loading
Artikels
1 jaar gelede
boedelbereddering-en-administrasie-na-afsterwe-van-geliefde

Foto Krediet: Mayron Oliveira - Unsplash

Boedelbereddering en administrasie ná afsterwe van geliefde

Deur Melodie Veldhuizen

Wanneer ʼn geliefde sterf, wil jy ná die begrafnis/roudiens tyd neem om jou pyn en verlies te verwerk. Maar die lewe gaan aan – en deel daarvan is die boedelbereddering en ander administratiewe sleur, veral as jy self die eksekuteur is.

Eksekuteursverpligtinge en ander noodsaaklike administratiewe verpligtinge

  • Die eksekuteur word by wyse van ʼn eksekuteursbrief deur die Meester van die Hooggeregshof gemagtig.
  • Die Meester kan in sommige gevalle aanbeveel dat jy ʼn agent (byvoorbeeld ʼn prokureur) kry om jou by te staan.
  • Die eksekuteur of agent moet binne 14 dae ná afsterwe die boedel by die Meester van die Hooggeregshof of ʼn dienspunt van die Meester aanmeld, tesame met die nodige dokumentasie. Die Meesterskantore in Pretoria se kontakbesonderhede is 012 339 7700. Raadpleeg ook die Departement van Justisie se webtuiste: http://www.justice.gov.za/master/deceased-how.html vir inligting rakende ander dienspunte en vorms wat ingedien moet word.  Hierdie vorms kan ook hier afgelaai, gedruk en byderhand gehou word.
  • Plaas ʼn sterftekennisgewing in die Staatskoerant en plaaslike koerant waar die oorledene woonagtig was, waarin krediteure versoek word om binne 30 (dertig) dae vanaf die advertensiedatum hul eise te bewys en by die eksekuteur van die boedel in te dien.
  • Onttrek soveel moontlik kontant uit rekeninge om kontantvloei te verseker tot die boedel afgehandel is.
  • Stel bank/e in kennis. Hulle sal onmiddellik alle rekeninge vries totdat die boedel afgehandel is.
  • Kry waardasies van die billike markwaarde van alle bates (huis, voertuie, vuurwapens).
  • Bereken kapitaalwinsbelasting en dien inkomstebelastingopgawes tot en met die sterfdatum in.
  • Vereffen alle skulde.
  • Bereken en vereffen boedelbelasting wat betaalbaar mag wees.
  • ʼn Staat van bates en laste en die verdeling van bates aan die begunstigdes (Likwidasie- en Distribusierekening) moet binne 6 (ses) maande vanaf die datum wat die eksekuteursbrief uitgereik is, by die Meesterskantoor ingedien word.
  • Sodra die likwidasierekening goedgekeur is, word ʼn finale kennisgewing in die Staatskoerant asook ʼn plaaslike koerant geplaas, wat vir krediteure of enige ander party wat belang het by die boedel die geleentheid gee om binne 21 dae vanaf die advertensiedatum beswaar aan te teken teen die inhoud van die likwidasierekening.
  • Indien daar geen besware deur die eksekuteur of die Meesterskantoor ontvang word nie, kan die eksekuteur voortgaan met die verdeling van boedelbates en die finale afhandeling van die boedel.
  • Open ʼn boedelrekening by die bank waarin pensioenfondsgelde en lewenspolisse inbetaal kan word. Reël dat dit op die voordeligste manier belê word om maksimaal rente te verdien, maar geredelik toeganklik is.
  • Kanselleer alle kontrakte en reël dat dié wat moet voortgaan, na die naam van die langslewende oorgeplaas word (TV, DSTV, munisipale rekeninge, telefoon).
  • Kanselleer lidmaatskap van organisasies soos die ATKV, AfriForum, Solidariteit, die biblioteek.
  • Mediese fonds se lidmaatskap: verander hooflid en afhanklikes.
  • Herlisensieer vuurwapens (indien enige in die oorledene se naam geregistreer is).
  • Indien jy nog nie as belastingbetaler geregistreer is nie, doen dit deur by die Ontvanger van Inkomste te registreer.
  • Hersien jou testament, of as julle ʼn gesamentlike testament gehad het, laat ʼn nuwe een opstel.

