loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
so-gaan-solidariteit-in-2026-in-die-hof-veg

Foto Krediet: OkayDeer

Só gaan Solidariteit in 2026 in die hof veg

Deur Robin-Lee Maré

Solidariteit berei voor vir ʼn beslissende jaar in die howe, waar ons namens jou as lid gaan optree.

Elke lid se saak is vir ons van groot belang. Sake wat nie noodwendig landswyd nuushoofopskrifte haal nie, dra vir Solidariteit groot gewig.

Lede kom eerste.

Voorbeelde van sake waar Solidariteit se regspan in 2025 met welslae geveg het, is dié van die SAPD-drietal, die prestasiebonus van ʼn werknemer by die Spesiale Ondersoekeenheid, en ʼn woonkompleksbestuurder wat onregverdig afgedank is.

Ons móét egter ook die staat op ʼn groter skaal verantwoordelik hou, en slegs met jóú steun is dit moontlik om sake wat alle belastingbetalers, die hele land, of ʼn hele gemeenskap raak, te takel.

In 2026 sal die vakbond verskeie strategiese hofsake voer om grondwetlike regte te beskerm, ongrondwetlike rassewetgewing te beveg en die belange van werkers, ondernemings en belastingbetalers oor die algemeen te verdedig.

Hierdie litigasie vorm deel van Solidariteit se breër stryd teen magsmisbruik deur die staat en sy ideologies gedrewe beleide.

Lastersaak teen die minister in die presidensie

Solidariteit se lastersaak teen die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, is in ʼn gevorderde stadium. Die aangeleentheid word in die komende week gefinaliseer. ʼn Hofdatum sal na verwagting in die laaste kwartaal van 2026 toegestaan word, waarna die saak in die hooggeregshof aangehoor sal word.

Hierdie saak is van kardinale belang, omdat dit gemik is op die regstelling van die vals narratief dat Solidariteit sogenaamde “misinformasie” versprei. Die saak handel oor veel meer as reputasieskade. Dit raak kernbeginsels soos vryheid van spraak en die reg van burgers en organisasies om die regering te kritiseer sonder vrees vir sensuur of intimidasie. Niks en niemand gee die regering die reg om te besluit wie wát mag sê nie, en ons sal nie voorgeskryf word in ons strewe na ʼn meer regverdige en beter samelewing vir ons lede nie.

Minagting van die hof: raswetskikking

Solidariteit het ʼn minagtingsaak teen die minister van indiensneming en arbeid, Nomakhosazana Meth aanhangig gemaak rakende die skikking oor raswette wat in 2023 met die regering bereik is, onder toesig van die Verenigde Nasies se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO).

Hierdie skikking was ʼn ooreenkoms wat onder meer bepaal het dat niemand op grond van ras of weens rasbeleide afgedank mag word nie en dat rasbeleide tydelik en genuanseerd van aard moet wees.

Al is hierdie skikking tot ʼn bevel van die hof verklaar, is dit geminag toe minister Meth, in April verlede jaar nuwe regulasies gepubliseer het wat strydig met die bepalings van die skikking was.

Ons behoort vroeg die jaar ʼn hofbevel in die saak te verkry. Die kern van die saak is dat die staat nie verhewe bo die reg is nie, dat ons hom namens belastingbetalers verantwoordbaar sal hou om sy verpligtinge na te kom en dat regstellende aksie in terme van internasionale ooreenkomste nou tot ʼn einde moet kom.

Sektorkodes en rastelkaarte

Solidariteit daag ook die wettigheid van die rasseregulasies en die rassesektorteikens wat deur die minister van indiensneming en arbeid gepubliseer is uit in die hof en beskryf dit as irrasioneel. Solidariteit se argument in die hofstukke dui aan dat hierdie regulasies en kodes in wese rastelkaarte afdwing of ʼn werksplek-kwotastelsel is.

