Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Beskerm Jou Werk – Die Onwaarskynlike Gebeur Dikwels
Leré Nel
Is jou motor verseker? Ja, ons het so gedink.
Jou huisinhoud? Ja, natuurlik.
Maar wat van jou werk – jou grootste bate, wat dit moontlik maak om al jou ander bates te bekom?
Wanneer ʼn mens gemaklik en gelukkig in ʼn werkplek gevestig is, is dit maklik om te glo dat niks verkeerd kan loop nie. Dink egter só daaraan: In 2025 is 8 742 Toyota Hilux-voertuie gesteel. Duisende mense het een dag nog sorgeloos met hul voertuie rondgery, net om die volgende dag dankbaar te wees dat hulle versekering gehad het.
Net so was daar oor die jare talle werknemers wat die een dag nog rustig en onversteurd gewerk het, en die volgende dag hul sterre gedank het vir hul Solidariteit-lidmaatskap.
ʼn Goeie voorbeeld van só ʼn werknemer is Marlene Osborne.
Ná slegs twee weke in haar nuwe pos as restaurantbestuurder by Sticky BBQ het sy ongelukkig ʼn besering opgedoen – iets wat met enigiemand kan gebeur. Sy is weens die besering vir 12 dae met siekeverlof afgeboek. Toe sy egter gereed was om terug te keer werk toe, het haar werkgewer haar meegedeel dat sy reeds vervang is.
Solidariteit het namens Osborne ʼn saak van onbillike ontslag na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys. Die kommissaris het in Osborne se guns beslis, ondanks die feit dat sy slegs 26 dae in diens van die restaurant was. Osborne is vyf maande se vergoeding toegeken – buitengewoon gunstig, aangesien vergoeding normaalweg beperk word wanneer ʼn werknemer vir ʼn kort tydperk in diens was.
Hierdie mag dalk na ʼn uitsonderlike geval klink, maar die werklikheid is dat sulke dinge gereeld gebeur. Werkgewers vat kanse.
Gepraat van werkgewers wat kanse vat – kyk byvoorbeeld na Martin Burger se storie.
Burger, wat ná vyf jaar se diens by sy voormalige werkgewer ontslaan is op grond van beweerde wangedrag – spesifiek nalatigheid en oneerlikheid – het Solidariteit vir hulp genader. Nadat die feite ondersoek is, het Solidariteit bevind dat dit ʼn geval van onbillike ontslag was en die saak na die KVBA verwys.
Tydens die proses is die onderneming egter in likwidasie geplaas, wat kon beteken dat Burger se saak bloot gestaak sou word. Solidariteit het egter nie toegelaat dat die aangeleentheid onder die mat ingevee word nie. Die saak is tot die einde deurgevoer, en die likwidateurs is by die proses gevoeg om te verseker dat die onderneming steeds aanspreeklik gehou word.
“Dit is betreurenswaardig hoe sommige ondernemings aanspreeklikheid probeer ontduik deur hulself in likwidasie te plaas,” het Karla Endres, ʼn spesialislitigant in die saak gesê. “Ons glo egter dat geregtigheid vir ons lede nie onderhandelbaar is nie. Daarom volg ons elke moontlike regsroete om te verseker dat ons lede nie benadeel word nie.”
Nóg ʼn voorbeeld van ʼn werknemer wat onverwags onbillik ontslaan is, is Christo Poerstamper – ʼn werknemer wat ná 17 jaar se lojale diens ontslaan is omdat sy werkgewer beweer het dat hy op ʼn vastetermynbasis aangestel was. Dit was egter glad nie die geval nie. Poerstamper se dienskontrak het duidelik bepaal dat hy as ʼn permanente werknemer aangestel is.
Solidariteit het die saak namens Poerstamper na die KVBA verwys, waar die kommissaris bevind het dat die werkgewer nie daarin geslaag het om die bestaan van ʼn geldige vastetermynkontrak te bewys nie. Poerstamper se lang diensgeskiedenis het ook sy posisie versterk. Die ontslag is gevolglik as onbillik verklaar, en ʼn skeidingsvergoeding is aan hom toegeken, wat reeds deur die werkgewer betaal is.
Solidariteit het onlangs ook ʼn oorwinning namens sy lid, SM Pillay, ʼn geregistreerde gestremde werknemer by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), behaal nadat hy onbillik vir bevordering oor die hoof gesien is.
Ondanks die feit dat hy as die mees geskikte kandidaat vir die betrokke kolonelpos aanbeveel is en reeds 30 jaar diens in die polisie gehad het, is hy nie aangestel nie. Die afdelingskommissaris het aangevoer dat Pillay weens sy gestremdheid nie die pligte van die pos sou kon uitvoer nie en nie bevoeg sou wees om ʼn vuurwapen te hanteer nie. Volgens Divan Venter, litigant verbonde aan Solidariteit, was dit egter duidelik dat Pillay ten volle in staat is om die pligte van die pos uit te voer en bevoeg is om ʼn vuurwapen te hanteer, ongeag sy gestremdheid. Die besluit om hom nie aan te stel nie is daarom onbillik.
Solidariteit het die saak namens Pillay gewen, en vier maande se vergoeding is aan hom toegeken.
Dan is daar natuurlik ook Johan Potgieter – ʼn kaptein in die SAPD met 34 jaar se ervaring wat vir ʼn pos oor die hoof gesien is, ondanks die feit dat hy volgens die onderhouduitslae en aanbevelings die beste kandidaat was.
“Volgens die SAPD het Potgieter aan al die vereistes voldoen, behalwe dat sy velkleur ʼn probleem vir die topbestuur was,” het Andries Herbst, Solidariteit-organiseerder, gesê. “Wanneer die mees geskikte en bevoegde kandidaat vir ʼn pos in die nastrewing van rasseteikens oor die hoof gesien word, benadeel dit die publiek. Die publiek moet dan onder wanbestuur en onkundigheid ly, terwyl die topbestuur wat hierdie rasseteikens nastreef geen meegevoel het met mense op voetsoolvlak nie.”
Solidariteit het die SAPD namens Potgieter aangevat, en die KVBA het in sy guns beslis. Die SAPD is gelas om Potgieter te vergoed.
Wat het al die bogenoemde mense – en talle ander – in gemeen?
Hulle was almal gewone werknemers wat hulself skielik in ʼn onmoontlike situasie bevind het. Situasies waarin hulle waarskynlik min of geen uitweg sou gehad het as Solidariteit nie namens hulle by die hof of die KVBA geveg het nie.
Elkeen van hierdie situasies is uniek, maar hierdie “unieke” situasies gebeur veels te dikwels.
Daarom is dit belangrik om jou werk te verseker – want jy weet nooit wanneer iets soortgelyks met jou kan gebeur nie.
Sluit aan by Solidariteit vir gemoedsrus. Vir die sekerheid dat daar altyd ʼn betroubare vennoot in jou kamp is wat saam met jou sal veg.