loading
Artikels
1 week gelede
ons-bou-want-ons-weet-wat-werk-solidariteit

Foto Krediet: OkayDeer

Ons bou, want ons wéét wat werk – Solidariteit

In ʼn land in verval, kies Solidariteit om te bou – nie net met woorde nie, maar deur daadwerklike gemeenskapsprojekte. Hierdie instellings is nie bloot infrastruktuur nie, maar simbole van hoop en selfstandigheid vir die Afrikaanse gemeenskap. Dit skep ʼn toekoms waarin kennis, vaardighede en karakter weer ʼn prioriteit is. Lees hier meer hoe Solidariteit, met jóú ondersteuning en bydrae, aan daardie toekoms bou.


Deur Kyla-Ann du Toit

In ʼn land waar dinge voortdurend uitmekaar val, kies Solidariteit om te bou. Waar ander op ingryping hoop, neem Solidariteit inisiatief. Waar ander hul hande in die lug gooi uit wanhoop, rol Solidariteit sy moue op en begin werk. Omdat ons glo in iets groter as vandag se uitdagings, glo ons in ʼn toekoms waarin ons kinders vry, veilig en voorspoedig kan leef. Ons bou sélf hierdie toekoms.

Solidariteit is besig met een van die grootste gemeenskapsbouprojekte in die moderne Suid-Afrika. Van Akademia, Sol-Tech, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, Gimnasium Pretoria, en Bo-Karoo Opleiding tot die Helpende Hand Opleidingsinstituut, vestig ons instellings wat mense met kennis, vaardighede en karakter bemagtig. Dit is nie sommer net projekte nie – dit is bakens van hoop.

Ons wag nie vir die regering om universiteite te red nie – ons bou Akademia. Ons kla nie net oor swak tegniese opleiding nie – ons stig Sol-Tech. Ons skryf nie net briewe oor waarom Afrikaanse skole ondersteuning nodig het nie – ons hou ʼn Bela-optog en bou Gimnasium Pretoria. Solidariteit is meer as net ʼn vakbond – dit is ʼn beweging van ʼn gemeenskap wat glo dat ons toekoms in ons eie hande lê.

Kanton Beleggings, as deel van hierdie beweging, help om infrastruktuur te finansier en die ekonomiese ruggraat vir ons drome te skep. Sonder Kanton sou Akademia se nuwe wêreldklaskampus, ʼn ware monument vir Afrikaanse hoër onderwys, net ʼn droom gebly het. Nou word dit ʼn werklikheid – baksteen vir baksteen.

Wat al hierdie projekte bind, is ʼn eenvoudige maar kragtige oortuiging: #JyHoortHier. Jy hoort in hierdie land, in hierdie gemeenskap, in hierdie toekoms wat ons bou. Maar om hier te bly, móét ons bou. Ons moet saamstaan, saam gee en saam bou.

Elke bietjie maak ʼn groot verskil. Of jy nou ʼn lid van Solidariteit word, tot die Solidariteit Boufonds bydra of jou tyd en kundigheid skenk – jy help bou aan ʼn nalatenskap wat veel verder as jouself strek. Jy help bou aan ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms, nie net vir jou en jou gesin nie, maar vir geslagte wat volg.

Word vandag deel van iets groter. Sáám bou ons ʼn toekoms waarin jy kan floreer, want jy hoort hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel