loading
avatar
Artikels
6 maande gelede
besnoeiing-van-onderwysposte-die-effek-van-net-een-minder-onderwyser-in-n-skool

Foto Krediet: OkayDeer

Besnoeiing van onderwysposte: Die effek van net een minder onderwyser in ʼn skool

Deur Leré Nel

Solidariteit neem met groot kommer kennis van die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se besluit om poste en die jaarlikse subsidie vir kwintiel 5-skole in die provinsie te verminder. Die meeste Afrikaanse skole val in hierdie kategorie. Veral laerskole sal geraak word, met sommige skole wat moontlik tussen twee en sewe onderwysposte gaan verloor. Volgens die GDO is ʼn kleiner departementele begroting en druk vanaf die nasionale tesourie die rede vir hierdie drastiese besluit.

Die domino-effek van ’n enkele onderwyser minder

Volgens Anlia Archer, bedryfspesialis en netwerkorganiseerder van die Solidariteit Onderwysernetwerk, is die impak van selfs één onderwyser minder in ʼn skool veel groter as wat mense besef.

“Dit lei sonder twyfel tot groter klasse. As daar net een onderwyser minder in ʼn skool is, is daar minder mense om meer werk te doen – veral as dit kom by die enorme administratiewe las. Dit veroorsaak onsekerheid onder leerders, ouers, onderwysers en natuurlik die onderwyser wat sy of haar pos verloor het.”

Sy voeg by dat die tydsberekening van hierdie besnoeiings skole in ’n baie uitdagende posisie plaas:

“Die poste vir 2026 is reeds geadverteer en in baie gevalle is die onderhoude afgehandel en die aanstellings reeds gemaak. Daar is byna net agt weke van die skooljaar oor. Daar is nie juis meer tyd om begrotings, indelings en roosters aan te pas nie.”

Die skole self en die ouers dra die finansiële las

Die besnoeiings raak hoofsaaklik kwintiel 5-skole – die kategorie waarin die meeste Afrikaanse skole val. Hierdie skole gaan volgende jaar slegs R315 per leerder van die departement ontvang – ʼn reuseverskil van die R900 per leerder wat hulle voorheen gekry het.

Archer wys daarop dat hierdie besnoeiings skole dwing om skoolfondse te verhoog, wat ʼn direkte impak op ouers het.

“Die realiteit is dat almal ‘n mate van ekonomiese druk ervaar. Skole probeer hulle beste om jaarliks die skoolgelde se verhoging so laag as moontlik te hou sonder om die kwaliteit van onderrig en leer prys te gee. Nou, nadat skole alreeds die enorme taak van begroting-opstel voltooi het, sal hulle terug na die tekenbord toe moet gaan en dit moet hersien en aanpas. Dit veroorsaak onnodige duplisering en druk vir almal betrokke.”

Sy voeg by dat ouers ook moet verstaan dat hierdie besluite tot hoër skoolfondse kan lei, juis om te verseker dat skole steeds genoeg personeel kan aanstel om kwaliteitonderrig te handhaaf.

Archer doen ʼn beroep op onderwysers:

“Staan saam met ons. Vorm deel van ‘n netwerk wat daadwerklik poog om hierdie kwessies aan te spreek deur aan te sluit as ‘n lid van Solidariteit. Ons gaan nie en ons mag nie hoop verloor nie. Ons moet wel vir ons kinders die voorbeeld begin stel dat ons kan saamstaan – veral as dit kom by ons kinders se belange.”

Volgens Johan Botha, hoof van die Solidariteit Onderwysernetwerk, plaas hierdie eensydige besluit nie net onderwysers se werksekerheid in gevaar nie, maar ontwrig dit ook skole se begrotingsprosesse. Talle skole, wat reeds hulle begroting vir 2026 gefinaliseer het, sal nou groot aanpassings moet maak en in die meeste gevalle sal skole noodgedwonge hul skoolfondse moet opstoot.

Hy beaam Archer se kommer oor skole se begrotings en die uitwerking daarvan op skoolfondse.

“As poste deur die departement gesny word, verskuif die druk na die skool se beheerliggaam, en uiteindelik na die ouers wanneer skoolfondsverhogings die enigste uitweg word,” sê Botha.

“Om op hierdie tydstip besnoeiings te eis, kan skole se begrotingsprosesse vir volgende jaar erg ontwrig. ’n Onderwyser se pos raak nie net hom of haar nie, maar ook die onderrig van nagenoeg 35 leerlinge in ’n klas.”

Solidariteit doen ’n beroep op die Gautengse Departement van Onderwys om hierdie besluit deeglik te heroorweeg. Die besnoeiing van onderwysposte raak die toekoms van duisende leerders.

Word deel van die Solidariteit Onderwysernetwerk en staan saam met kollegas wat die gehalte van Afrikaanse onderrig wil beskerm.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel