Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Boeke, begrotings en beddegoed: Wat jou kind voor universiteit moet weet
Deur Karen Waldeck
Die matriekjaar is binne ʼn oogwink verby! Voor jy jou oë uitvee, sit jou kind in ’n onbekende koshuis, tussen vreemdelinge, met ʼn toring handboeke en geen idee hoe om te begroot of hoekom die oggendklas eintlik belangrik is nie. Dit is die werklikheid vir baie ouers – en kinders – wanneer universiteit begin. Jy as ouer kan meer bydra as om net die skootrekenaar en studiefonds te betaal.
Die wêreld buite die klaskamer verg meer as net akademiese slimheid. Dit verg aanpasbaarheid, emosionele volwassenheid en ʼn goeie aantal lewensvaardighede. Hier is ’n paar unieke en praktiese wenke om jou kind se kop gereed te kry vir sukses – op kampus én daarbuite in die wêreld.
1. Leer hulle om alleen te dink (en te doen)
Die waarheid is: universiteite verwag selfstandigheid. Ma gaan nie daar wees om die wekker te stel, ’n toebroodjie te pak of ’n e-pos aan die dosent te stuur nie. Begin nou al om vir jou kind verantwoordelikhede te gee.
Laat hulle self hul skedule beplan, vervoer reël, of selfs ’n week lank aandete kook. Dit bou selfvertroue en leer tydsbestuur – twee eienskappe wat studente regtig nodig het.
2. Gesels oor geld – lank voordat dit ʼn krisis raak.
Die meeste studente het geen idee hoe geld werk nie. Hulle weet nie hoe bankfooie werk, wat rente beteken of hoekom ʼn kredietkaart gevaarlik kan wees nie. Die gevolg? Swak finansiële besluite, skuld, en daardie nare gevoel van spyt. Onthou vir die eerste keer het hulle toegang tot geld waarmee hulle enige iets kan koop of doen sonder dat iemand heeltyd oor hulle skouer loer.
Maak finansiële geletterdheid deel van jul gesinsgesprekke. Leer jou kind hoe om ʼn eenvoudige begroting te maak, die verskil tussen “wil hê” en “nodig hê”, en hoe om met dissipline te spaar. Jy kan selfs ’n praktiese oefening doen: gee ’n maand se “studiegeld” en laat hulle self beplan hoe om dit aan kos, vervoer en data te spandeer.
3. Fokus op emosionele veerkragtigheid
’n 80%–gemiddeld waarborg nie sukses op universiteit nie. Trouens, baie toppresteerders sukkel die meeste wanneer hulle uit hul gemaksones gehaal word. Daarom is emosionele veerkragtigheid só belangrik.
Leer jou kind dat mislukking deel is van groei. Help hulle verstaan dat ʼn toets waarin hulle sleg gevaar het of ʼn stroewe verhouding met ʼn dosent nie hul waarde bepaal nie. Moedig oop gesprekke aan oor stres, angs en die belangrikheid van hulp vra – of dit nou by ʼn vriend, berader of ’n studentediens is.
4. Bevorder kritiese denke en nuuskierigheid
Universiteit gaan nie net oor feite leer nie – dit gaan oor vrae vra, dinge bevraagteken, en die ontdek van nuwe maniere om te dink. Moenie wag tot universiteit begin voordat jy hierdie vaardighede kweek nie.
Begin nou reeds deur gesinsgesprekke interessanter te maak: vra opinies, daag aannames uit, en moedig verskillende perspektiewe aan. Jy bou nie net intellektuele selfvertroue nie – jy help jou kind leer hoe om hul eie stem te vind. Jy kan selfs so vêr gaan as om jou kind gedurende ʼn vakansie saam met jou werk toe te neem. Dit gee hulle die geleentheid om nuwe mense te ontmoet en ook ʼn bietjie van die grootmenswêreld te sien.
5. Laat hulle toe om te ontdek wie hulle is
Ons wil almal ons kinders beskerm teen die wêreld en hulle weghou van die negatiewe dinge om ons, maar soms is dit nodig dat hulle dit self ervaar. Ons wil almal hê ons kinders moet suksesvol wees, maar soms dwing ons hulle op paaie wat nie vir hulle bedoel is nie. Voordat jy druk op hulle plaas om regte of ingenieurswese te studeer, vra eers: Wat dryf jou kind? Waar lê hulle passie?
Help hulle om verskillende beroepsrigtings, stokperdjies en leerstyle te verken. Moenie bang wees as hulle iets onverwags kies nie – sukses lê dikwels nie op die hoofpad nie, maar op die een wat min betree word.
Jy is steeds hulle anker.
Selfs al is jou kind op ’n ander dorp, in ’n ander fase van hulle lewe, bly jy hulle veilige hawe. Jou rol verander, maar jy verdwyn nooit. Wees beskikbaar, ondersteunend en bereid om ook saam met hulle te leer.
Die wêreld buite die klaskamer kan rof wees, maar met die regte voorbereiding, ʼn oop gemoed en ʼn stewige anker, is jou kind nie net gereed vir universiteit nie, maar ook vir die lewe.
Moedig ook jou kind aan om by Solidariteit se Studentelewegroep aan te sluit – ʼn gratis voordeel wat Solidariteit aan studente bied juis om die uitdagings van universiteitslewe met grasie aan te pak. Hierdie groep bied praktiese hulp met uitdagings en kan nuwe deure vir jou kind ontsluit.
Waar kan ʼn mens betrokke raak? Klik hier en skep ʼn gratis profiel op Solidariteit en raak deel van jou grootste Afrikaanse werkgemeenskap.