 
         
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Kleiner prestasiebonus: Solidariteit wen saak teen Spesiale Ondersoekeenheid
Deur Robin-Lee Maré
Toe sy werkgewer uit die bloute besluit om sy prestasiebonus te verminder, het ʼn Solidariteit-lid, mnr. Robert Walser, besluit om sy voet neer te sit.
As senior bestuurder in siviele litigasie by die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) was Walser baie ontevrede toe hierdie eenmalige bonus – wat volgens sy diensooreenkoms, saamgelees met die betrokke beleide van die SOE, aan hom betaal moes word – ná afloop van die 2019/2020 finansiële jaar, verklein het.
In plaas daarvan om die volle bonusbedrag te betaal, het die SOE bloot ʼn verminderde bedrag aan hom oorbetaal. Walser het dit nie aanvaar nie, en as Solidariteit-lid het hy toegang gehad tot ʼn span wat wéét hoe om hierdie soort sake te hanteer. Solidariteit het die saak namens hom vir arbitrasie geneem.
Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het bevind dat die SOE inderdaad onbillik teenoor Walser opgetree het en beveel dat die volle bonusbedrag aan hom uitbetaal moet word.
Volgens Walser was hierdie ʼn nodige bedrag waarvoor hy lank reeds beplan het en waarop hy staatgemaak het.
Dit was egter nie die einde van die verhaal nie. Die SOE het die saak op hersiening na die arbeidshof verwys, maar hul aansoek is te laat ingedien, en hulle kon nie oortuigende redes vir die vertragings verskaf nie. Die hof het gevolglik hul kondonasie-aansoek van die hand gewys. Die SOE moes dus, ingevolge die arbitrasiebevel, hierdie uitstaande bedrag met rente aan Walser oorbetaal – iets wat wel uiteindelik gebeur het.
Volgens Karolien van Wyk, arbeidshoflitigant by Solidariteit, bevestig hierdie saak dat werkgewers nie hul eie beleide kan ignoreer nie. Sy sê:
Werkgewers kan nie bloot besluit om onbillik teenoor werknemers op te tree en teenstrydig met hul eie beleide te handel nie. Hulle is net so gebonde aan die hofreëls en voorgeskrewe tydlyne soos enige ander party. Beleide is daar om gevolg te word, en dieselfde geld vir die hofreëls. Hierdie uitspraak dien as ʼn herinnering dat reg en billikheid moet seëvier en dat werknemers nie eensydige en onregverdige besluite van werkgewers gelate hoef te aanvaar nie.
 
         
                    