loading
Artikels
1 week gelede
bo-karoo-opleiding-n-toekomsbouer-in-die-hartjie-van-die-karoo

Foto Krediet: Bo-Karoo Opleiding

Bo-Karoo Opleiding: ’n Toekomsbouer in die hartjie van die Karoo

Deur Leré Nel

In die hartjie van die Karoo, langs die rustige vloei van die Oranjerivier, staan daar ’n opleidingsinstelling wat nie net boere en ambagslui oplei nie, maar jong leiers vorm. Dié instelling, Bo-Karoo Opleiding (BKO), is een van die talle Afrikaanse instellings wat met trots deel van die Solidariteit Beweging vorm. Dit is ’n sprekende voorbeeld van wat dit beteken om te bóú– aan mense, aan gemeenskappe en aan die toekoms.

ʼn Klein begin

Op 2 Mei 2025 het BKO sy sesde verjaarsdag gevier en dit is merkwaardig wat alles in dié ses jaar bereik is. Van ’n nederige begin met 5 studente in 2019, het BKO gegroei tot ’n volwaardige beroepsopleidingsentrum met 205 studente, 8 gehalte kwalifikasies, 3 koshuise, ’n daghuis, 24 roepingsgedrewe personeel, meer as 100 alumni en ʼn woelige kampuslewe. Hierdie groei is te danke aan ʼn duidelike visie, deursettingsvermoë, en ook die ondersteuning van Solidariteit en Kanton Beleggings, wat deur strategiese beleggings help om sulke instellings op te rig en volhoubaar te onderhou.

Opleiding met betekenis, in jou moedertaal

BKO glo dat opleiding nie net oor kennis gaan nie, maar oor roeping. Hier word studente toegerus om met trots, vaardigheid en verantwoordelikheid hul plek in die arbeidsmark in te neem – in Afrikaans. Dit is ’n taal van landbou, arbeid en erfenis, en binne BKO se mure (én buite op die proefplaas of in die werkswinkel) leer en leef studente in hul moedertaal.

Ware studentevryheid

Dr. Dirk Hermann, BKO-direksielid en bestuurshoof van Solidariteit, sê dat ware studentevryheid wat kom uit ʼn veilige kampus, al so ver weg van die meeste mense is dat hulle nie eers bewus is van die verlies daarvan nie. Dit is iets wat BKO onderskei van alle ander opleidingsinstellings: die feit dat studente werklik veilig kan wees in die Orania-gemeenskap en só ware studentevryheid en geborgenheid kan geniet.

’n Volwaardige kampuslewe, gegrond in Christelike waardes

By BKO word opleiding aangevul deur ’n ryk studentelewe – met eerstejaarskampe, sportligas, stoepstories, talentaande en gemeenskapsbetrokkenheid. Hier word nie net gefokus op akademiese groei nie, maar ook op persoonlike en geestelike groei. Die instelling is op ʼn fondasie van Christelike waardes gebou en glo daarin om vryheid deur arbeid moontlik te maak.

Die instelling se unieke kenteken simboliseer hierdie roeping: ’n pilaar van opleiding, ’n Bybel as fondament, hande wat beskerming bied, en vensters wat na ’n hoopvolle toekoms uitkyk.

Verskeie studierigtings, een doel: bemagtiging!

BKO bied tans agt nasionaal geakkrediteerde rigtings aan:

  • • Boerderybestuur
  • • Bou- en siviele konstruksie
  • • Loodgietersopleiding
  • • Elektrisiënsopleiding
  • • Tuisversorging
  • • Vroeë kinderontwikkeling
  • • ʼn Siviele Ingenieurswese-diploma
  • • ʼn Algemene huishoudelike herstelwerker-kwalifikasie.

Elke kursus is ontwerp om nie net vaardighede oor te dra nie, maar om studente selfversekerd en trots op hul beroep die werkswêreld in te stuur. In 2025 brei BKO ook nóg meer uit met twee nuwe programme en 80 bykomende slaapplekke in sy koshuise.

Kanton Beleggings: Die grond waarop ons bou

Geen nuwe instelling kan floreer sonder stewige steun nie – en Kanton Beleggings is die onmisbare vennoot in hierdie suksesverhaal. Deur doelgerigte investering in instellings soos BKO, maak Kanton dit moontlik vir Solidariteit om nie net teen onreg te veg nie, maar om te bou – bou aan selfstandigheid, aan gemeenskappe, aan ’n toekoms waar ons kinders hul plek in Suid-Afrika kan inneem sonder om hul Afrikaner-identiteit prys te gee.

BKO sê: Ons sal self!

In ’n land waar vaardigheidstekorte ʼn groot probleem geword het, het Bo-Karoo Opleiding die oplossing geraak. Dit is hier waar jong mense hul drome begin leef, waar kultuur gevier en daarop voortgebou word, en waar opleiding nie net ’n stuk papier oplewer nie, maar ’n lewenspad vorm.

#OnsBou aan ʼn Afrikaanse toekoms vir jong mense, want #JyHoortHier! Raak betrokke en bou saam!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel