
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit help woonkompleksbestuurder met eis van R400 000 ná onbillike ontslag
Geregtigheid het geskied vir ʼn bestuurder van ʼn woonkompleks in Gauteng wat afgedank is, maar wat danksy Solidariteit se ingryping ʼn gepaste skikkingsbedrag kon ontvang. Lees meer hier.
Deur Heléne Mocke
Hierdie arbeidsgeskil het weereens die belangrikheid van volgehoue regsverteenwoordiging en billike arbeidspraktyke beklemtoon.
Hierdie lid was as woonklompleksbestuurder werksaam by die kompleks waar hy self woonagtig was. Hy is egter tydens sy dienstydperk aan ʼn dissiplinêre verhoor onderwerp wat tot sy ontslag gelei het. Die aangeleentheid is egter na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys wat beslis het dat die ontslag inderdaad nie geregverdig was nie en dat die lid weer in diens gestel moes word.
Die werkgewer het egter daarna, in weerwil van die KVBA-beslissing, met die lid onderhandel om sy salaris drasties te verminder.
Dit sou toe van R26 000 per maand tot slegs R9 000 verminder word. Die lid het egter tussen Oktober 2019 en Julie 2021 nogtans getrou sy dienste aangebied en verrig, maar hy moes met dié verminderde bedrag tevrede wees, selfs al is sy oorspronklike salaris nooit wettiglik hersien nie.
Solidariteit het die saak namens die lid verder geneem en die verminderde salarisbedrae, tesame met agterstallige toelaes en foutiewe verlofuitbetalings, na die hof verwys.
Kort voor die aanvang van die hofverrigtinge het die werkgewer egter met skikkingsvoorstelle na vore gekom. ʼn Ooreenkoms is gevolglik bereik waarin erken is dat die lid geregtig is op vergoeding teen sy oorspronklike salaris van R26 000 per maand.
Op grond daarvan het die partye uiteindelik op ʼn skikkingsbedrag van R425 000 ooreengekom, wat volgens ’n afbetalingsplan aan die lid uitbetaal sou word.
Tot op hede ontvang die lid gelukkig stiptelik sy maandelikse betalings, net soos ooreengekom is.
Hierdie saak bevestig die belangrike rol wat Solidariteit in die beskerming van sy lede se regte in die werkplek speel.
“Wanneer reg en geregtigheid eenkant toe staan, sal Solidariteit aan daardie kant wees – gewapen met feite, die reg en deursettingsvermoë,” sê Nicolette Ras, die litigant van Solidariteit wat die lid verteenwoordig het.