Hierdie regulasies verteenwoordig die staat se voortgesette rasmalheid en behoort nooit uitgevaardig te gewees het nie. Indien suksesvol, gaan dit ʼn groot stap in die rigting wees van ons strewe na werkplekke waar ons lede se waarde beoordeel word op grond van verdienstelikheid, en nie op grond van hul velkleur nie. Ons kan en sal nooit ophou om die toonaangewende stem te wees teen hierdie soort rassevergrype nie.

Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)

Solidariteit se stryd teen die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) kan vanjaar ʼn kritieke punt bereik.

Die tesourie het vanjaar ʼn beroep op NGV-teenstanders gedoen om eerder oor “alternatiewe” te praat as om te litigeer. Tog het Solidariteit reeds ʼn duidelike en werkbare alternatief voorgelê, naamlik die Healthcare Funding Reform Bill.

Litigasie sal voortgaan omdat ons nie ons gesondheidsorg in die hande van ʼn sentralistiese staat, wat verantwoordelik was vir die vernietiging van die bestaande openbare gesondheidsorgstelsel, kan laat nie.

Die sogenaamde sertifikaat van behoefte is ook reeds verlede jaar in die Konstitusionele Hof aangehoor, en ʼn uitspraak word binne die volgende twee maande verwag. Dit is belangrik, aangesien dit gaan oor die reg van mediese praktisyns om te werk waar hulle verkies, eerder as om deur die staat daaroor voorgeskryf te word.

Indien suksesvol met hierdie sake, gaan ons mediesepraktisynslede kan werk waar hulle wil, en gaan ons lede self kan besluit waar hulle hul mediese sorg wil kry in plaas van dat hulle voorgeskryf word deur die vyandige en uiters onbevoegde staat.

Openbare verkryging: ʼn historiese saak

Een van Solidariteit se grootste en mees impakvolle sake tot nog toe is ons aansoek om die openbare verkrygingsaakwet ongrondwetlik te laat verklaar. Hierdie wet, wat ʼn uitvloeisel is van die swart ekonomiese bemagtigingswet, skryf voor dat openbare instellings goedere en dienste uitsluitlik van SEB-gekwalifiseerde verskaffers moet aankoop.

Dit lei byvoorbeeld daartoe dat instellings soos Eskom moontlik tot 30% meer betaal vir goedere en dienste, ʼn koste wat uiteindelik deur belastingbetalers gedra word.

Die saak sal waarskynlik dié jaar  in die Konstitusionele Hof aangehoor word.

Indien Solidariteit in hierdie saak slaag, kan dit tot beduidende kostebesparings vir belastingbetalers lei en ʼn groot positiewe uitwerking op maatskappye én ons lede hê.

Regsektorkodes: vrye keuse van regshulp

Op 4 Mei sal Solidariteit se saak teen die regsektorkodes in die hooggeregshof aangehoor word. Hierdie kodes dwing rastelkaarte af binne die regsberoep en raak lede van Solidariteit se Regsnetwerk regstreeks.

Die saak handel onder meer oor rasvoorskrifte vir regsfirmas. ʼn Wen hier sal verseker dat hierdie rasse-voorskrifte van die staat, wat dit onmoontlik maak vir regspraktisyns om behoorlik dienste te lewer, en ook ons lede se reg om regspraktisyns van hul keuse te beperk, tersyde gestel sal word.

Staan saam met Solidariteit in die hof

Solidariteit staan nie alleen in hierdie stryd nie. Hierdie hofsake word nie net namens ons lede gevoer nie, maar namens elke Suid-Afrikaner wat glo in grondwetlike regte, gelykheid voor die reg en ʼn toekoms sonder dwang, sensuur en rasmalheid

Hierdie gevegte verg volgehoue regsaksie en beduidende hulpbronne. Deur Solidariteit se Regsfonds te ondersteun, kan jy aktief help om onreg aan te spreek en beginsels te verdedig wat ons almal raak.

Klik hier om Solidariteit se Regsfonds te ondersteun en saam met ons in die hof te veg vir ʼn regverdige Suid-Afrika.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel