loading
Artikels
1 dag gelede
voel-werksoek-soos-n-doodloopstraat-hier-is-hoe-jy-weer-rigting-kan-kry

Foto Krediet: OkayDeer

Voel werksoek soos ʼn doodloopstraat? Hier is hoe jy weer rigting kan kry

Mandy-Michelle Thackwray en Annélize Rood deel hul ervaring met mense wat tans werk soek. Hulle gee praktiese raad oor hoe om met selfvertroue aan te hou soek, selfs wanneer dinge moeilik raak.


Mandy-Michelle Thackwray en Annélize Rood

As jy al vir maande lank aansoek doen vir werk sonder sukses, is jy nie alleen nie. Baie werksoekers voel moedeloos wanneer hulle nie terugvoer kry nie of net nie die regte poste vind nie. By Solidariteit se Werk-afdeling sien ons gereeld dat dit nie altyd jou vermoë is wat jou terughou nie, maar eerder klein foute wat ʼn groot impak het.

Hier is ʼn paar algemene redes waarom jy dalk nie die regte werk kry nie, asook wenke van hoe jy dit kan regstel. Jou werksoekreis is belangrik en jy hoef dit nie alleen aan te durf nie. Met die regte aanpassings en ondersteuning, kan jy jou kanse op sukses verbeter.

Algemene foute wat werksoekers maak

1. ʼn CV wat nie vir die pos aangepas is nie

Een CV werk nie vir elke pos nie. Werkgewers soek spesifieke vaardighede en ervaring wat by hul behoeftes pas. As jou CV te generies is, val dit moontlik tussen die krake deur.

Wenk: Pas jou CV vir elke posaansoek aan. Maak gebruik van sleutelwoorde uit die posadvertensies en beklemtoon relevante ervaring.

2. Swak e-poskommunikasie

ʼn Slordige of onprofessionele e-pos kan daartoe lei dat jou aansoek dadelik afgekeur word. Dit sluit tikfoute, geen onderwerplyn of ʼn onpersoonlike toon in.

Wenk: Hou jou e-posse kort, professioneel en vriendelik. Gebruik ʼn gepaste aanhef en eindig met jou kontakbesonderhede.

3. Geen netwerkbou

Baie poste word gevul deur middel van verwysings of kontakte – nie net deur aanlyn aansoeke nie. As jy nie aktief gebruik maak van jou netwerk nie, staan jy die kans om geleenthede waarvan jy nooit eers hoor nie, te mis.

Wenk: Bou jou netwerk deur deel te word van een van Solidariteit se beroepsnetwerkgroepe. Jy kry toegang tot ander mense in jou beroepsveld, mentorskapsgeleenthede en jy hoor eerste van poste wat dalk nie geadverteer word nie. Maak ook gebruik van mense wat jy reeds ken – jy weet nooit wie jou dalk kan help nie.

4. Onprofessionele aanlyn teenwoordigheid

Werkgewers kyk dikwels na jou aanlyn profiel. As jou sosialemediaplatforms onprofessioneel is, of jy geen sigbare professionele teenwoordigheid het nie, kan dit teen jou tel.

Wenk: Maak seker jou aanlyn beeld weerspieël jou as ʼn professionele persoon. Hou jou platforms netjies en relevant tot jou loopbaan.

5. Jy gee te vinnig op

Werksoek kan uitputtend wees en dit is maklik om moed op te gee as jy nie vinnig enige resultate sien nie. Baie mense gee op net voordat hulle op die punt staan om sukses te behaal.

Wenk: Hou aan probeer – elke poging bring jou nader aan ʼn pos waarin jy sal floreer.

6. Nie doelgerig of aktief genoeg in die proses nie

Sommige werksoekers stuur lukraak aansoeke sonder om te fokus op wat hulle regtig wil hê. Hulle neem nie aktief deel aan die proses nie. Om werk te soek ís werk – dit verg toewyding, tyd, energie en ʼn gefokusde plan.

Wenk: Wees strategies en doelgerig – weet watter tipe werk jy soek en rig jou aansoeke daarvolgens. Stel doelwitte, volg op, netwerk aktief, en hou jou vordering doelgerig dop.

Wat kan jy doen om weer op koers te kom?

  • Hersien jou CV en maak aanpassings elke keer as jy vir ʼn pos aansoek doen.
  • Skryf e-posse met sorg en gee aandag aan detail.
  • Bou en onderhou jou netwerk – sluit aan by Solidariteit se beroepsnetwerke.
  • Maak seker jou aanlyn teenwoordigheid is professioneel en aktief.
  •  Soek doelgerig en moenie tou opgooi nie.
  • Wees aktief – soos genoem, werksoek ís werk.

Hou aan glo in jouself

Werksoek is nie net ʼn praktiese proses nie – dit is ook emosioneel. Dit neem moed, volharding en selfvertroue. Soms voel dit of jy net nie vorentoe beweeg nie.

Dink dus dan aan hierdie aanhaling van Thomas Edison:

“Baie mense gee op net voordat hulle op die punt staan om sukses te behaal.”

Elke aansoek wat jy stuur, elke onderhoud wat jy bywoon, elke fout wat jy regstel – dit bou jou pad vorentoe. Jy leer, groei, en kom nader aan jou doelwit.

Jy is nie alleen nie – elke tree vorentoe bring jou nader aan jou doelwit.

By Solidariteit stap ons saam met jou. Moenie jou eie geleenthede ondermyn nie – leer waar jy kan verbeter, bou moed op, en begin met selfvertroue.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel