
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
My droom en my gebed vir Suid-Afrika
Deur Marné Pienaar
Ek het onlangs die onderstaande artikel op Netwerk24 gelees: https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/afrikaner-vlugteling-boer-nou-in-vsa-ek-wens-sa-was-so-20250612-2

Dit breek my hart …
In die onderhoud deel Charl Kleinhaus sy storie – ʼn storie van seer, ʼn storie van vrees en magteloosheid. Hy en sy gesin was deel van die eerste groep Afrikanervlugtelinge wat in die VSA aangekom het.
Die hele storie maak my eintlik siek. So baie van ons familie en vriende is nou regoor die wêreld versprei. Mense wat, ter wille van hul kinders, ʼn nuwe tuiste moes soek. Mense wat stééds in Suid-Afrika sou gewees het as die omstandighede anders was.
Dit is ʼn absolute voorreg om ʼn werk in Suid-Afrika te kan hê. Soveel mense sukkel om goeie werk te kry en selfs al het jy ʼn billike inkomste, is die lewenskoste so hoog dat al hoe meer jong mense by hul ouers moet bly om te kan oorleef.
In net 30 jaar het die ANC daarin geslaag om ʼn land te verwoes en soveel wanhoop te saai, dat dit vir baie mense nie meer ʼn keuse is om die land te verlaat nie – dit is die enigste uitweg.
Ek het grootgeword in ʼn land waar slaggate, beurtkrag en swak dienslewering die norm is. In ʼn winkelsentrum gaan ek nie alleen badkamer toe nie en ek vermy dit om in die aande rond te ry, tensy ek rêrig moet. Nee, dit is nie die lewe wat ek wil lei nie – en ek verstaan waarom so baie mense die land verlaat om wel hierdie vryhede te kan ervaar.
Charl noem in sy onderhoud dat daar derduisende werkgeleenthede beskikbaar is – in die deelstaat New York alleen is daar 19 000 beskikbare poste. Dít staan in sterk kontras met die miljoene werkgeleenthede wat swart ekonomiese bemagtiging Suid-Afrika al gekos het, volgens ʼn verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wat op 12 Junie 2025 vrygestel is.
Ons leef in ʼn land waar die regering nie vir sy mense ʼn beter lewe probeer skep nie. En dáárin lê vir my die hartseerste waarheid. Hoe is jy veronderstel om nie deur moedeloosheid oorrompel te word nie?
Maar ek glo in ʼn almagtige God. ʼn God met ʼn groter plan as wat enige van ons ooit kan verstaan. Daar is ʼn doel met alles. Selfs al maak dit nie sin nie, weet ek en glo ek dat God in beheer is en ʼn plan met elkeen van ons se lewe het.
Daarom werk ek vir Solidariteit. Daarom werk ek vir ʼn organisasie wat vir mý omgee en elke dag die ekstra myl loop om te verseker dat jong mense soos ek die regte toerusting het om suksesvol in Suid-Afrika te kan wees.
Solidariteit beskerm sy mense al vir meer as 120 jaar en sal so volhou. Ek en honderde ander jong mense het hoop vir die toekoms, omdat ons weet daar is organisasies soos Solidariteit wat veg sodat ons mag leef, mag werk en voorspoedig mag wees.
Net soos Charl droom ek van ʼn Suid-Afrika waar dinge werk en waar die kleur van my vel nie teen my tel nie. Dít is die Suid-Afrika waarvoor Solidariteit veg.
“Bid sonder ophou.”
1 Thessalonicense 5:17, 1953-vertaling
Dit is so ʼn kort versie, maar dit spreek boekdele van ons afhanklikheid van God en hoe ons elke dag moet aanpak.
Mag ons vry, veilig en voorspoedig wees, hier aan die suidpunt van Afrika – en mag ons werk geseën word om dit te kan volhou.