keer per jaar betaal word deur mense met ʼn onreëlmatige inkomste (soos kommissie).

Belasbare inkomste: Die inkomste (ná sekere toegelate aftrekkings soos pensioenbydrae) waarop belasting gehef word.

Omsetbelasting: ‘n Vrywillige belastingstelsel vir klein ondernemings.

Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF): Voorsien voordele vir mense wat werkloos is of nie kan werk nie.

Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW): ‘n Belasting van 15% op goedere en dienste.

Solidariteit wil saam met jou as jong werkende die pad na sukses stap – hetsy dit in jou beroep of met jou belasting is! Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en benut ’n reeks hulpbronne soos die Belastingsgids wat jou in hierdie lewensfase bemagtig!

Verby is die stres weens die onbekende! Belasting, jou lekker ding!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel