
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Boeliery in die werkplek
Deur Nico Strydom
Jong mense wat vir die eerste keer begin werk, loop moontlik ʼn groter risiko om afknouery of boeliery in die werkplek te ervaar weens hul onervarenheid en kwesbaarheid.
Wanneer jy by jou eerste werk begin, is jy nie noodwendig bewus van al die werkplekbeleide en -prosedures nie en uiteraard ook nie ervare soos jou kollegas nie. Dit beteken jy kan jouself dalk makliker in ʼn situasie van magsmisbruik bevind en minder waarskynlik wees om die boeliegedrag aan te meld uit vrees om geviktimiseer te word of selfs jou werk te verloor. As jong mens in jou eerste werk is jy moontlik ook nog nie bewus van jou regte of waar om bystand te soek nie.
Boeliery in die werkplek kan verskillende vorme aanneem, naamlik verbale kritiek, intimidasie, persoonlike aanvalle, vernedering, verkleinering en uitsluiting. Dit sluit onder meer in om iemand konstant te beledig, te dwing om iets te doen wat hulle nie wil doen nie, gerugte oor iemand te versprei, iemand in die verleentheid te stel of iemand te dreig.
Daar kan ernstige gevolge wees vir ʼn persoon wat in die werkplek geboelie word. Lees meer hier oor ‘n onlangse saak wat Solidariteit namens ‘n lid hanteer het wat van oneerlikheid beskuldig was. Dit sluit onder meer in ʼn gebrek aan selfvertroue, depressie en swak geestesgesondheid, ʼn verlies aan motivering of dryfkrag en fisiese ongesteldheid.
Boeliery kan dus ook baie negatief wees vir ʼn persoon se loopbaan. Werkers wat geboelie word kan waarskynlik nie hul werk na die beste van hul vermoë verrig nie aangesien dit kan lei tot ʼn onvermoë om te werk of te konsentreer en laer produktiwiteit. Dit kan ook die hele werkplek beïnvloed deur ʼn vyandige werkomgewing te skep, wat afwesigheid bevorder en produktiwiteit verminder.
Wanneer jy in die werkplek geboelie word, kan dit tot ʼn gevoel van magteloosheid lei aangesien jy dalk voel daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Jy het dalk al probeer om die boelie te konfronteer en is jy gedreig of daar is vir jou gesê dat niemand jou sal glo nie.
Daar is egter iets wat jy daaraan kan doen. Dit is belangrik om jou boelie te laat verstaan dat hul gedrag nie aanvaarbaar is nie en dat jy dit nie net gaan duld nie en tot aksie sal oorgaan indien dit voortduur. Indien die boeliery voortduur, kan dit help om dit te dokumenteer sodat jy die nodige bewyse het wanneer jy dit rapporteer.
Indien jy nie daarin kan slaag om self teen die boeliery op te tree nie, is dit nodig om jou werkgewer daaroor in te lig sodat daar prosesse gevolg kan word in dié verband. Werkgewers het beleide en prosesse om met hierdie tipe gedrag te handel en dit te beëindig.