             Dokumentasie benodig:

Maak minstens tien tot vyftien afskrifte van dokumente gemerk met * en laat dit waarmerk. Jy gaan dit by baie instansies moet indien.

  • Doodsertifikaat *(Doen aansoek by die Departement van Binnelandse Sake deur vorm Bl-132 te voltooi. Sommige begrafnisondernemers doen dit namens jou. Dit kan tot twee weke neem vir die uitreiking van die sertifikaat).
  • ID van oorledene*
  • Eksekuteursbrief *
  • ID van eksekuteur *
  • Bewys van verblyf van eksekuteur (nie ouer as drie maande nie)*
  • Huweliksertifikaat*
  • Oorspronklike testament
  • Huweliksvoorwaardekontrak
  • Egskeidingsbevel en -ooreenkomste
  • Titelaktes of huisverbanddokumentasie
  • Aandeelsertifikate
  • Poliskontrakte van lewensversekering en uittreeannuïteite
  • Tjekboeke, kredietkaarte, effektetrustsertifikate en ander beleggingsdokumente
  • Mees onlangse bankstate
  • Sake-ooreenkomste
  • Oorspronklike voertuigregistrasiesertifikate en huurkoopkontrakte
  • Uitstaande rekeninge, huurkontrakte, huurkoopooreenkomste en enige ander kontrakte en ooreenkomste (selfone, TV-lisensie, DSTV, mediese fonds, munisipale rekeninge, klere- en  ander rekeninge)
  • Kort- en langtermynmynversekeringspolisse en kontakbesonderhede van makelaar
  • Inkomstebelastingverwysingsnommer, IRP 5, mees onlangse belastingaanslag
  • Naam en kontakbesonderhede van ouditeur/rekenmeester
  • Besonderhede van borgverpligtinge
  • Mediese fonds se besonderhede
  • Besonderhede van die oorledene se werkgewer en/of pensioenfondsbesonderhede
  • Volle name en identiteitsnommers van alle erfgename
  • Pensioen- en groeplewensversekeringbesonderhede
  • Lys van bates en laste
  • Netto waarde van langslewende se boedel (bates minus laste) soos op datum van dood waar buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling getroud was
  • Waardasiesertifikaat van vaste eiendom (kry by munisipale kantore)
  • Waardasie van voertuie deur ʼn motorhandelaar op sy briefhoof
  • Waardasie van vuurwapens deur vuurwapenhandelaar op sy briefhoof, asook vuurwapenlisensie
  • Begrafniskoste
  • Debiteurs (besonderhede van persone wat die oorledene geld geskuld het)
  • Inligting van afhanklike(s) se onmiddellike finansiële behoeftes

Die afhandeling van die boedel kan tussen ses (6) maande en twee (2) jaar duur. Wees dus bedag op die nodigheid om spaarsamig met geld te werk, veral as die oorledene die primêre broodwinner was.

 Moontlike faktore wat die vertraging kan veroorsaak, is:

  • geen testament nie;
  • geen eksekuteur is aangewys nie;
  • aangewese eksekuteur is nie ʼn wettige eksekuteur nie of word nie deur die Meester van die Hooggeregshof erken nie; en/of
  • onvolledige dokumentasie.

Solidariteit-lede wat daarvoor kwalifiseer*, ontvang omvattende begrafnisbystand wat sy/haar gade of benoemde lewensmaat en afhanklike kinders van jonger as 21 jaar insluit.

Kontak Solidariteit se dienskantoor by 0861 25 24 23 of stuur ʼn e-pos na diens@solidariteit.co.za indien jy as lid enige navrae het in verband met testamente. Vir meer inligting rakende die begrafnisbystand, klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel