loading
avatar
Artikels
1 jaar gelede
bless-my-bag-die-krag-van-klein-dade

Fotokrediet: OkayDeer

‘Bless my bag’: Die krag van klein dade

Deur Kyla-Ann du Toit

“Dit maak nie saak hoe klein dit is wat jy doen nie – dit maak altyd ʼn impak.”

Maatskaplike werkers leef daagliks met die spanning van groot verantwoordelikhede en beperkte hulpbronne. Hulle dra die las om waardigheid te herstel, maar sien nie altyd die tasbare vrugte van hul werk nie. Tog is dit dikwels die kleinste gebare wat die diepste impak maak. Dít is presies die boodskap wat die “Bless my Bag”-projek, onder leiding van Thamar Jacobs van Bloubergstrand in die Wes-Kaap, só kragtig oordra.

“Ek het nege jaar gelede ʼn joernalis se voorstel in ʼn vrouetydskrif ontdek,” vertel Thamar. “Sy het genoem dat jy jou tweedehandse handsak wat net in jou kas lê en wat jy nie meer gebruik nie, aan ʼn hawelose vrou kan skenk. Dié idee het ek in my hart gebêre en ʼn jaar later is “Bless my Bag” gebore. ʼn Kollega, my dogter en ek – almal met ʼn passie vir vroue in nood – het saamgesit en besluit oor die belangrikste items wat in ʼn vrou se handsak hoort. Vandag, nege jaar later, is “Bless my Bag” in Suid-Afrika sowel as in Namibië gevestig.”

Foto verskaf: Die “Bless my bag”-projek verander die lewens van honderde vroue.

ʼn Handsak as simbool

Vir Thamar is die handsak veel meer as net ʼn item. “ʼn Handsak is ʼn vrou se heiligdom. Sy dra letterlik haar hele lewe daarin – van haar bestuurslisensie en selfoon tot beursie en selfs foto’s van haar kinders. Met die ontvangs van ʼn handsak word ʼn weerlose vrou daaraan herinner dat sy nie alleen is wanneer sy deur ʼn moeilike tyd gaan nie.”

Hierdie simboliek het ʼn diep betekenis: Iets persoonlik wat ʼn vrou naby haar dra, word die brug van een lewe na ʼn ander. Dit is dieselfde beginsel wat maatskaplike werkers in hul beroep ken – om deur iets kleins, maar betekenisvol, iemand weer aan hul eie waarde te herinner.

ʼn Eenvoudige gebaar met ʼn groot impak

Die projek is eenvoudig. Drie keer per jaar – op Vrouedag, in Vrouemaand en tydens die 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders – word skenkings ingesamel. “Ons werk nie met geld nie, maar net met skenkings,” verduidelik Thamar. “Wanneer ons genoeg het, help ʼn wonderlike span vrywilligers om die handsakke te pak en berei ons alles vir die uitreik voor.” Hulle identifiseer ʼn teikengroep en tref reëlings vir oorhandiging.

Die inhoud van elke handsak is eenvoudig, maar doelgerig: sneesdoekies, lipbalsem, reukweermiddel, handreiniger en sanitêre doekies. “Hierdie items word deur elke vrou gebruik,” sê sy. Maar dit is nie net die produkte wat tel nie. Elke handsak bevat ook ʼn briefie van hoop: “Dit is ʼn kort en kragtige boodskap dat sy nie alleen is nie – daar is ʼn ander vrou wat aan haar gedink het.”

Foto: Die items wat elke handsak bevat. (Facebook/Bless my bag)

Hierdie klein, persoonlike element illustreer wat maatskaplike werkers élke dag doen: hoop skep deur gewone, eenvoudige gebare.

ʼn Handsak wat ʼn duisend stories kan vertel

Een van die mees onvergeetlike oomblikke vir Thamar was toe ʼn gerehabiliteerde sekswerker, wat ʼn handsak ontvang het, twee jaar later na ʼn damestee met daardie selfde handsak teruggekeer het. “Sy het vertel dat die handsak haar van die straat af gered het. Sy kyk na haar handsak soos die Here na haar kyk – splinternuut en dink nie aan die verlede nie.”

Vir maatskaplike werkers is dit ʼn herinnering dat jy dalk nie elke dag die eindresultaat van jou werk sien nie, maar dat jou ingryping of eenvoudige daad iemand se hele lewenspad kan verander.

Foto verskaf: Ontvangers van die “Bless my bag”-handsakke

Die herstel van waardigheid én hoop

“Die lewe behandel nie alle vroue altyd regverdig nie,” sê Thamar. “Baie jare gelede was ek een van die top-10-finaliste in die Mev. Suid-Afrika-kompetisie. Daar het ek besef hoe belangrik die rol van ʼn doelgerigte vrou is. Die ‘Bless my Bag’-projek is een van die platforms waar ek dit kan uitleef – om weerlose vroue se waardigheid te help herstel, gee vir my ongelooflike vreugde.”

Thamar se woorde sluit aan by wat maatskaplike werkers elke dag beleef: Waardigheid word nie herstel deur groot gebare nie, maar deur blywende, klein oomblikke van erkenning en ondersteuning.

Die reaksies van vroue is dikwels hartverskeurend, en tog hoopvol. “Een werklose vrou het met trane in haar oë gevra hoe ons geweet het dat sy sanitêre doekies nodig het, maar sy kon dit nie self bekostig nie. ʼn Ander jong meisie het besluit om die gebaar weer aan iemand anders oor te dra. Nou is sy een van ons vrywilligers en haar ma doen dit saam met haar.”

Thamar se boodskap is eenvoudig: “Jou handsak is ʼn tweedehandse handsak, want dit het aan iemand anders behoort wat aan jou gedink het. Net so verdien jy ʼn tweede kans met jou tweede kans-handsak. Jy maak saak.”

Foto verskaf: Ontvangers van die “Bless my bag”-handsakke

Maatskaplike werkers speel ʼn onmisbare rol

Elke handsak, elke briefie, elke traan wat afgevee word, is ʼn herinnering dat jy nie altyd die applous mag hoor of die ondersteuning sien nie, maar dat jou kleinste en eenvoudigste daad werklik hoop en waardigheid aan iemand oordra.

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk erken die passie wat maatskaplike werkers vir hulle beroep het; hulle wíl ʼn verskil in mense se lewens maak. Vir maatskaplike werkers is erkenning min terwyl daar baie emosionele trauma aan dié beroep gekoppel is. Dit is egter ʼn roeping en die vlam van jou roeping kan nie geblus word nie. Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk is ʼn veilige hawe waar jy saam met ander in jou beroep oor die uitdagings én die oorwinnings kan gesels en mekaar kan ondersteun.

Maatskaplike werkers speel ʼn onmisbare rol in ons gemeenskappe en ons sien dit raak. Jou werk maak saak en jy maak ʼn verskil!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel