Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
NGV tydelik gestop: Só maak jóú bydrae tot die Solidariteit Regsfonds ʼn verskil
Deur Kyla-Ann du Toit
Die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) is nou kragtens ʼn hofbevel met onmiddellike effek gestaak (lees hier). Geen verdere stappe om die NGV te implementeer mag geneem word voordat die Konstitusionele Hof uitspraak gelewer het oor die wet se grondwetlikheid en die rasionaliteit van die proses wat gevolg is nie.
Die hofbevel het ook praktiese implikasies: geen verdere begrotingstoekennings mag nou vir die NGV toegestaan word nie. Solidariteit het reeds ʼn formele aanmaning aan die president, die departement van gesondheid, die tesourie en betrokke ministers gestuur en gewaarsku dat enige minagting van die hofbevel verdere regsaksie sal ontlok. Dit is belangrik dat belastingbetalers se geld nie verder aan ʼn omstrede en onwerkbare stelsel bestee word nie.
Hierdie hofbevel is ʼn deurbraak in die stryd teen die NGV, en dit is geen toeval nie. Dit is ʼn duidelike teken dat volgehoue druk die gewenste uitwerking het. Hierdie soort optrede gebeur egter nie vanself nie. Dit verg deeglike voorbereiding, kundige regsverteenwoordiging en die vermoë om volgehoue druk in die hof te handhaaf. Dít is presies wat die Solidariteit Regsfonds moontlik maak.
Die Regsfonds stel Solidariteit in staat om die nodige regsoptrede teen die staat se omstrede besluite en wetgewing te voer; aksies wat andersins buite die bereik van gewone burgers sou wees. Dit gee vir ons lede en hul gemeenskappe ʼn werklike stem in die howe en verseker dat die staat verantwoordbaar gehou kan word. Die tydelike opskorting van die NGV is ʼn tasbare bewys dat hierdie strategie doeltreffend is.
Die NGV-saak is nie die enigste voorbeeld nie. Danksy die Solidariteit Regsfonds is daar reeds talle suksesvolle ingrypings in ander belangrike sake, soos die Bela-wet, waar omstrede bepalings oor taal- en toelatingsbeleid by skole tydelik tersyde gestel is.
Die stryd is egter nog lank nie verby nie. Die NGV is nog nie finaal van die tafel af nie en verdere regsprosesse lê voor. Boonop hou ander regeringsbeleide, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en sektorkodes, steeds ernstige gevolge vir gewone Suid-Afrikaners in (lees hier). Om hierdie uitdagings suksesvol aan te spreek, verg volgehoue regsoptrede en voldoende finansiële steun.
Die Solidariteit Regsfonds speel dus ʼn deurslaggewende rol in hierdie proses. Hierdie fonds stel Solidariteit in staat om strategiese hofsake aan te pak en lede se grondwetlike regte te beskerm. Oor die jare heen het Solidariteit reeds betekenisvolle oorwinnings behaal in sake rakende regstellende aksie, korrupsie en die wanbesteding van belastinggeld.
Danksy lede se bydrae tot die Regsfonds kan Solidariteit voortgaan om regsgedinge te loods wat nie net die belange van individue beskerm nie, maar ook dié van elke Suid-Afrikaner. Van taal en toelating in skole tot omstrede rassewetgewing en nasionale gesondheidsorg en arbeidsregtelike sake, bly die Regsfonds ʼn noodsaaklike wapen in Solidariteit se stryd teen onreg.
Met ʼn volgehoue verbintenis tot geregtigheid en selfstandigheid, bly Solidariteit aan die voorpunt van die beskerming van sy lede se regte. Word vandag nog ʼn lid van die Solidariteit Regsfonds om jou en jou kinders se toekoms in Suid-Afrika te beskerm!