loading
avatar
Artikels
5 dae gelede
beleggingsgereedheid-bou-vandag-aan-n-praktyk-wat-more-waarde-het

Foto Krediet: FIO Capital

Beleggingsgereedheid: Bou vandag aan ʼn praktyk wat môre waarde het

Deur Leré Nel

Wanneer is jou praktyk reg om verkoop te word – en wat maak dit werklik waardevol vir ʼn belegger of koper? Volgens Ajay Wasserman, uitvoerende hoof van FIO Capital Group, begin die antwoord lank voor die transaksie self. Dit gaan oor beleggingsgereedheid.

“Beleggingsgereedheid beteken dat jou praktyk in ʼn toestand is waar ʼn belegger of koper duidelik kan sien dat die onderneming waarde het, goed bestuur word en ʼn volhoubare toekoms het. Dit gaan oor meer as net die finansiële state – dit sluit jou stelsels, kliënteverhoudings, span, regulatoriese nakoming en jou strategiese groei in. ʼn Praktyk wat beleggingsgereed is, is een wat kan wys: ‘Hier is orde, hier is potensiaal, en hier is ʼn opbrengs vir die belegger,’” sê Wasserman.

Wat bepaal die waarde van jou praktyk?

Volgens Wasserman word die waarde van jou praktyk bepaal deur ʼn kombinasie van faktore wat verder strek as wins en inkomste. Hierdie faktore sluit in:

  • Inkomstevloei en winsgewendheid (stabiliteit en groei).
  • Kliëntelojaliteit en kontrakte (hoe lank kliënte aanhou koop, inteken of dienste gebruik).
  • Stelsels en prosesse (hoe maklik dit is om die onderneming te bedryf en oor te neem).
  • Span en bestuur (ʼn onderneming wat nie van die eienaar afhanklik is nie).
  • Mark- en bedryfstoestande (vraag na die onderneming se produkte of dienste).

Die waarde van ʼn kliëntebasis

In finansiële praktyke is die kliëntebasis dikwels die belangrikste waardebepaler – maar dit móét meetbaar wees.

“Die kliëntebasis word gewoonlik bereken op grond van herhalende inkomste, die gemiddelde lewensduur van kliënte en die risiko van afvloei. Hoe langer kliënte aanhou koop en hoe hoër die opbrengs per kliënt, hoe waardevoller is die basis. In finansiële praktyke word dit dikwels gemeet as ʼn veelvoud van jaarlikse kommissies of fooie wat uit die kliënte voortvloei,” verduidelik Wasserman.

Algemene foute en wanopvattings

Wanneer dit by die verkoop van ʼn praktyk kom, is daar sekere slaggate wat maklik vermy kan word – mits daar betyds beplan word. Volgens Wasserman is daar vyf algemene foute wat ondernemings duur te staan kan kom:

  • • Die onderneming hou nie akkurate en deursigtige finansiële rekords nie.
  • • Die onderneming is te afhanklik van die eienaar.
  • • ʼn Gebrek aan duidelike kontrakte en regulatoriese nakoming.
  • • ʼn Oorwaardering van die onderneming en onrealistiese verwagtinge.
  • • Vertraagde voorbereiding – beleggingsgereedheid begin reeds jare voor ʼn transaksie, nie maande nie.

Só bou jy waarde en beleggersvertroue

Wasserman bied vyf strategieë om jou praktyk beleggingsgereed te maak:

  1. 1. “Bou stelsels wat onafhanklik van die eienaar werk.
  2. 2. Stel duidelike kontrakte op en verseker regulatoriese nakoming.
  3. 3. Fokus op herhalende inkomste eerder as eenmalige wins.
  4. 4. Bou ʼn sterk span en lei opvolgers op.
  5. 5. Vestig ʼn betroubare handelsmerk wat kliënte vertrou.”

Wasserman beklemtoon ook dat beleggers of kopers nie net na geld kyk nie, maar ook na die risiko en stabiliteit van ʼn onderneming. “ʼn Sterk span beteken dat die onderneming sonder die eienaar kan aangaan,” sê hy. “Goeie stelsels verminder risiko en verbeter skaalbaarheid. ʼn Bekende handelsmerk en goeie reputasie verminder kliënte-afvloei en bou vertroue. Hierdie elemente kan die verskil maak tussen ʼn gemiddelde waardasie en ʼn premieprys.”

Vir die jong bouers van môre

Wasserman se raad aan jong finansiële praktisyns en entrepreneurs is om vroeg te begin.

  • • “Bou jou praktyk soos jy dit eendag gaan verkoop – hou deeglike rekords en dokumentasie.
  • • Fokus op hoëgehalte-kliënteverhoudings en herhalende inkomste.
  • • Belê in stelsels en mense – moenie alles self behartig nie.
  • • Bly getrou aan jou waardes – vertroue en reputasie word oor jare gebou en word jou grootste bate.
  • • Dink langtermyn – beleggingsgereedheid is nie ʼn eindpunt nie, dit is ʼn manier van bou.”

Bou nou al aan die beleggingswaarde van jou praktyk. En bly ingeskakel by die Solidariteit Finansiesnetwerk vir nog interessante leesstof.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel