
Foto Krediet: Unsplash
Gekopieër
Bidvest by VN én SAMRK verkla oor rassediskriminasie met skoolgeld
Solidariteit het ‘n klag by die Verenigde Nasies (VN) se Menseregtekommissie én sy Suid-Afrikaanse eweknie, die SAMRK, gelê teen Bidvest se skoolprogram wat wit kinders uitsluit.
Met hierdie amptelike klagtes wil Solidariteit die immorele en onwettige optrede van Bidvest ontbloot en uitlig hoe die program in stryd is met hierdie liggame se eie beginsels oor programme wat regstelling ten doel stel.
Volgens die Bidvest-program word werknemers wat minder as R15 300 per maand verdien, aangemoedig om aansoek te doen vir hulp met hul graad 4- tot 12-kinders se skoolfonds, asook vir verwante uitgawes soos skryfbehoeftes, uniforms en ekstra klasse.
Hierdie aansoeke is egter beperk tot werknemers wie se ras as “swart, kleurling of Indiër” beskryf kan word. Wit werknemers word, ongeag hul behoeftes, vir ondersteuning deur hierdie program uitgesluit.
Solidariteit glo dat die program ʼn ernstige oortreding is van die fundamentele regte wat elke Suid-Afrikaner onder die Grondwet behoort te geniet en vra in die klagte aan die VN en die SAMRK vir ʼn deeglike ondersoek na Bidvest se raspraktyke.
“Hierdie program is onwettig, immoreel, rassisties en diskriminerend. So ʼn beleid stel natuurlik geen ongeregtighede van die verlede reg nie en saai verdeeldheid in die werkplek deur werknemers suiwer op grond van hul velkleur te beoordeel,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
“Solidariteit sou ʼn klasgebaseerde eerder as ʼn rasgebaseerde opheffingsbenadering voorstel, aangesien sodanige benadering ekonomiese behoefte in ag neem. Dit word immers ook so deur die VN voorgeskryf. In teenstelling hiermee verkies Bidvest ʼn rigiede rasgebaseerde beleid wat wit werknemers en hul kinders uitsluit en aan hulle die boodskap stuur dat hulle nie opheffing verdien nie, bloot as gevolg van hul velkleur.”
Solidariteit voer aan dat die Bidvest-program in stryd is met die Grondwet se voorskrifte oor die reg op menswaardigheid, die reg op gelykheid en die reg op billike arbeidspraktyke.
Suid-Afrika is boonop verbind tot internasionale voorskrifte, soos dié van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) en die Internasionale Konvensie vir die Uitwissing van Alle Vorme van Rassediskriminasie (CERD) , wat diskriminasie op grond van ras verbied.
Volgens die IAO moet enige positiewe regstellende maatreëls tydelik, doelgerig en niediskriminerend wees, en nooit die absolute uitsluiting van ras aanmoedig, soos die geval met Bidvest is nie.
Solidariteit doen ʼn beroep op die SAMRK om toe te sien dat Bidvest sy beleid onmiddellik tot ʼn billike en inklusiewe program verander, waarvolgens alle werknemers en hul kinders, ongeag hul velkleur, regverdig behandel word.
Vroeër het Solidariteit ook ʼn beroep op Bidvest-aandeelhouers in die VSA gedoen om binne die groep druk uit te oefen én is Bidvest in ʼn skrywe van Solidariteit versoek om die skema teen die sperdatum van 25 Julie te hersien.
Hierdie versoek is geïgnoreer.
Duisende lede van die publiek het onlangs hul teenkanting in ʼn Solidariteit-petisie te kenne gegee waarmee Bidvest se bestuur en sy filiale gebombardeer gaan word sodat dit as ʼn wekroep kan dien.
Die filiale van Bidvest en verwante ondernemings en handelsmerke aan wie die petisie gerig kan word, sluit in McCarthy, Protea Coin, Waltons, Harvey World Travel, Rennies Travel, Plumblink, Konica Minolta, King Pie, Cecil Nurse, LK’s-braaitoerusting, Yamaha Suid-Afrika, Dekra, Leisure Quip, Waco Industries, Matus en Adcock Ingram.
Solidariteit hoop dat Bidvest die regte ding sal doen deur sy raskwotaprogram vir kinders te hersien, wat andersins ʼn klad op Bidvest se naam – en dié van sy filiale en hul handelsmerke – behoort te wees.
Sien Solidariteit se skrywe aan die SAMRK hier.