
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Bo-Karoo Opleiding: ʼn Toekoms van akademiese en kulturele groei, want #JyHoortHier
Deur Kyla-Ann du Toit
Langs die Oranjerivier in die Karoo-streek van die Noord-Kaap, in die plattelandse Afrikanergemeenskap van Orania, bou Bo-Karoo Opleiding (BKO) aan vryheid deur opleiding en arbeid.
BKO is ʼn privaat beroepsopleidingsinstelling wat deel vorm van die Solidariteit Beweging. Dit bied die ideale geleentheid vir studente om ʼn nasionaal geakkrediteerde kwalifikasie in ʼn goed gestruktureerde landelike omgewing te verwerf. Hiér verwerf studente nie nét ʼn kwalifikasie nie; hulle word ook gevorm om as roepingsgedrewe volwassenes die arbeidsmark te betree – stewig gegrond in hul geloof en kultuur.
In ʼn tyd waarin ons taal, kultuur en opvoedingsgeleenthede dikwels onderdruk word, is BKO ʼn baken van hoop en bevestiging vir jong mense. Die #JyHoortHier-veldtog van Solidariteit is diep verweef met BKO se missie: om ʼn veilige en ondersteunende omgewing te bied waar studente hul volle potensiaal kan bereik en kan floreer. Hier is #JyHoortHier meer as net ʼn uitdrukking; dit is ʼn belofte dat elke student ʼn waardevolle plek in die gemeenskap én in Suid-Afrika het. BKO is dus nie net ʼn plek van akademiese groei nie, maar ook een waar studente trots kan voel op hul Afrikaanse erfenis.
BKO, wat in 2019 met slegs vyf studente tot stand gekom het, spog vandag met 130 studente, 3 koshuise, 1 daghuis en 17 roepingsgedrewe personeellede. BKO fokus op gehalte-opleiding in landbou, ambagte en tuisversorging, met kwalifikasies in boerderybestuur, bou- en siviele konstruksie, loodgieterswerk, elektries en tuisversorging. Met die onlangse bekendstelling van nuwe werkswinkels en klaskamers word studente ook goed toegerus vir die werkplek.
Volgens Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, het dié instelling in 2024 verskeie mylpale bereik. Hulle het hul eerste eerstejaarskamp aangebied en hulle eerste koshuisliga vir rugby, netbal en hokkie het afgeskop. Studente het ook ʼn stoepstories- en talentaand vir die gemeenskap aangebied en die eerste oeste is vanaf die Leer-My-Hoe-proefplaas geoes. “Ons studentelewe groei en tradisies word sterk gevestig – met al hierdie aktiwiteite en momentum beweeg ons vorentoe,” sê Vogel.
Daar is ook nóg meer opwindende projekte wat beplan word. In 2025 beplan BKO om twee nuwe programme bekend te stel, asook 80 bykomende slaapplekke in die koshuise wat vanaf Januarie 2025 beskikbaar sal wees. Hierdie uitbreiding weerspieël BKO se poging om die teenwoordigheid van Afrikaans in die akademiese arena te versterk, asook om die kulturele en opvoedkundige behoeftes van die Afrikaanse gemeenskap te bevorder.
Solidariteit besef die noodsaaklikheid van goeie opleiding en is daartoe verbind om die Afrikaanse gemeenskap se toekoms te ondersteun deur wêreldklas kennisinstellings te help bou. Hierdie toewyding dra by tot die verwesenliking van BKO se ideale en visie, en bied hoop vir die toekoms van Afrikaans. Ons kultuur en taal word dikwels bedreig en daarom is dit van kardinale belang om ʼn plek te hê waar ons jong mense se waardes en tradisies waardeer en bewaar word. BKO bied hierdie geleentheid aan studente en sê met trots: “Dit is jóú plek, jóú gemeenskap en jóú toekoms, want #JyHoortHier.”
BKO bevorder dus die Afrikanerkultuur deur vir studente ʼn vry, veilige en voorspoedige studietuiste te bied waar hulle aan ʼn hoopvolle toekoms vir hulself en hul nageslag kan bou. Solidariteit en sy lede help bou aan hierdie hoopvolle toekoms. Sáám kan ons verseker dat ons plek in Suid-Afrika én ons kultuur ʼn helder toekoms het.
Solidariteit se #JyHoortHier-veldtog herinner ons daaraan dat ons nie alleen is nie, maar deel is van ʼn groter verhaal van volhoubaarheid en kulturele identiteit. Dit is dus belangrik om saam met Solidariteit te veg, te beskerm en te bou aan ʼn toekoms vir onsself en ons nageslag. Ons gaan nêrens heen nie, want #JyHoortHier!