loading
Artikels
3 dae gelede
vyf-dinge-wat-jy-nou-al-kan-doen-om-vir-jou-kind-se-studies-te-betaal

Foto Krediet: Okay Deer

Vyf dinge wat jy nou al kan doen om vir jou kind se studies te betaal

Deur Kyla-Ann du Toit

Tersiêre studies word al hoe duurder. Daarom is dit geen verrassing dat baie ouers wonder hoe hulle dit eendag gaan bekostig nie. As jy alreeds bekommerd is oor jou kind se toekoms, is jy nie alleen nie. Die goeie nuus? Jy hóéf nie vandag al, al die antwoorde te hê nie, maar jy kán solank begin slim beplan.

Hier is vyf praktiese stappe wat jy nou al kan neem om toekomstige finansiële spanning te verminder:

1. Begin vroegtydig – tyd is geld

Volgens Mariska Brink, hoof van finansiële advies by Solidariteit Finansiële Dienste (SFD), is die grootste voordeel van vroeë beplanning die impak van saamgestelde rente. “As jy oor ʼn langer termyn spaar, put jy maksimum voordeel daaruit. Jy hoef minder by te dra en kry steeds beter opbrengste,” sê sy.

2. Berei voor met realistiese doelwitte

Die eerste praktiese stap is om vas te stel watter studierigting jou kind graag wil volg en wat dit waarskynlik gaan kos. Of dit nou ʼn diploma of ʼn mediese graad van vyf jaar is, elke studierigting se kostes verskil. As die volledige bedrag ontmoedigend lyk, begin klein. Daar is beleggingsprodukte beskikbaar wat jou toelaat om met minimale bedrae te begin en dit stadigaan te vermeerder. Die belangrikste is: begin êrens!

“In baie gevalle wys die somme dat ʼn ouer R2 000 tot R3 000 per maand moet spaar, en dit is dan wanneer baie ouers opgee,” sê Brink. “Maar daar is beleggingsprodukte waar jy so min as R200 per maand kan spaar en dit dan verhoog soos wat jou begroting dit toelaat.”

3. Hou rekord van prestasies – jou kind se “beurs-CV”

Beurse gaan nie net oor akademiese uitslae nie. Kultuur- en sportdeelname, leierskap en gemeenskapsbetrokkenheid tel ook. Begin nou al om jou kind se prestasies, sertifikate en aanbevelings op een plek te dokumenteer. Skep ʼn digitale lêer en hou dit op datum. Hierdie lêer gaan goud werd wees wanneer julle in jou kind se matriekjaar begin aansoek doen vir beurse. ʼn Leerder wat kan bewys dat hulle regtig hard gewerk en uitgeblink het, het ʼn beter kans om studieondersteuning ná skool te ontvang.

4. Sluit aan by relevante organisasies

Sluit aan by netwerke en organisasies wat jou toegang tot hulpbronne en inligting gee. Solidariteit se Skoliere-aanbod is spesifiek ontwikkel om jou én jou kind te ondersteun. Op Solidariteit kry jy toegang tot meer as 40 beurs- en leningopsies, insluitend dié van Solidariteit Finansiële Dienste, Helpende Hand Studietrust, Atterbury Trust, Helpmekaar Studiefonds en nog vele meer. Dit is slim om nou al bewus te wees van sulke instellings, veral as jy weet jy gaan studieondersteuning nodig hê. Lees hier meer oor hoe Solidariteit jou met finansiële beplanning vir jou kind se studie kan bystaan.

5. Beplan vir krisisse

“Maak seker jy het ʼn noodfonds met genoegsame fondse om huishoudelike krisisse te hanteer, sodat jy nie uit jou kinders se studiefondse geld hoef te onttrek nie,” waarsku Brink. Sy adviseer dat ouers ʼn afsonderlike noodfonds moet opbou wat die gesin deur onverwagse tye sal kan dra. Só verseker jy dat jou kind se toekoms beskerm is, selfs wanneer dinge moeilik raak.

Jy is nie alleen nie

Dit kan oorweldigend voel, maar jy hoef nie alles gelyktydig te doen nie. Deur nou al een of twee klein stappe te neem, bou jy ʼn brug vir jou kind om hul studiedrome te verwesenlik. Met beplanning, toegang tot hulpbronne en ʼn bietjie vindingrykheid is dit moontlik om daardie studiedrome ʼn werklikheid te maak, selfs sonder ʼn groot spaarvarkie.

Klik hier en skep vandag nog jou en jou kind se gratis profiel opSolidariteit om toegang tot waardevolle bronne en inligting vir finansiële ondersteuning te kry. Jou kind se toekoms begin vandag, en jy het meer beheer as wat jy dink!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel