
Foto Krediet: Fabian Blank - Unsplash
Gekopieër
Bonusse – wat jy moet weet
Deur Adele Orton
Dit is altyd lekker om ʼn bonus aan die einde van die jaar te kry en aan die begin van elke Desember word Solidariteit se regsadviseurs met vrae oor werknemers se regte met betrekking tot bonusse gepeper. Ons het dit daarom goedgedink om na die regsbeginsels ten opsigte van bonusse te kyk. Die werklikheid weerspieël egter nie noodwendig goeie nuus nie, aangesien bonusse nie ingevolge ons arbeidswetgewing gereguleer word nie. Dit beteken dat ʼn werknemer nie outomaties op ʼn bonus kan aanspraak maak nie, en dat ʼn bonus as ʼn kontraktuele aangeleentheid omskryf word.
Werknemers sal hul kontrakte dus moet nadertrek en deeglik nagaan om te bepaal of hulle op ʼn bonus geregtig is. Werknemers kan gerus ook die werkgewer se beleid nagaan vir addisionele inligting en voorwaardes en bepalings met betrekking tot die betaling van ʼn bonus. Indien ʼn werknemer se dienskontrak meld dat hy of sy ʼn bonus op ʼn spesifieke tydstip sal ontvang, sal die werkgewer verplig wees om die bonus dienooreenkomstig aan die werknemer te betaal.
Die meeste dienskontrakte bepaal egter dat die betaling van ʼn bonus diskresionêr is en in so ʼn geval kan daar nie outomaties op die betaling van ʼn bonus staatgemaak word nie. Die geskiedenis ten opsigte van die betaling van bonusse is ook belangrik en kan moontlik ʼn verwagting by die werknemer skep dat bonusse betaalbaar is.
Solidariteit verskaf gratis regshulp ten opsigte van beroepsverwante sake wat na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) of die arbeidshof verwys word. Sake oor diskriminasie en onbillike aflegging, asook kontraktuele eise word op meriete aanvaar.
Om met Solidariteit se regspan in kontak te kom, stuur ʼn e-pos na regsdienste@solidariteit.co.za of kontak die Dienssentrum by 0861 25 24 23 vir meer inligting.