loading
Artikels
1 maand gelede
kanton-en-akademia-n-projek-met-n-groter-doel

Foto Krediet: Verskaf

Kanton en Akademia: ʼn Projek met ʼn groter doel

Hoekom neem ʼn maatskappy soos Kanton die reuse-stap om ʼn splinternuwe kampus vir Akademia van die grond af te bou? Hierdie projek is nie net ʼn konkrete ontwikkeling nie, maar ʼn simboliese belegging in die toekoms van Afrikaanse hoëronderwys. Dit gaan oor meer as bakstene – dit gaan oor identiteit, hoop en die vorming van toekomstige generasies. Lees hier meer oor hoekom Kanton aan ʼn splinternuwe kampus bou.


Deur Kyla-Ann du Toit

Wat inspireer ʼn maatskappy om baksteen vir baksteen, meter vir meter, ʼn splinternuwe Afrikaanse kampus tot stand te bring? Die ontwikkeling van ʼn volwaardige kampus vir Akademia is een van die grootste projekte waarby Kanton tot nog toe betrokke was. Dit is egter meer as net ʼn bouprojek; dit is ʼn droom – ʼn visie vir die toekoms en ʼn daadwerklike poging om ʼn ruimte te skep waar jong mense volwaardig intellektueel, sosiaal én geestelik gevorm kan word.

Hoop as dryfkrag

“Wat my inspireer van hierdie projek is hoop. Hoop vir ʼn gemeenskap hier aan die suidpunt van Afrika, maar meer as dit, ook hoop wat voortspruit uit die aard en die karakter van wie en wat Akademia is. Hoop wat in die ewigheid eggo. Dit is vir my ʼn wonderlike voorreg om aan hierdie projek te werk,” sê Henk Schalekamp, die besturende direkteur van Kanton.

“Wat my opgewonde maak van hierdie projek is dat ek sien hoe ons besig is om ʼn plek, ʼn tuiste, te ontwikkel waar mý kinders ʼn studentebelewenis gaan hê soos wat ek gehad het – ʼn ruimte waar ek maar net myself kan wees omdat die ruimte inherent veilig is. Dit is ʼn plek waar ek kan speel, baljaar en ʼn bietjie stout kan wees, maar dit is ook ʼn plek waar ek geskaaf en gevorm word sodat ek ʼn verantwoordelike lid van die gemeenskap kan wees in die jare wat kom.”

ʼn Tuiskoms vir die toekoms

Francois van Vuuren, Kanton se direkteur van eiendomme, meen die belangrikheid van ʼn kampusomgewing is nie net die bevordering van akademiese ontwikkeling nie, maar ook koestering, groei en gemeenskap. “ʼn Hoëronderwysinstelling soos Akademia is verantwoordelik vir die vorming van mense wat ʼn enorme taak is om te verrig,” sê hy.

“Navorsing bewys dat die eerste drie jaar nadat ʼn mens jou ouerhuis verlaat het die belangrikste vormingsjare van ʼn volwassene is. Dit is dus juis op ʼn kampus soos dié van Akademia waar studente hul tyd voltyds deurbring waar daardie vorming plaasvind. Mense ontdek dus hul individuele identiteit gedurende daardie tydperk van hul lewe en natuurlik ontwikkel hulle ook die vaardighede wat hulle eendag gaan gebruik om waarde tot hul gemeenskap toe te voeg. Dit is ʼn voorreg om betrokke te kan wees by só ʼn instelling wat verantwoordelik is vir die vorming van mense.

ʼn Ruimte vir generasies wat kom

Vir Kanton gaan dit nie net oor bakstene en geboue nie. Dit gaan oor identiteit, taal en kultuur. Dit gaan oor hoop – hoop wat nie net vir vandag daar is nie, maar wat vir geslagte lank kan eggo, ʼn hoop om Afrikaanse jong mense se toekoms op vaste grond te bou.

Kanton bou dus vir ons kinders en húl kinders. Lees hier meer oor die Toekomsbouer-veldtog, of besoek www.toekomsbouer.co.za.

Solidariteit is ʼn trotse vennoot van hierdie merkwaardige projek. Die Solidariteit Boufonds het juis uit die oortuiging ontstaan dat kennis een van die kragtigste maniere is om mense in ʼn veranderende wêreld te bemagtig. Met die Boufonds beoog Solidariteit om aktief in die toekoms van sy mense te belê – nie net simbolies nie, maar tasbaar, deur hoëgehalte-kennisinstellings te bou en in stand te hou. Instellings soos die Akademia-kampus is die vrug van daardie visie.

Word vandag deel van hierdie nalatenskap. Belê saam met ons in die volhoubaarheid van Afrikaanse hoëronderwys. Die tyd om te bou aan iets wat geslagte lank sal hou, is nie môre nie; dit is vandag!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel